SUID-AFRIKAANSE
WYNOESVERSLAG
2019
LAAGSTE IN JARE, MAAR GEHALTE PUIK
Die Suid-Afrikaanse wynbedryf
het in 2019 ʼn rekord lae oes
behaal, grootliks vanweë die
nagevolge van die
voorafgaande droogte en
wisselvallige weerstoestande
gedurende die seisoen.
Wynmakers is egter positief oor
die kwaliteit van vanjaar se oes.
Die 2019 wyndruifoes word op 1 225 620 ton beraam
volgens die mees onlangse beraming van die bedryfs-
liggaam Sawis (Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting & -
Stelsels) op 26 April 2019. Hoewel dit slegs 1.4%
kleiner as verlede jaar is, het die opbrengs vir die
tweede agtereenvolgende jaar gekrimp en is dit die
laagste oes sedert 2005 toe 1 171 632 ton gepars is.
“Dit was ʼn uitdagende jaar vir ons wyndruifprodusente
en kelders. ʼn Afname in die wyndruif-oppervlak en
onreëlmatige weerstoestande het tot die kleiner oes
bygedra,” sê Francois Viljoen, wingerdboukundige
konsultasiediensbestuurder van die bedryfsliggaam
Vinpro, wat 2 500 Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente,
kelders en wynverwante besighede verteenwoordig.
Hoewel die meeste streke goeie reënval geduren-
de die seisoen ontvang het, was die nagevolge
van die voorafgaande drie jaar lange droogte
steeds sigbaar en wingerde en gronde sal tyd
neem om te herstel. “Die na-oesperiode was
steeds droog, wat beteken heelwat produsente
kon nie noodsaaklike na-oesbesproeiing toepas
nie. Blare het dus vroeg geval en wingerde kon
nie die nodige reserwes opbou om hulle deur die
seisoen te dra nie, wat in ruil ʼn effek op korrelset
en -groei gehad het,” sê Viljoen.
Uiterste weerskommelinge gedurende bot en
blom, gevolg deur koel, winderige toestande
gedurende set het tot minder en onegalige trosse
en kleiner korrels bygedra.
“Die 2019-parstyd het uit twee dele bestaan – die eerste maklik met goeie weerstoestande en baie
goeie druifontledings tot en met einde Februarie. Die tweede was moeilik, gekenmerk deur stadige ryp-
wording weens koue, reënerige weer in Maart,” sê Viljoen.
Die Noord-Kaap, Swartland-, Paarl- en Worcester-streke het groter oeste as verlede jaar geproduseer,
maar van ʼn lae basis na groot verliese in 2018. Breedekloof en die Kaap-Suidkus se opbrengste was
ietwat kleiner, in lyn met die gemiddeld. Robertson en Stellenbosch het ook kleiner oeste gerealiseer,
maar die Olifantsrivier- en Klein Karoo-streke is vir die tweede agtereenvolgende jaar die hardste deur
die droogte getref.
Ondanks die kleiner oes, kan wynliefhebbers goeie gehalte wyne van die 2019-oesjaar verwag. Volgens
Viljoen het die kleiner wyndruifkorrels groter geurkonsentrasie. Wyne is ook oor die algemeen
gekenmerk deur goeie suur, suiker en elegansie, wat sprekend is van goeie gehalte.
“Ons het vanjaar weer gesien dat wyndruiwe wat virusvry is en goed bestuur word heelwat beter doen
as ander in terme van beide die opbrengs en gehalte. Ons moedig alle wyndruifprodusente aan om
hierdie voorbeeld te volg,” sê Viljoen.
Die 2019 wynoes – sap en konsentraat vir nie-alkoholiese doeleindes, wyn vir brandewyn en
distilleerwyn ingesluit – sal na verwagting 951.8 miljoen liter beloop, teen ‘n gemiddelde verhaling van
777 liter per ton druiwe.
Suid-Afrika is die agtste grootste wynprodusent ter wêreld en produseer ongeveer 4% van die wêreld se
wyn. Die wynbedryf dra sowat R36 miljard tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) by en het
nagenoeg 290 000 mense in diens.
2018/19 GROEISEISOENDie winter het laat aangebreek met goeie reënval na ʼn droër as normale na-oesperiode in herfs.
Ondanks die goeie reënval, het warmer as normale temperature – veral ʼn aantal warm dae in Julie –
aanvanklik tot die opbou van min koue-eenhede gelei, wat in ruil tot vroeë en ongelyke bot in sekere
wingerde bygedra het. Die koue weer in Augustus het uitbot weer vertraag.
Lente is gekenmerk deur groot weerskommelinge, wat tot kleiner, losser en ongelyke trosse, asook
kleiner korrels aanleiding gegee het. Wingerde was stadig uit die blokke en groei onreëlmatig weens ʼn
afwisseling tussen warm en koue dae, asook koue grondtemperature.
ʼn Hittegolf aan die einde van Oktober is deur koue, winderige toestande gedurende die blom- en
setperiode van heelwat wingerde gevolg. Dit het tot ongelykheid in trosse en korrels tussen wingerde in
dieselfde blok en selfs op dieselfde wingerdstok gelei. Gereelde reënbuie in hierdie tyd het daartoe gelei
dat produsente hard moes werk om siektes soos donsskimmel te beheer, wat in sommige gevalle tot
oesverliese bygedra het.
Francois Viljoen, bestuurder van Vinpro se
wingerdboukundige konsultasiediens.
2
Weerstoestande het met die aanvang van somer verbeter. Hoewel warmer weer in November wingerde
goed laat groei het, kon die korrelontwikkeling nie heeltemal opvang nie. Temperature was matig
gedurende Desember en Januarie, gevolg deur warm weer aan die begin van Februarie, soos verwag.
Parstyd het ʼn bietjie later as gewoonlik afgeskop, met warm weer soos gesien kan word aan die
aanvanklike druifontledings. Parstyd het egter moeiliker geraak namate koel, nat toestande van die
einde van Februarie en gedurende Maart oorheers het. Heelwat kultivars wat later in die seisoen ryp
word, veral die rooi variëteite, het gesukkel om suiker op te bou en was teen laer suikervlakke reeds ryp.
OORSIG VAN DIE STREKEBREEDEKLOOF: ʼn Oes soortgelyk aan 2018, ondanks ʼn moeilike parstyd en ongelykheid wat dit
moeilik gemaak het om rypheid te bepaal.
KAAP-SUIDKUS: ʼn Kleiner, maar uitsonderlike gehalte oes, aangesien hierdie streek tot ʼn mindere
mate deur die droogte geraak is.
KLEIN KAROO: ʼn Baie uitdagende seisoen, met selfs laer opbrengste as die vorige twee jaar vanweë
die voortslepende droogte en haelskade in sommige gebiede.
NOORD-KAAP: ʼn Geseënde 2019-seisoen, met hoër opbrengste per hektaar en belowende gehalte.
OLIFANTSRIVIER: ʼn Tweede agtereenvolgende kleiner oes na ʼn rekord lae oes in 2018, weens die
nagevolge van die droogte.
PAARL: ʼn Ietwat groter oes, maar van ʼn lae basis na ʼn heelwat kleiner 2018-oes, weens die
voorafgaande droogte en weerskommelinge.
ROBERTSON: ʼn Moeilike seisoen het tot ʼn groot afname in produksie gelei, vir die tweede
agtereenvolgende jaar. Gehalte lyk goed.
STELLENBOSCH: Ondanks goeie reënval is die streek steeds deur die voorafgaande droogte
beïnvloed, en is ʼn heelwat kleiner oes vir die tweede jaar ingeneem.
SWARTLAND: Groter as ʼn baie klein 2018-wyndruifoes en die gehalte lyk belowend.
WORCESTER: ʼn Verbasend groter wyndruifoes na ʼn kleiner 2018-oes, met goeie gehalte wyne op pad.
UITGEREIK: 6 Mei 2019, deur Vinpro,
in samewerking met
Sawis (Suid-Afrikaanse
Wynbedryfinligting & -Stelsels)
MEDIANAVRAE: Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
E-pos: [email protected]
3
STREEKSOORSIGHiermee volg ’n oorsig deur Vinpro se wingerdboukundige konsultante van die seisoen en wynoesgrootte en -gehalte van tien Suid-Afrikaanse wyndruif-verbouingstreke.
BREEDEKLOOFOORSIG
“Die Breedekloof behaal ʼn wyndruifoes soortgelyk aan die 2018-oes ondanks ʼn moeilike parsseisoen en
onegaligheid wat dit uitdagend gemaak het om rypheid te bepaal,” sê Pierre Snyman, Vinpro-
wingerdboukundige vir die Breedekloofstreek.
Die seisoen is gekenmerk aan ʼn buitengewone hittegolf gedurende blomtyd, groot rypheidsverskille in
wingerde en op dieselfde stokke en reën in Maart wat siektedruk verhoog het. Hierteenoor was die
rypwordingsperiode relatief gematig en die kleur van die rooi druiwe lyk buitengewoon mooi.
PRODUKSIETENDENSE
Vroeë kultivars was vanjaar baie ligter in drag as in 2018, veral Sauvignon Blanc, Nouvelle en Pinotage.
Die latere Chenin Blanc en Colombar het egter mooi opgemaak hiervoor. Merlot het vanjaar spesifiek
gesukkel om gewenste suikervlakke te bereik en is redelik teen die einde van parstyd afgehaal.
KLIMAATSTOESTANDE
Al het die eerste winterreënval vroeg voorgekom, was die na-oesperiode ongunstig en uiters droog. Die
reserwe-opbou was nie ideaal nie, en dit was moeilik om na-oesbemesting toe te dien vanweë beperkte
watervoorrade. Produsente wat van bergwater afhanklik is, het veral probleme hiermee ervaar.
Winterreënval het goed afgeskop, tesame met voldoende sneeuneerslae om goeie koue-eenhede in
hierdie tydperk op te bou. Uitbot was onegaliger as gewoonlik, en hierdie onegaligheid het regdeur die
seisoen tot parstyd voortgeduur.
Wingerdgroei het aanvanklik stadig weggetrek, waarskynlik weens groot temperatuurskommelinge en
koue grondtemperature regdeur die groeiseisoen. Die wingerde het na die blomperiode sterk begin groei,
wat tot geil lowers gelei het en tydige lowerbestuursaksies bemoeilik het. Die meeste kultivars is verder
ook midde-in hul blomperiode in Oktober deur ʼn hittegolf getref, wat agt dae geduur het teen ʼn
gemiddelde maksimumtemperatuur van 36 °C en twee dae was warmer as 40 °C. Daar word vermoed
dat hierdie hittegolf die oorsaak van laer produksies in sekere kultivars was.
Die bedryf was versigtig optimisties oor die oesverwagting, aangesien die losser trosse en effe klein
korrels opmerklik was.
4
Temperature was relatief gematig gedurende die rypwordingsperiode en parsseisoen. Parstyd het sewe
tot tien dae later as in 2018 afgeskop, en dit was gou duidelik dat daar groot onegaligheid in rypwording
tussen blokke, rye, stokke en selfs op dieselfde trosse was.
Temperature was relatief gematig gedurende die rypwordingsperiode en parsseisoen. Parstyd het sewe
tot tien dae later as in 2018 afgeskop, en dit was gou duidelik dat daar groot onegaligheid in rypwording
tussen blokke, rye, stokke en selfs op dieselfde trosse was.
Hierdie was sekerlik een van die moeilikste seisoene om die rypheid van wingerde akkuraat vir
parsdoeleindes te bepaal. Kultivars is baie deurmekaar gepars teenoor die norm. Rooi wyndruifkultivars
het veral reeds by laer suikervlakke fisiologiese rypheid bereik.
ALGEMENE OPMERKINGS
Die Breedekloof het ʼn gesonde jaar ervaar, met die uitsondering van vroeë herfsreën in Maart (± 20
mm) wat botritisprobleme veroorsaak het. Watervoorrade het beter daaruit gesien as vorige jare en was
oor die algemeen nie ʼn beperkende faktor nie. Die Brandvleidam is tans 25% vol vergeleke met 12% in
2018.
DRUIF- EN WYNGEHALTE
Die kleur van die rooi wyndruiwe was besonder goed, danksy temperatuurverskille en goeie
blaarbreekpraktyke.
– Pierre Snyman, 083 455 5191, [email protected]
KAAP SUIDKUSOORSIG
“Kelders in die Kaap Suidkusstreek het vanjaar ʼn kleiner, maar uitstekende gehalte wyndruifoes
ingeneem,” sê Etienne Terblanche, Vinpro-wingerdboukundige vir die Kaap Suidkusstreek.
Onreëlmatige temperature van winter tot blom en set, en koel groeitoestande saam met stormsterkte
winde het groot variasie en ʼn afname in produksie tot gevolg gehad. Hoë suiker- en suurvlakke weens
koeler rypwordingstoestande dra daartoe by dat uitstekende wyngehalte van die 2019-oes verwag word.
PRODUKSIETENDENSE
Die Kaap Suidkusstreek het vanjaar ʼn kleiner oes as in 2018 gerealiseer. Aangesien die streek oor die
algemeen beter as ander streke gevaar het in die voorafgaande droogte, was produksie vanjaar
onderhewig aan toestande gedurende hierdie seisoen.
5
Produsente wat hul snoeitegnieke aangepas het in reaksie tot lae oogvrugbaarheid in vorige seisoene
het beter gevaar, asook diegene wat na-oes swambespuiting, -besproeiing en bemesting toegedien het.
Vertraagde bot in vroeë kultivars soos Chardonnay en Pinot Noir het egter ʼn massiewe effek op
produksie gehad, tesame met wisselvallige weersomstandighede tydens blom en set. Chardonnay, Pinot
Noir en Sauvignon Blanc het oor die algemeen laer produksies as verwag behaal, terwyl middel en laat
kultivars gemiddelde tot goeie produksies getoon het.
KLIMAATSTOESTANDE
In die algemeen was die groeiseisoen gekenmerk deur groot variasie in vegetatiewe groei, hoofsaaklik
vanweë ʼn warm winter, ongelyke bot en beskikbaarheid van plantreserwes.
Blaarval was die laatste van al die streke weens ʼn koel na-oesperiode, wat ʼn positiewe effek op reserwe-
opbou gehad het. In dele soos Botrivier waar die grondvog en beskikbare besproeiingswater beperk was
na oes, het blaarval vroeër voorgekom en kon reserwe-opbou nie optimaal plaasvind nie.
In Elgin is genoeg koue-eenhede in die vroeë winter opgebou vir die opheffing van dormansie, maar in
kusgebiede soos Elim en die Hemel-en-Aardevallei was daar tekorte.
Winterreënval het herstel na ʼn drie jaar lange droogte, wat grondprofiele goed versadig het. Ondanks
optimale lae grondtemperature was die winter uitermatig warm en winderig. Vier warm periodes met
dagtemperature bo 22˚C het in Junie en Julie voorgekom, wat die opbou van koue-eenhede in die
kusgebiede bemoeilik het en tot voortydige uitbot gelei het. Hierdie verskynsel was veral opvallend in
vroeë kultivars soos Chardonnay en Pinot Noir en winderige toestande van tot 70 km/h kon ontluikende
oë verder beskadig. Middel tot laat kultivars het dit egter vrygespring.
Vroeë kultivars het soos verwag heelwat vroeër as normaal begin bot, teenoor die middel tot laat
kultivars wat weens ʼn relatief koel en nat lente laat gebot het. Hierdie koel, nat weer het ook tot
vertraagde aanvanklike lootgroei en ongelyke lootlengtes gelei wat lank nog in die wingerd teenwoordig
was. By wingerde soos Chardonnay en Pinot Noir waar rusbreekmiddels nie toegedien is nie, is
uitermatige variasie in botdatums van individuele oë op dieselfde stok waargeneem.
Lentereënval was laer as gewoonlik, maar wingerde het min waterspanning ervaar danksy goeie
winterreën. Onreëlmatige weersomstandighede het ʼn negatiewe uitwerking op blom en set gehad, en
verklaar groot variasie tussen blokke. Einde Oktober was ongewoon warm, gevolg deur besonderse koel
weer. In hierdie tyd is rukwinde van tot 75 km/h in die Elgin- en Grabouw-omgewings gemeet.
Gereelde reënbuie en koel omstandighede verder in die groeiseisoen het ʼn positiewe effek op
vegetatiewe groei gehad. Lowers het heelwat beter as die vorige twee jaar vertoon. Lootgroei het ook
tydig gestaak by deurslaan in gevalle waar besproeiing aangepas is na gelang van die beskikbare
grondvog.
Gereelde ligte reënbuie en relatief koel dag- en nagtemperature was algemeen in die aanloop tot
parstyd. Met die uitsondering van ʼn paar matige tot warm periodes in Februarie, was Januarie tot einde
Maart koeler as normaal, dus goeie koelklimaat rypwordingsomstandighede.
6
Die stadium van rypwording het egter drasties tussen trosse verskil. Vroeë kultivars is vroeër as
gewoonlik gepars, moontlik weens laer oesladings. Rypwording is egter taamlik vertraag teen die einde
van pars, weens koeler temperature.
ALGEMENE OPMERKINGS
Siektedruk was oor die algemeen baie hoog weens gereelde koel en nat omstandighede, wat ʼn groot
effek op die oesgrootte gehad het.
Witroes het veral vroeër as normaal voorgekom, aangehelp deur lae temperature en vertraagde
aanvanklike groei en hoë relatiewe humiditeit het donsskimmel laat opvlam. Produsente wat nie hul
spuitprogram hierby aangepas het nie, het effektiewe lower verloor en aan oesverliese gely weens die
verwelking van blomtrosse.
Die voorkoms van botritisvrot was nie hoër as normaal nie, danksy relatief losgesette trosse en klein
korrels wat deurlugting verbeter het.
Brande in die Grabouw-, Elgin- en Hermanus-omgewings het beperkte skade aan wingerde aangebring.
Voëls en bobbejane het egter groter skade as gewoonlik aangerig weens die afwesigheid van veldkos.
DRUIF- EN WYNGEHALTE
Die Kaap Suidkusstreek verwag uitstekende wyngehalte ondanks die seisoen se uitdagings.
Vroeë kultivars toon oor die algemeen hoër suiker- en suurvlakke, ʼn aanduiding van gebalanseerde
wyne. Appelsure is hoër as normaal, wat verband kan hou met koel toestande, laer oesgroottes en goeie
suikerlading ten spyte van die koeler toestande. Rooiwyne het goeie kleur en goeie fenoliese rypheid
behaal, met elegante struktuur en goeie suiker- en suurvlakke.
– Etienne Terblanche, 072 402 7434, [email protected]
KLEIN KAROO
OORSIG
“Die Klein Karoo het ʼn uitdagende jaar agter die rug,” sê Hennie Visser, Vinpro-wingerdboukundige vir
die Klein Karoo-streek. “Produksies is in die geheel laer as die vorige twee jaar se opbrengste, vanweë
die voortslepende droogte en haelskade wat plek-plek voorgekom het.”
PRODUKSIETENDENSE
Die Klein Karoo het ʼn kleiner oes as in 2018 gerealiseer, wat alreeds heelwat kleiner as die vorige jaar
was. Die streek het vir die vierde agtereenvolgende jaar onder ʼn voortslepende droogte gebuk gegaan.
7
Hoewel die produsente wat skemawater ontvang vanjaar meer water beskikbaar gehad het vir
besproeiing, het die droogte steeds ʼn effek op produksies gehad. Die lae reënval lei daartoe dat ʼn
braksimptome ook toenemend opgemerk word weens die opbou van soute in die grond.
KLIMAATSTOESTANDE
Na die 2018-oes het die wingerde se blare vroeër as normaalweg geval vanweë die droogte en
onvoldoende besproeiingswater. Swakker reserwe-opbou is dus verwag.
Die droë weer het tot in die winter voortgeduur en die streek het vir die vierde agtereenvolgende jaar laer
as normale reënval ontvang, veral in die Ladismith-, Calitzdorp- en Barrydale-omgewings. Julie was
heelwat warmer as normaal, gevolg deur ʼn koeler as normale Augustus. Winterkoue was voldoende om
dormansie op te hef.
In die Montagu-omgewing het wingerde op die normale tyd, en teen verwagting, goed en egalig gebot.
Wingerde het goed gebot ondanks die lae reënval, vroeë blaarval en moontlike lae reserwe-opbou. In
ander gedeeltes van die Klein Karoo was die bot wisselvallig as gevolg van lae reserwe-opbou, weens ʼn
droogte oor die afgelope paar jaar.
Die droë weer het in die lente voortgeduur, maar goeie reënval is op plekke in September gemeet.
Die eerste druiwe was effens vroeër ryp, maar suiker-akkumulasie het vertraag soos die seisoen verloop
het. Vanweë die kleiner oes was daar nie baie druk op kelderspasie nie, en parstyd het glad verloop.
ALGEMENE OPMERKINGS
Danksy die lae reënval in die streek was die siektedruk en voorkoms van witroes laag. Witroes het wel
later in die seisoen voorgekom, wat tot vertraagde rypwording bygedra het.
Reën het in Februarie in sekere gedeeltes van die Klein Karoo voorgekom, met gevolglike vrot, veral by
Chenin Blanc. ʼn Groot donderbui in die Montagu-omgewing in Maart het ernstige haelskade plek-plek en
gevolglike vrot bygedra het, met ʼn negatiewe effek op die totale opbrengs.
DRUIF- EN WYNGEHALTE
Die witwyne het mooi vars geure en gehalte lyk op hierdie stadium belowend, met goeie suur- en pH-
ontledings. Sure was laag na gisting.
– Hennie Visser, 083 455 5193, [email protected]
8
NOORD-KAAPOORSIG
“Die Noord-Kaap het ʼn goeie en geseënde 2019-seisoen beleef, met goeie opbrengs per hektaar en
belowende gehalte,” sê Henning Burger, wingerdboukundige by Oranjerivier Kelders.
PRODUKSIETENDENSE
Hoewel daar aanvanklik verwag is dat die 2019-wyndruifoes dieselfde grootte as in 2018 sou wees, is ʼn
groter oes uiteindelik by Oranjerivier Kelders ingeneem. Alle wyndruifkultivars het hoër opbrengste per
hektaar behaal as in 2018 teen ʼn gemiddeld van ongeveer 35 ton/ha. Colombar en Chenin Blanc het
veral goed presteer. Veral Colombar het uitsonderlik presteer.
KLIMAATSTOESTANDE
Baie lae temperature het van einde Augustus tot middel September geheers weens sterk, gereelde
kouefronte en gepaardgaande sneeu. Dit het daartoe bygedra dat wingerde tien tot 14 dae later as
normaalweg, in die derde week van September, begin uitbot het. Wingerde het rypskade in die eerste
helfte van September vrygespring, ʼn tyd waarin nagtemperature gereeld tot onder vriespunt gedaal het.
Lente was droog en bot aanvanklik effens onegalig, maar dit het verbeter namate weerstoestande in die
eerste helfte van Oktober begin opwarm het. ʼn Hittegolf en baie sterk, droë winde het in die laaste week
van Oktober voorgekom, ʼn tyd waarin heelwat wyndruifkultivars in die middel van blom was, wat beslis ʼn
nadelige effek op set gehad het. Hierdie uiterste toestande was ook nadelig vir die groei van jong
wingerde wat in Augustus aangeplant is.
Die hittegolf is deur baie koel dag- en nagtemperature gevolg, en hierdie uiterste toestande het
wingerdstokke benadeel tydens die belangrike blom- en setperiode. Trostellings was egter steeds hoër
as normaal en set oor die algemeen goed.
Geen noemenswaardige reën het in die vroeë somer voorgekom nie. Wingerde was deurgaans gesond
en groeikragtig. Pars het tien tot 14 dae later afgeskop as in 2018, en meeste wyndruiwe is oor ʼn relatief
kort, druk tydperk van die derde week in Februarie tot die derde week in Maart gepars.
ALGEMENE OPMERKINGS
Wingerde was deurgaans gesond en groeikragtig danksy die afwesigheid van reën en geen voorkoms
van uitermatige hittegolwe in die voor- en na-oesperiodes nie. Druiwe-innames was ook gesond regdeur
parstyd. Die Noord-Kaap het ook geen watertekort ervaar nie, aangesien die damme in die Oranje-Vaal
sisteem meer as 70% vol was.
DRUIF- EN WYNGEHALTE
Druifgehalte was uitstekend met goeie sure en laer as normale pH’s. Mooi gebalanseerde wyne word
verwag danksy gesonde druiwe wat onder goeie, meer gematigde klimaatstoestande geproduseer is.
– Henning Burger, 082 824 4941, [email protected]
9
OLIFANTSRIVIER
OORSIG
“Wyndruifprodusente in die Olifantsrivierstreek het vanjaar weer ʼn baie uitdagende seisoen ervaar,
weens ʼn oordrageffek van die vorige drie jaar se droogte,” sê Gert Engelbrecht, Vinpro-
wingerdboukundige vir die Olifantsrivierstreek.
Die streek het uiters lae opbrengste by sekere kultivars gerealiseer en die oes was oor die algemeen
effens kleiner as die baie lae oes in 2018. Wingerde het egter beter deur die seisoen gekom danksy
meer beskikbare water vir besproeiing na oes en in die vroeë winter, wat hopelik verdere herstel in die
komende seisoen sal aanhelp.
“Die wyne lyk baie belowend danksy koeler rypwordingstoestande met baie min hittepieke,” sê Gert.
PRODUKSIETENDENSE
Die 2019-oes is effens kleiner as die baie klein oes van 2018. Hoewel daar vanjaar meer water
beskikbaar was, het ʼn oordrageffek van droë toestande gedurende die vorige seisoen en ʼn droë 2018-
groeiseisoen tot die kleiner oes bygedra. Swak set by veral die rooi kultivars het ook hiertoe bygedra.
Sauvignon Blanc, Pinotage, Merlot, Shiraz en Cabernet Sauvignon het veral baie lae oesgewigte
gerealiseer. Dit was ook algemeen om rooi blokke met uiters lae produksies van onder 5t/ha waar te
neem.
KLIMAATSTOESTANDE
Die na-oesperiode was sekerlik die droogste sedert die bestaan van die kanaalskema. Watervoorsiening
aan produsente het in die eerste week van Maart gestop. Die droë gronde het vroeë blaarval tot gevolg
gehad en herbot van wingerde was ʼn algemene verskynsel. Temperature was gelukkig effens koeler as
die langtermyngemiddeld.
Winterreënval het middel Mei afgeskop, maar was ongeveer 25% onder die gemiddeld. Na die eerste
reën het wingerde begin bot en baie warm, winderige weer vanaf Julie het veroorsaak dat dit aanhou bot
en groei het. Die opbou van koue-eenhede was gevolglik minder as normaal.
Koue weer in Augustus en September het wingerde uiteindelik tot rus gebring en gevolglik het meeste
van die kultivars baie laat gebot na stompsnoei. Behalwe vir die laat bot, was dit ook baie ongelyk by
meeste van die wingerde.
Die blom- en setperiode is gekenmerk deur ʼn hittegolf in die derde week van Oktober, tesame met baie
sterk oostewinde wat ernstige nagevolge vir kultivars soos Cabernet Sauvignon en Merlot ingehou het.
Blom en set was ook baie ongelyk vanweë ongelyke bot en groei in die eerste deel van die seisoen.
10
Wingerde het goed gegroei gedurende die groeiseisoen weens matige weerstoestande. Lootgroei was
beter as die vorige rekord droë seisoen en die lowers was digter. November tot Januarie was effens
koeler as normaal met geen hittegolwe nie, en baie min ure bo 35˚C.
Die matige weer het in Februarie en Maart voortgeduur, en Maartmaand was veral aansienlik koeler as
die langtermyngemiddeld. Parstyd het sowat ʼn week vroeër as normaal afgeskop, maar sekere rooi
kultivars soos Merlot is baie laat gepars.
ALGEMENE OPMERKINGS
Witroes en donsskimmel was sterk aanwesig die seisoen weens gereelde reënbuie en die feit dat
produsente wat op spuitkostes probeer spaar het. Digter lowers en gereelde oggendmis het ook
probleme met vrot tot gevolg gehad, veral in die later deel van die seisoen.
DRUIF- EN WYNGEHALTE
Sapontledings het oor die algemeen hoë sure en baie lae pH’s getoon, veral by die wit kultivars. Die
suikervlakke was ook oor die algemeen laer by beide wit en rooi kultivars.
Op hierdie stadium lyk die gehalte van die Sauvignon Blanc en Chenin Blanc belowend, met goeie
natuurlike suurinhoud wat die houvermoë en varsheid van wyne sal verbeter. Alkoholvlakke is oor die
algemeen laer in beide die wit- en rooiwyne.
– Gert Engelbrecht, 072 152 4028, [email protected]
PAARL
OORSIG
Die Paarlstreek het ʼn effens groter, maar steeds klein oes gerealiseer, sê Hanno van Schalkwyk, Vinpro-
wingerdboukundige vir die Paarlstreek. Hoewel die streek meer beskikbare water as die vorige jaar
gehad het, het die nagevolge van die vorige drie jaar se droogte, tesame met wisselende
weerstoestande ʼn negatiewe effek op die oes gehad.
ʼn Koel lente het tot ongelykheid tussen korrels en trosse gelei, maar die koeler weer aan die begin van
parstyd het weer in ruil tot baie goeie gehalte aanleiding gegee, soos gesien aan uitstekende geur in
veral wit kultivars en mooi kleurvorming en sagte tanniene in die rooi kultivars.
PRODUKSIETENDENSE
Die winterreënval was baie goed en watervoorsiening baie beter as die vorige drie droogtegeteisterde
jare. Die droogte van veral die vorige seisoen het egter steeds ’n uitwerking op die oes gehad en daar
11
was minder trosse aan die stokke. In geheel is die oes effens groter as in 2018, maar steeds klein
gegewe die groot afname in die 2018-oes.
Sauvignon Blanc-produksies was baie ligter, terwyl Chenin Blanc en Pinotage groter opbrengste gelewer
het. Chardonnay en Cabernet Sauvignon het aanvanklik baie goed daaruit gesien, maar swak set het tot
losser trosse aanleiding gegee.
KLIMAATSTOESTANDE
Die na-oesperiode was baie droog en daar was weinig water vir besproeiing beskikbaar, aangesien
produsente slegs tot einde Februarie water uit die Bergrivier-besproeiingskema kon onttrek. Dit het ’n
negatiewe impak op wortelgroei, reserwe-opbou en die uiteindelike oes gehad. April en Mei was relatief
koel en blare het redelik lank bly sit. Produsente kon ook vir die eerste maal in jare hul dekgewasse op ’n
vroeë stadium vestig nadat vroeë herfsreën geval het.
Goeie reënval het vanaf middel Mei tot einde Junie voorgekom, en die koue was in hierdie tyd voldoende
om aan die wingerd se behoeftes te voorsien. Reënval was baie laag in Julie, tesame met baie hoë dag-
en nagtemperature. Augustus en September het beter reënvalsyfers opgelewer, wat die groot opgaar-
en plaasdamme goed opgevul het. Die dekgewasse het baie goeie materiaal gegenereer.
Baie warm weer aan die einde van Julie het daartoe gelei dat heelwat wingerde vroeg begin bot het.
Chardonnay, Shiraz en Cinsaut het onegalig uitgebot weens wisselvallige weerstoestande gedurende
September, gekenmerk deur gereelde koue periodes. Voortdurende koue en nat toestande het verder
veroorsaak dat lootgroei baie stadig ontwikkel het. Weens lae grondtemperature was wortels nie baie
aktief nie en het blare oor die algemeen gelerig vertoon. Die wingerde het egter vinniger begin groei
namate temperature teen die einde van September begin opwarm het.
Stormwinde wat met ’n kouefront middel Oktober gepaardgegaan het, het skade aan hoërliggende
wingerde aangerig. Die wind, asook uiters hoë temperature teen die einde van Oktober, het swak set en
afspeen by verskeie Cabernet Sauvignon-wingerde veroorsaak. Na die setperiode het groot
onegaligheid in veral Chardonnay, Shiraz en Cinsaut na vore gekom.
Januarie was oor die algemeen koel en parstyd het op die normale tyd begin. ’n Baie warm periode aan
die einde van Januarie het parsaktiwiteite versnel, maar daarna het temperature baie gewissel en die
parstempo weer afgeplat. Gereelde reënbuie en koeler weer aan die einde van Februarie het daartoe
gelei dat heelwat druiwe baie stadig suiker opgetel het en by laer suikervlakke ryp was. Ongelykheid in
tros- en korrelontwikkeling is by heelwat Cabernet Sauvignon-, Shiraz- en Cinsaut-blokke gevind.
ALGEMENE OPMERKINGS
Donsskimmel en streepvlek is sporadies waargeneem in die lente waar produsente eers na 10 cm
lootlengte begin spuit het. Die meeste produsente het teen middel Desember die laaste voorkomende
swamspuite toegedien en die reën teen die einde van daardie maand het donsskimmelinfeksie op jong
blare veroorsaak.
12
DRUIF- EN WYNGEHALTE
Druifontledings was aan die begin van die pars baie goed, maar die pH’s het in die tweede helfte van die
pars skielik verhoog. Titreerbare sure was baie hoog, omdat appelsuur weens die relatief koel weer
behoue gebly het. Druiwe se kleurontwikkeling was goed en tanniene sag. Op hierdie stadium word baie
goeie wyngehalte verwag, veral in die Sauvignon Blanc, Chenin Blanc en Pinotage.
– Hanno van Schalkwyk, 083 455 5192, [email protected]
ROBERTSONOORSIG
“ʼn Uitdagende seisoen lei tot ʼn heelwat kleiner, maar verbasend goeie gehalte wyndruifoes,” sê Hennie
Visser, Vinpro-wingerdboukundige vir die Robertsonstreek.
Hoewel die streek meer beskikbare besproeiingswater gehad het en minder rypskade as die vorige jaar,
het wisselvallige weerstoestande, die oordrageffek van die vorige jare se droogte en wingerduitkappings
tot ʼn kleiner oes aanleiding gegee.
PRODUKSIETENDENSE
Die Robertsonstreek het in die geheel ʼn heelwat kleiner oes as in 2018 gerealiseer. Hierdie afname word
toegeskryf aan swak set in sommige gevalle, probleme met brak gronde weens die vorige jare se
droogte, wingerde wat nie voldoende besproeiing en/of bemesting kon ontvang nie, asook die feit dat
meer wingerde oor tyd uitgekap as aangeplant is.
Die 2019 oesjaar sal onthou word as ’n jaar met twee helftes – die eerste gedeelte vroeg en gesond met
goeie ontledings, en die tweede gedeelte laat met hoë siektedruk en druiwe wat sukkel om ryp te word.
Die muskaatkultivars en Colombar het goeie produksies gelewer. Aan die ander kant het Chardonnay,
Cabernet Sauvignon en Shiraz kleiner opbrengste gerealiseer, en Sauvignon Blanc en Pinotage het
veral baie swak oeste gehad. Normale sapverhalings word verwag.
KLIMAATSTOESTANDE
Wingerdblare het in die na-oesperiode vroeër as normaal geval weens laer reënval en onvoldoende
water vir na-oesbesproeiing, wat in ruil tot swakker reserwe-opbou bygedra het.
Die streek het baie goeie winterreënval ontvang, feitlik dieselfde as die langtermyngemiddeld. Junie en
Julie se dagtemperature was heelwat hoër as normaal, gevolg deur ʼn effens koeler Augustus.
Nagtemperature was deurgaans laer as normaal. Ondanks die warmer weer aan die begin van die winter
was die winterkoue voldoende vir die opheffing van dormansie.
13
Die eerste wingerde het vanjaar baie vroeg gebot – in sommige gevalle selfs tien tot 14 dae vroeër as
normaal – maar uitbot was swak en onegalig. In Augustus het koue en sneeu uitbot vertraag, en bot was
goed en egalig in wingerde wat na hierdie koue begin bot het. Aanvanklike lootgroei was stadig en blare
was geel vanweë gereelde koue periodes en koue grondtemperature.
Temperature was baie wisselvallig in die lente, met gemiddelde reënval. ʼn Weeklange hittegolf aan die
einde van Oktober is gevolg deur rypskade slegs enkele dae later, wat saam met winderige toestande
tydens blom tot wisselvallige en in sommige gevalle uiters swak set in sekere kultivars aanleiding gegee
het.
Aanvanklike groei was stadig weens laat koue en swak reserwe-opbou in die vorige droë seisoen. Groei
was ook minder geil as normaal en het vroeg afgeplat. Somertemperature was normaal, met laer
nagtemperature en sowat 10% hoër reënval as normaal. Altesaam 60 mm reën is in Maart aangeteken,
vier maal meer as die langtermyngemiddeld. Geen hittegolwe is in die rypwordingsperiode aangeteken
nie, met slegs een dag bo 40°C.
In die eerste helfte van die parsseisoen was die wingerde sewe tot 14 dae vroeër ryp as normaal. Soos
die seisoen verloop het, het rypwording egter vertraag, veral na die reën in Maart, en suikerakkumulasie
was ʼn uitdaging in later kultivars. Sommige blokke moes gepars word al was die druiwe nie optimaal ryp
nie.
ALGEMENE OPMERKINGS
Siektedruk was aan die begin van die groeiseisoen laag danksy lae reënval en geen donsskimmel het
voorgekom nie. Daar was wel enkele witroesinfeksies.
Na die hoë reënval in die eerste helfte van Maart het donsskimmelinfeksies, botritis en suurvrot egter
voorgekom, selfs by kultivars soos Cabernet Sauvignon wat nie vrotgevoelig is nie. Daar was ook
sporadiese witluisuitbrake. Rypskade is aan die einde van Oktober aangeteken, maar dit was heelwat
minder as die vorige seisoen.
Die meeste produsente het meer besproeiingswater as die vorige seisoen gehad. Produsente wat van
bergwater afhanklik is, het egter onder geweldige druk verkeer weens voortgesette lae reënval.
DRUIF- EN WYNGEHALTE
Druifontledings sien baie goed daaruit, met buitengewone hoë sure en lae pH’s. Die druiwe was baie
gesond met goeie kleur en geur, wat gegewe die seisoen verbasend goeie wyngehalte inhou.
– Hennie Visser, 083 455 5193, [email protected]
14
STELLENBOSCHOORSIG
Wyndruifprodusente in die Stellenbosch-streek verwag ʼn kleiner oes van hoë gehalte, sê Etienne
Terblanche, Vinpro-wingerdboukundige vir die Stellenbosch-streek. “Ons kon steeds die oordrageffek
van die vorige drie jaar se droogte sien in die 2019-pars, ondanks hoër reënval gedurende die seisoen.”
Onreëlmatige temperature van winter tot blom het, tesame met koel groeitoestande, tot groot variasie in
die wingerd gelei, wat produsente goed kon bestuur met effektiewe lower- en oesbeheersaksies. Koel
weer en gereelde reënbuie het daartoe gelei dat stokke minder waterspanning ervaar het gedurende
rypwording.
Vroeë kultivars toon goeie suurvlakke en geurprofiele, terwyl later kultivars elegante wyne teen laer
suiker- en alkoholvlakke opgelewer het.
PRODUKSIETENDENSE
Die Stellenbosch-streek het in die geheel ʼn kleiner oes as in 2018 behaal, met variasie in die streek.
Produsente wat genoegsame water gehad het om aan die begin van die seisoen na-oesbesproeiing te
gee, het die vrugte daarvan gepluk.
Vertraagde of geen bot in vroeë kultivars soos Chardonnay en Pinotage het ʼn massiewe effek op
produksie gehad. Kultivars is verskillend geaffekteer deur wisselvallige weersomstandighede tydens
blom en set afhangend van hul normale blom- en set-tyd. Vroeë kultivars soos Chardonnay, Pinotage en
Sauvignon Blanc, en laat kultivars soos Cabernet Sauvignon het die ergste deurgeloop, teenoor Chenin
Blanc en Merlot wat gemiddelde produksies gelewer het. Gemiddelde tot laer sapverhaling is
waargeneem.
KLIMAATSTOESTANDE
Blaarval was vroeër as normaal in die na-oesperiode, veral in droëlandwingerde en wingerde wat nie
genoegsame besproeiing ontvang het vanweë die droogte nie. Minder koue-eenhede as gewoonlik het in
die belangrike dormansie-opheffingsperiode einde Mei, begin Junie voorgekom. Wingerde wat
gedurende die vorige seisoen waterspanning ervaar het, het reeds na-oes tekens van bot op apikale
dele van lote getoon, wat ʼn effek op plantreserwes kon hê.
Winterreënval was hoër as die vorige twee winters, maar steeds gemiddeld teenoor die langtermynsyfer.
Junie tot Augustus is gekenmerk deur uitermatig hoë temperature van tot 25 ˚C en hoër, wat ʼn
negatiewe effek op die opbou van koue-eenhede gehad het. In baie gevalle kon rusbreekmiddels nie
toegedien word waar wingerde reeds vroeg in Augustus op die basale oogposisies begin bot het nie.
Koue weer van middel tot laat Augustus het egter verdere bot beperk.
ʼn Relatief koel en nat lente, tesame met ontydige bot van vroeë kultivars, het tot ongelykheid in
aanvanklike groei gelei, wat vir lang periodes na bot steeds sigbaar was. Kultivars soos Chardonnay,
Shiraz en Pinotage het glad nie op sommige draers gebot nie. Onreëlmatige bot van veral vroeë kultivars
het die toediening van swamdoders en chemiese onkruidbeheer in die lente bemoeilik. Koel weer laat in
die lente het jong lootgroei beperk.
15
Temperature was baie wisselvallig van Oktober tot November en dit, tesame met laer as normale
reënval en sterk winde op spesifieke tye, het ʼn negatiewe effek op blom gehad en tot groot variasie in
set gelei.
Daar was groot variasie in vegetatiewe groei gedurende die groeiseisoen, hoofsaaklik vanweë die warm
winter, ongelyke bot en beskikbaarheid van plantreserwes. Die groeiseisoen self was relatief koel
bedags en snags, met tot drie maal die vorige twee seisoene se reënval en hoewel die vegetatiewe groei
kon opvang weens die reën, het rypwording steeds drasties tussen trosse verskil.
Ondanks die relatief lae waterspanning, het die koel weer moontlik tot kleiner korrels aanleiding gegee.
Minder besproeiing was vanjaar nodig, selfs ook by wingerde wat normaalweg aanvullende besproeiing
ontvang.
Die meeste blokke is ongeveer op die normale tyd gepars, met die uitsondering van later rooi kultivars.
Parstyd is gekenmerk deur gereelde reënbuie, en meer as 100 mm is van Januarie tot Maart
aangeteken. Januarie was relatief koel en Februarie warm soos verwag, waarna temperature aansienlik
gedaal het teen die einde van die maand. Later rooi kultivars het in hierdie tyd baie stadig suiker
geakkumuleer en sommige wingerde het gesukkel om vol rypheid te behaal.
Weens die kleiner oes en tydige rypwording was daar relatief min druk op kelderspasie.
ALGEMENE OPMERKINGS
Voldoende dekgewasse het onkruidbeheer vergemaklik, hoewel die gereelde reënbuie gedurende
parstyd die beheer van onkruid op bankies belemmer het.
Swamsiektedruk was oor die algemeen hoog, spesifiek witroes en donsskimmel, en die hoë relatiewe
humiditeit het tot verdere uitbrake van donsskimmel bygedra. Produsente wat nie hul spuitprogram
aangepas het nie, het oes- en lowerverliese gelei.
Slakke het veral na reënbuie in die winter en gedurende bot voorgekom, wat produsente goed moes
beheer. Witluis, kalanders en krompokkels was vanjaar goed onder beheer.
DRUIF- EN WYNGEHALTE
Die Stellenbosch-streek se wyne lyk op hierdie stadium baie belowend. Vroeë kultivars het oor die
algemeen hoër suurvlakke getoon, wat beteken het dat kelders minder suur moes toevoeg. Kleur en
tannienontledings is laer as in 2018, maar dra tot elegante styl wyne by.
– Etienne Terblanche, 072 402 7434, [email protected]
16
SWARTLAND OORSIG
Die 2019-wyndruifoes in die Swartlandstreek is groter as die baie klein 2018-oes en wyngehalte lyk
belowend. Dit volgens Hanno van Schalkwyk, Vinpro-wingerdboukundige vir die Swartlandstreek.
Wingerdlowers het die beste in jare daaruit gesien danksy goeie winterreënval, maar die vorige drie jaar
se droogte het steeds ʼn negatiewe effek op die hoeveelheid trosse gehad. Trosse was ook meer
onegalig weens groot variasie in koue en warm periodes.
PRODUKSIETENDENSE
Die totale oes was groter as in 2018, maar volg op ʼn baie klein 2018-oes. Die Swartlandstreek verbou
hoofsaaklik droëlandwingerde, wat beteken dat die goeie winterreënval baie welkom was. Die
voorafgaande drie jaar lange droogte het egter steeds ʼn effek op wingerde gehad, soos gesien kon word
aan ʼn kleiner hoeveelheid trosse.
Shiraz het veral baie swak na die droogte gedra, terwyl Chenin Blanc en Pinotage beter oeste gelewer
het danksy voller trosse.
KLIMAATSTOESTANDE
Die na-oesperiode in die Swartlandstreek was warm en die grond baie droog. Wingerde wat tydens die
2018-parstyd swaargekry het, het hul blare vroeg afgegooi en teen einde Maart het sommige blokke
geen blare oorgehad nie. Die toestande vir wortelgroei en reserwevorming was dus ongunstig. Welkome
reën in April het produsente in staat gestel om dekgewasse vroeg te saai.
Mei en Junie was redelik koud en nat, voldoende om in die wingerd se koue-behoefte te voorsien. Julie
was droog en warm en alhoewel die totale winterreënval beter as die vorige jaar was, was dit steeds laer
as die langtermyngemiddeld. Dekgewasse het meer materiaal produseer en is in die meeste gevalle
voor bot doodgespuit.
’n Baie warm periode teen die einde van Julie het sommige wingerde reeds vroeg laat bot. Wisselvallige
weer in September, met gereelde koue periodes, het egter lootgroei en uitbot vertraag, wat in baie
gevalle tot onegaligheid gelei het. Die warmer toestande in Oktober, veral aan die einde van die maand,
het lootgroei laat versnel.
Sterk wind tydens die blomtyd het by heelwat Chardonnay-, Sauvignon Blanc- en Cabernet Sauvignon-
blokke het tot swak set en afspeen gelei, wat uiteindelik laer produksies oplewer het.
Temperature was baie gematig gedurende Desember en Januarie en die eerste hittegolwe het eers aan
die begin van Februarie voorgekom. Op daardie stadium was die parsdatums redelik normaal en
sommige Sauvignon Blanc-blokke is selfs vroeër gepars. Teen die einde van Februarie was die
meerderheid blokke klaar gepars, met die uitsondering van hoofsaaklik Cabernet Sauvignon. Koeler
weerstoestande gedurende Maart het daartoe gelei dat hierdie blokke gesukkel het om die vereiste
rypheidsvlakke te bereik.
17
Die rypwording van druiwe was onegalig van een tros na die volgende, maar ook binne individuele
trosse. Die mate van onegaligheid het verskil tussen kultivars, maar Shiraz en Cinsaut was veral baie
onegalig.
ALGEMENE OPMERKINGS
Oor die algemeen was die toestand van die lowers tydens parstyd baie beter as die vorige baie droë jare
en druiwe baie gesond. Reën in die middel van Desember het donsskimmel op jong blare veroorsaak.
Witroes het veral na oes kop uitgesteek.
DRUIF- EN WYNGEHALTE
Vroeë aanduidings is dat dit ’n baie goeie jaar vir wynkwaliteit is met Chenin Blanc, Sauvignon Blanc en
Pinotage wat vroeg belofte toon.
Druifontledings was aanvanklik baie goed (hoë sure en lae pH) en kleurontwikkeling by rooi druiwe het
goed daaruit gesien. Sure het in die tweede helfte van die parstyd baie geval.
– Hanno van Schalkwyk, 083 455 5192, [email protected]
WORCESTEROORSIG
“Die 2019-wyndruifoes in die Worcesterstreek is verbasend groter, ondanks uitdagende weerstoestande
gedurende blom en set, asook in die middel van parstyd,” sê Pierre Snyman, Vinpro-wingerdboukundige
vir die Worcesterstreek. Goeie gehalte wyne word van vanjaar se oes verwag.
Temperatuurskommelinge in lente en ʼn buitengewone hittegolf aan die einde van Oktober het tot
ongelyke bot en blom en uiteindelik groot verskille in rypheid binne wingerde en op dieselfde stokke
aanleiding gegee. Hoë reënval in Februarie en Maart het ook siektedruk verhoog.
PRODUKSIETENDENSE
Die 2019-wyndruifoes is groter as in 2018, maar volg op ʼn heelwat kleiner oes verlede jaar. Vroeë
kultivars soos Sauvignon Blanc, Nouvelle en Pinotage was ligter as verlede jaar, maar hoër opbrengste
van later rypwordende Chenin Blanc- en Colombar-wingerde het hiervoor opgemaak. Merlot het
spesifiek gesukkel om suiker op te bou weens die reënval in Februarie en Maart, en is redelik aan die
einde van die seisoen gepars.
KLIMAATSTOESTANDE
Die streek het ʼn baie droë paar jaar agter die rug, wat tot in die 2018 na-oes periode voortgeduur het.
Die wingerde was onder druk en brak was ʼn groot knelpunt omdat dit nie met besproeiingswater bestuur
18
kon word nie. Die fyn wortels is veral beskadig, wat die hele huishouding van die wingerdstokke
benadeel het. Na-oes bemesting kon vanweë die droë toestande in die meeste gevalle nie ideaal
toegedien word nie.
Dit was ʼn goeie winter ten opsigte van koue-eenhede en die reënval was baie beter as vorige seisoene.
Dit het gepaard gegaan met goeie sneeuneerslae wat damme en riviere kon voed.
Hierdie was een van die seisoene met die mees onegalige bot, wat regdeur die seisoen voortgeduur het.
Dit het dit moeilik gemaak om die fisiologiese rypheid van druiwe in parstyd akkuraat te bepaal.
Die seisoen is ook gekenmerk deur groot temperatuurskommelinge, wat uiteindelik ʼn negatiewe effek op
die korrelgrootte gehad het. Rypskade het in die vroeë lente in sekere areas voorgekom, maar die
omvang was kleiner as die vorige seisoen.
Die streek het in die laaste week van Oktober ʼn ongewone hittegolf ervaar, met ʼn gemiddelde
maksimum temperatuur van 36 °C wat die blom en set van baie wingerde nadelig beïnvloed het. Die
korrelgrootte van dié druiwe was oor die algemeen opmerklik klein en die trosse was losser as
normaalweg. Die laer produksies van sommige kultivars word hoofsaaklik hieraan toegeskryf.
Dit was vanaf Januarie duidelik dat die oes dalk ligter as geskat gaan wees, veral toe die vroeë kultivars
en wingerdblokke begin pars is. Die druiwe was baie onegalig wat rypwording betref en die verskille was
groot selfs op dieselfde stokke en lote.
Die rypwordingsperiode en die parsseisoen self word deur gematigde temperature gekenmerk, wat ʼn
positiewe effek op die gehalte van die wyndruiwe gehad het. Hoë reënval is egter in Februarie en Maart
aangeteken, wat siektedruk verhoog het.
ALGEMENE OPMERKINGS
Dit was aanvanklik ʼn gesonde jaar, maar hoër as normale reënval in Februarie en Maart het die
siektedruk en voorkoms van vrot baie verhoog en dit het groot druk op die kelderkapasiteit geplaas om
druiwe te ontvang en te verwerk. In ʼn klein area het haelskade ook voorgekom.
Die watervoorrade het beter daaruit gesien gedurende die seisoen, maar dit was steeds moeilik om
goeie brakbestuur toe te pas.
DRUIF- EN WYNGEHALTE
Die seisoen sal vir twee helftes onthou word, veral wat die wit variëteite betref. Die eerste helfte het
goeie ontledings met veral hoë sure gehad, maar later in die seisoen is probleme met suur en pH’s
ervaar. Die kleur van die rooi was besonder goed en dit word aan die temperatuurverskille asook goeie
blaarbreekpraktyke toegeskryf.
– Pierre Snyman, 083 455 5191, [email protected]
19
Top Related