Bulle-TIN uitgawe 13 2015
-
Upload
ilana-loubser -
Category
Documents
-
view
273 -
download
23
description
Transcript of Bulle-TIN uitgawe 13 2015
UITGAWE 13 KERSUITGAWE 2015
SAP TIN EENHEID VETERANE BOND
SIELSKOS
Kersboodskap deur: Ds. Jan du Preez
IN DIE WARE GEES VAN KERSFEES
Kersfees lê net om die draai en die wêreld skud sy vere reg. In ʼn ommesientjie word besighede,
strate en gewone woonhuise in ʼn feetjieland van liggies omtower. En in die geklingel van
klokkies hoor ons weer die opklink van bekende kersliedere. Oral loop ons ons vas teen die
omie met die spierwitbaard en dik rooi jas. Langs hom staan sy slee, gesleep deur ʼn span
takbokke, gereed om wêreldwyd 2015 se kersgeskenke te gaan aflaai om iewers onder ʼn
kersboom ʼn lêplek te kry. In ʼn snikhete Suid-Afrika met sy Somer Kersfees sal ons ook aan
hierdie jaarlikse fanfare deelneem.
Tussen die takke van die kersboom steek ʼn klein wit ongemerkte koevert uit. Vir die afgelope
tien jaar is daardie koevert al deel van die gesin se kersboom. Waar kom dit vandaan? Dit het
alles begin by Mike, die pa van die huis, wat ʼn weersin teen Kersfees gehad het. Mike se
weersin was nooit gemik teen die ware betekenis van Kersfees nie, maar oor die manier waarop
daar met Kersfees gesmous word; mense wat in die kersseisoen spandabel lewe en geskenke
koop wat dalk op die ashoop gaan beland of deur onbruik nog plek in ʼn reeds oorval kas gaan
opneem.
Toe besluit Nancy een jaar dat sy nie weer die gewone hemde en dasse vir Mike as
kersgeskenke sal gee nie. Hierdie keer sal sy iets spesiaals vir hom doen. Kevin, hul
twaalfjarige seun, was deel van die skool se stoeispan. Kort voor Kersfees stoei Kevin se span
in ʼn vriendskaplike wedstryd teen ʼn span wat deur ʼn kerk in die middestad geborg word. Maar
dié span se kleredrag was so gehawend dat dit in skrille kontras staan teen die netjiese span
waarin Kevin speel.
Soos die kompetisie vorder word die uitslag van die tweestryd al hoe meer voorspelbaar en die
span uit die middestad verloor in elke afdeling. Mike wat saam met Nancy die wedstryd bywoon,
het hartseer sy kop geskud. Sê hy: “Ek wens een van hulle kon wen. Hulle het soveel
potensiaal, maar om só te verloor kan hulle moed breek”. Mike was lief vir kinders en het die
afrigting van voetbal en basketbal met hulle geweldig geniet. Net daar kom Nancy op die blink
gedagte van Mike se komende kersgeskenk.
Daardie middag besoek Nancy ʼn sportwinkel. Sy koop ʼn verskeidenheid stoeitoerusting en
stuur dit anoniem aan die gemeente in die middestad. Op Oukersaand plaas Nancy ʼn
klein wit koevert tussen die kersboom se takkies. In die koevert is daar ʼn nota vir Mike.
Daarin verduidelik sy haar skenking aan die stoeiers as haar kersgeskenk vir hom.
Mike se glimlag was ʼn teken van tevredenheid, want vir hom was dit die ware gees van
Kersfees. Toe word dit vir hulle ʼn jaarlikse Kersfees tradisie. Een Kersfees is ʼn groep
verstandelik gestremde jongmense na ʼn hokkie wedstryd gestuur. By ʼn ander geleentheid is
twee bejaarde broers gehelp wie se huis net ʼn week voor Kersfees deur ʼn brand totaal
verwoes is. Jaar na jaar het dit in daardie gesin so gegaan. Toe word dit ʼn vaste gesinstradisie
tydens Kersfees.
Die wit koevert, wat op die Kersoggend altyd die laaste oopgemaak is, word toe die hoogtepunt
van hulle Kersfeesviering. Rondom die kersboom sou die kinders in afwagting staan wanneer
Mike die koevert van die boom afhaal en die inhoud bekendmaak. Vir die kinders – ook toe
hulle groter word – het die klein wit koevert nooit sy aantrekkingskrag verloor nie.
Maar die storie eindig nie hier nie. Mike is aan kanker dood. Toe Kersfees in sy sterfjaar kom,
sit Nancy nog vasgevang in haar verdriet. Eers is sy traag om die kersboom op te stel.
Uiteindelik, op Oukersaand, doen sy dit en volgens die gevestigde tradisie kry die wit koevert ʼn
plek aan die boom.
Op Kersoggend kom die verrassing.
Saam met Nancy se koevert is daar nog drie wit koeverte aan die boom. Sonder dat die ander
daarvan weet, het elkeen van die drie kinders vir die eerste keer ʼn wit koevert aan die boom
geplaas as herinnering aan hul pa. So het ʼn tradisie ontstaan en gegroei. Eendag sal dit ook
uitbrei na die kleinkinders wat met afwagting rondom die kersboom op die afhaal van die wit
koevert wag.1
Van kindsbeen af ken ons die Kersverhaal. Ons weet waarom Christus na die wêreld gekom
het. Maar die gees van Kersfees sal net in die wêreld deur ons sigbaar word as ons deur die
loop van die jaar doen wat Christus van ons vra en aan ons voorhou:
“Ek was honger, en julle het my iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het my iets gegee
om te drink; Ek was ʼn vreemdeling, en julle het my gehuisves; Ek was sonder klere, en julle het
vir my klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.”
Wanneer, Here, het ons dit aan U gedoen?
En dan die verrassende antwoord: “Vir sover julle dit aan die geringstes gedoen het, het julle
dit aan My gedoen.” (Matteus 25:31-46)
Want dit is die ware gees van Kersfees wat ons daagliks moet voortsit terwyl ons in 2016 ons
oog op Jesus hou.
ʼn Geseënde en helder Somerkersfees aan julle toegewens
1. Met erkenning aan Nancy W. Gavin se ware verhaal:
For the man who hated Christmas
http://www.WantToKnow.info/i/christmas-stories/meaning-of-christmas
Deur: Martin Loubser.
Finansies van die Bond.
Daar is lede lede en ondersteuners wat hard woeker met projekte en die Bond is weer op die been,
ten volle operasioneel en kan normale huishoudelike sake voortgaan
FNB besigheidsrekeninge is vir beide die Bond en die Beelde geopen en ten volle operasioneel .
Registrasie van die Bond as ’n nie-winsgewende organisasie is nog in proses.
Onthou dat dit enige lid vrystaan om op enige stadium navraag te doen en geregtig is op ʼn uitleg
van die inkomste en uitgawes van beide die Bond en die Beeldefonds. ([email protected])
Bond dasse
Die Bond se dasse is bestel, gelewer en betaal en ons kon die eerste 30 dasse tydens Genl.
Dreyer se begrafnis asook “Poppy Day” aan lede gee. Wat die ander dasse betref wil ons sodra
hierdie uitgawe van die bull-TIN uitgestuur is aan almal betrokke ‘n epos stuur om vas te stel wie sy
das by my of Ilana gaan kom haal en wie se dasse ons moet pos. Die dasse gaan met gewone pos
gestuur word om kostes laag te hou. Met die stuur van die epos gaan ons ook seker maak dat jou
epos korrek op on databasis aangedui is. Ek wil namens die bestuur ook langs hierdie weg vir
veteraan JP Swanepoel bedank wat sy hand aan die vervaardiging en lewering van die dasse
gehou het om seker te maak dat dit betyds vir die volgende seremonies gelewer kon word. Ook ‘n
groot bedanking aan veteraan Daan Craukamp vir sy initiatief en wat met groot moeite borge vir
ons dasse gekry het!
BESTUURSVERSLAG DEUR
DIE WAARNEMENDE VOORSITTER
Die Bond se Webwerf
Geen vordering is nog met die webtuiste gemaak nie maar TIN veteraan Blackie Swart is nog hard
aan die werk om die webwerf in ere te herstel. Ilana het in die tussentyd ‘n Internet “blog” geskep
wat op hierdie stadium amper dieselfde doel dien. Die “Blog het gesorg vir heelwat belangstelling in
die Bond en ons werksaamhede en het die versending van aansoekvorms op versoek ook heelwat
opgetel. Voel asseblief vry om die skakel van hierdie “blog” so vêr en wyd as moontlik te versprei.
Hier is die skakel vir die “blog”:- http://tinveteranebond.blog.com/
Ons beelde en die beeldefonds.
Onder die bekwame leierskap van ons Kommunikasie Koördineerder, Henk van Heerden en die
entoesiasme van talle lede vorder ons beeldeprojek goed en is in volle vaart. Daar is ʼn magdom
werk gedoen om dit te laat gebeur en is ons positief dat ons beelde een van die dae weer ons
trotse geskiedenis sal uitbeeld!
Onderhandelings met die Voortrekker Monument het begin en verwag ons eersdaags om saam te
begin praat oor die hervestiging van ons beelde.
Die miniatuur beelde trek nou al by nommer 54 en word hierdie beeldjies letterlik die hele wêreld
vol versend. Van hulle is nog op bestelling maar meeste pryk op hulle spesiale plek in hulle nuwe
eienaars se huise.
Onthou dat die beeldjie ʼn “limited edition” gaan wees! Daarom moet daar, Indien daar nog
enige belangstelling is om so ʼn beeldjie te bekom, so gou as moontlik met Henk by
[email protected] kontak gemaak moet word vir bestellings en om teleurstelling te vermy.
Tot nou toe het ons dit net gesirkuleer onder ons eie veterane en Maleoskop lede en as daar nie
meer belangstelling onder ons eie lede is nie gaan ons die res van die reeks verder oopgooi.
Lidmaatskapgelde vir 2016/17
Die bond se jaar loop op 29 Februarie ten einde. Vroeg in Januarie sal ons ‘n e-pos uitstuur om te
herinner aan die betaling van gelde en die FNB BESIGHEIDSREKENING se besonderhede
verstrek om te verhoed dat gelde inbetaal word in die rekening wat ondersoek word. Vir inligting wil
ek net meld dat nuwe lede wat lidmaatskap betaal het vanaf 1 September 2015 opbetaal is tot
Februarie 2017.
Bywoning van amptelike funksies.
Na die afloop van “Poppy Day” gons dit in die veterane wêreld! Nie net word daar gepraat van die
getalle waarin ons onsself verteenwoordig nie MAAR daar word openlik bewondering uitsgespreek
oor die kameraadskap en gees tussen die TIN mense. Die feit dat ons ingestel is op die hele gesin
is ook iets wat onbekend is. Die samesyn tussen ons mense is iets baie spesiaal en dankie aan
elkeen wat die vlam aan die brand hou! Sonder sulke kameraadskap dien ‘n Veterane Bond in elk
geval geen doel nie.
Die amptelike blad van die SAP TIN veterane Bond; Die bulle-TIN.
Sonder die insette van lede is hierdie blad niks anders as ʼn nuusbrief nie en wil ons lede asseblief
aanmoedig om moed bymekaar te skraap en vir ons hulle stories, ondervindings of enige ander
insette te stuur sodat dit ʼn lekker lees ondervinding vir die lesers kan wees.
Neem kennis dat die bulle-TIN elke tweede maand sal verskyn om die werkslas, tyd en moeite met
die samestelling daarvan te regverdig.
Werwing van nuwe lede en ondersteuners.
Almal word vriendelik versoek om nuwe lede vir die Bond te werf, bring die mense wat u weet
kwalifiseer aan boord sodat ons ons agtergrond en geskiedenis kan deel. U word egter versoek om
nie aansoekvorms of bankbesonderhede te verstrek nie aangesien dit vantevore chaos veroorsaak
het. ʼn E-pos adres van ʼn belangstellende op die Facebook groep of aan my by
[email protected] sal sorg dat die aansoeker onmiddellik mee gewerk word.
Ek wil langs hierdie weg vir elkeen ‘n geseënde Kersfees toewens! Geniet die feestyd en wees
versigtig op die paaie! Wees daar vir mekaar en pas mekaar op, die lewe is kort!
DIE STERKTE VAN DIE BOND
Die totale sterkte van die bond is tans 96. Dit word soos volg saamgestel:-
Bestuurslede 4
Erelede 3
Lede 70
Ondersteuners 16
Oorlede 3
Geskors 2
Martin Loubser
Weereens dankie aan elkeen wat ʼn inset gelewer het, moed ingepraat het en geduldig
was. Ons is ʼn jong maar trotse bond en die “veglustige leeu” sal van krag tot krag gaan.
Vordering en statistieke
Aansoekvorms op aanvraag uitgestuur:- 559
Aansoekvorms teruggestuur en goedgekeur:- 146
Lede wat na goedkeuring betaal en as lede geregistreer is:- 89
Aansoeke afgekeur wat nie aan toelatingsvereistes voldoen nie:- 6
Johannes Gerhardus (Sterk Hans) Dreyer
20 November 1931 –1 November 2015
Erelid van die SAP TIN Veterane Bond en
Erepresident van die Koevoet Veterane Bond.
TIN BOND BRING HULDE AAN ‘N
ONTSLAPE KAMERAAD
Die gedenkdiens van wyle Lt-Genl. Johannes Gerhardus (Sterk Hans) Dreyer (SOO, SOE,
SSAS) het op 7 November 2015 plaasgevind uit die NG Kerk Wierda Park-Suid in Centurion.
Lede van verskeie bonde, die SAP TIN Veterane Bond, die Koevoet Veterane Bond, Valskerm
en Spesiale Taakmag was van die bonde daar verteenwoordig en het die diens bygewoon om
aan hom sy laaste militêre eerbewys te betoon. Die seremonie is deur die Koevoet en TIN
veterane Bonde hanteer en elke TIN en Koevoet Veteraan wat op een of ander manier
betrokke was by die seremonie is vooraf behoorlik ingelig wat sy funksie sou wees om die
kleurryke seremonie, eie aan ’n veterane bond, suksesvol uit te voer.
Vriende, familie, veterane van verskillende veterane bonde en Ovambo’s van Vingerkraal het
voor die kerk die diens afgewag. Onder die begrafnisgangers was voormalige Generaals,
Generaal Johan van der Merwe en die erepresident van die SAP TIN Veterane Bond Generaal
Johan Viktor.
Die kis was met ‘n landsvlag bedek en het in die lykswa gebly. Hooggeplaastes en familie is
die kerk inglei deur die vaandels van die Koevoet Veterane Bond en die SAP TIN Veterane
Bond.
Voor in die kerk, was ‘n foto van Generaal Dreyer aan die voet van ‘n kruis met ‘n model
van ‘n Casspir onder die foto. Op ‘n tafel voor in die kerk was ‘n opgevoude SA
Polisievlag, saam met die medaljes, dekorasies asook die seremoniële pet en bos pet van
Generaal Dreyer. By die ingang van die kerk was ‘n tafel drapeer met die SA Polisievlag
waarop ook ‘n stel van sy medaljes en dekorasies vertoon is
Die diens is gelei deur die Kapelaan van die Koevoet en SAP TIN Veterane Bonde Ds. Jan
du Preez. Die tema van die preek was “God se familie”, “Ons behoort”.
Na afloop van die erediens het die finale eerbewys seremonie plaasgevind gelei deur Dicks
Dietrichsen. Dit het begin met oud Kommisaris van Polisie, Generaal Johan van der Merwe
wat ‘n woord van meegevoel uitgespreek het. ‘n Huldeblyk aan Generaal Dreyer is deur
Dicks Dietrichsen voorgelees waarna die vaandels voor in die kerk ontplooi is (Koevoet links
en TIN regs). Tydens die laaste Taptoe is die vaandels gestryk terwyl veterane salueer.
Kranse en blomme is daarna gelê: Paul Fouchè het namens die Koevoet Veterane Bond,
Generaal Johan Viktor namens die TIN Veterane Bond en Gnl. Johan van der Merwe
namens die Generaalsklub kranse gelê waarna daar blomme deur veterane van verskeie
bonde, familie, vriende en swart lede verbonde aan die Koevoet Veterane Bond aan die voet
van die foto gelê.
Familie, vriende en begrafnisgangers is die kerk uitglei deur die vaandels van die Koevoet
Veterane Bond en die SAP TIN Veterane Bond. Die vaandels het voor die lykswa stelling
ingeneem terwyl daar finaal afskeid geneem is. Die vaandels is voor die lykswa gestryk terwyl
‘n trompetspeler die laaste Taptoe gespeel het. Ds. Jan du Preez het die seën uitgespreek.
Veterane het ‘n erewag langs die pad gevorm en die lykswa is deur die vaandels die
kerkgronde uitgelei terwyl veterane met ‘n saluut finaal afskeid geneem het van ‘n kameraad
terwyl hy na sy finale rusplek gelei is.
Johannes Gerhardus Dreyer
Rus in vrede, ons sal jou nie vergeet nie.
SALUUT!
HERINNERINGSDAG 2015Herinneringsdag op 8 November 2015 merk die einde van die eerste Wêreldoorlog en ‘n dag
wat die hele nasie tot stilte kom om te onthou en om diè te eer wat die hoogste prys betaal het
vir ons vryheid.
Elke jaar op die 11de uur van die 11de dag van die 11 maand onthou ons die wat geveg en
gesterf het vir hul land. Veterane en hul families staan saam met ander militêre lede van regoor
die wêreld met die rooi papawer op hul bors om ook diè te onthou wat sedert die einde van die
eerste wêreldoorlog in diens van hul land gesterf het.
Dieselfde as 2014 het die SAP TIN Eenheid weer die Herinneringsdag by die Uniegeboue
bygewoon en ouder gewoonte die grootste verteenwoordiging onder besoekers as ‘n Bond
vertoon. Die verskil tussen laas jaar en hierdie jaar is dat almal geweet het wie die SAP TIN
Veterane Bond is.
Die seremonie het anders as laasjaar nie
‘n vaandelplasing gehad nie en is
vaandels voor aanvang van die
seremonie reeds geplaas. Ons vaandel
het sy ereplek aan die heel junior ent van
almal gekry.
Die seremonie het begin met die ontplooing van die
skildwagte. Die funksie is hierdie jaar deur dienende lede
van die SANW Artelerie Korps vervul.
Die seremonie is aangebied deur “Pretoria Memorial Services Council”.
Die seremonie het tradisioneel begin met ‘n gedenkdiens gelei deur Kapelaan Padrè Manganyi
van die SANW.
Na aanvang van die diens was daar die tradisionele Laaste Taptoe gevolg deur twee minute
stilte. Daar is verduidelik dat die twee minuut stilte ‘n langstaande tradisie in Suid Afrika is. Die
eerste minuut is sodat ons diè kan onthou wat gesterf het en die tweede om dankie te sê vir
diè wat oorleef het. Die twee minute stilte is gevolg deur die kransleggingseremonie waar
kranse gelê is deur buitelandse verteenwoordigers, dienende magte, talle veterane bonde
asook junior bonde.
Buitelandse verteenwoordigers het ingesluit offisiere van Kanada, Australië, Korea, Britanje,
VSA, Brasilië, Duitsland en Japan.
Kranse gelê deur dienende magte namens die hoof van die SANW, SA Lugmag ens.
Kranse gelê deur verskeie veteranebonde
Kranse gelê deur jeugbonde.
‘n Krans is gelê deur Dicks Dietrichsen namens die
Koevoet Veterane Bond wat ook ‘n lid van die SAP
TIN Veterane Bond is.
Die hoogtepunt van die seremonie vir
ons was toe TIN Veteraan Johan Visage
wat bekend is vir sy betrokkenheid saam
met Gnl. Viktor by die slag van
Ongulumbashe in 1966, namens die TIN
Bond ‘n krans gelê het.
Die seremonie is afgeluit met die speel van die Volkslied
Van ons veterane het na die tyd gaan kennis maak met van die buitelandse verteenwoordigers
Individuele en groepfoto’s is oudergewoontes na die tyd geneem.
Lede is aangemoedig om hierdie jaar ook op ander plekke dan Pretoria die SAP TIN Bond te
verteenwoordig. Veteraan Dirk Breytenbach het ons op Randfontein verteenwoordig en daar
namens ons ‘n krans gelê. Die volgende foto’s is deur hom aan die bulle-TIN gestuur.
DIE SEREMONIE SOOS BELEEF DEUR ‘N
ONDERSTEUNER EN EGGENOTE VAN ‘N TIN VETERAANGeskryf en ingestuur deur Ronél Parsons
REMEMBRANCE DAY
ook bekend as POPPY DAY
Uniegebou, Pretoria
8 November 2015
Die dag waarop daar oor die wêreld heen een minuut gewyde stilte afgestaan word aan alle
soldate wat hul lewe verloor het in oorloë en ‘n genadige een minuut gewyde stilte in
dankbaarheid aan hulle wat nie met hul lewe geboet het vir een of ander “cause” nie...
Vir ‘n leeftyd skram ek weg van alles wat my aan seer herinner en ek vra myself die vraag af
wat ek daar maak...
Eerwaarde Manganyi lei die diens uit Spreuke 10: dit handel oor dissipline en ek vereenselwig
heel gemaklik met die boodskap dat dissipline nie net tot my eie voordeel is nie, maar ook in
die breë tot voordeel strek van my interaksie as individu in die breë samelewing. Ek hoor hoe
hy praat oor die soldaat se eisere dissipline wat nie net sy eie lewe nie, maar ook sy peloton
se lewens tot voordeel kan strek of kan benadeel en uiteindelik ook sy land...
Ek hoor hoe hy praat oor die belangrikheid om onder dieselfde reëls te staan en te veg... Ek
hoor hoe eisere dissipline wat in ‘n soldaat ingedril word van hom kan eis dat hy sy eie lewe in
gevaar stel tot voordeel van sy makkers of sy land...
Ek besef ek het geen begrip wat die manne om my vandag deurgemaak het nie, ‘n
ondervinding wat hul alle reg gee om vandag trots en fier op te staan in saluut terwyl ‘n krans
gelê word ter ere van hul gestorwe makkers...
Word ek as Ondersteuner geraak? Beslis! Hoe kyk ek verby die seer-onthou as ‘n man
opstaan in saluut en sy makker onthou wat nie saam met hom teruggekom het huis toe,
Suid-Afrika toe, uit die destydse Rhodesiese oorlog nie?
Hoe kyk ek verby ‘n 85-jarige Oorlogsveteraan wat krom vooroorgeboë vorentoe stap om by
die Muur van Herinnering ‘n blommekrans neer te lê en my man vul my swak ingeligte
verwysingsraamwerk aan met die feit dat daardie Generaal ‘n Yster was op sy tyd wat heel
vooraan die geveg was toe oorlog uitgebreek het. Hoe kyk ek verby ‘n kromgetrekte
Generaal wat eens op ‘n tyd fier en regop bekend was as ‘n Yster in die lug, ‘n vegter om
mee rekening te hou, iemand wat die son uit die lug sien opkom het en uit die lug sien
ondergaan het terwyl hy my en jou veiligheid op die grond beskerm het... Kromgetrek deur
jare maar in hul harte staan hul fier en regop soos die onveilbare pilare waarop ons
geskiedenis gebou staan en hulle weet... want hul was daar...
Die afloop van die formele verrigtinge maak plek vir ‘n outomatiese soeke na maters wie
soos hulself lyk... uitkenbare berets, uniforms, kentekens en in daardie veteraanlywe harte
wat met mekaar praat oor ‘n saamwees en saamveg waaroor net hul kan saampraat; oor die
bloed van makkers wat hul dring om ‘n rooi blommetjie op Remembrance Day op hul lapelle
te dra...
Dit groet en lag en hulle word weer een... want hulle is een...
Ek sit verstom en luister na al die oorlogsgesprekke en grensgesprekke en ek hoor van
lugmortiere, kaasmyne, TM57 landmyne, witfosforgranate, handgranate, teeninsurgensie, R1
gewere, LMG’s, Shonas, Shangers, eerste lig, laaste lig, kontak, spoorjag, opvolg, Caspers,
Hippo’s, Casavacs, Cuca shops, Oom-Willie-se-Pad... nie ‘n terminologie eietyds aan my
rustige voortbestaan terwyl hierdie Oorlogsveterane ons landsgrense moes bewaak in opdrag
van hoer gesag...
Natuurlik maak alle gesprekke ‘n draai by die opleidingsdae en ai, die veelbesproke
Instrukteurs! Skielik word die wêreld nog kleiner want weer eens deel hul dieselfde bungalow,
opleidingsterrein, dieselfde Instrukteur, dieselfde Flossie waarop hul op kort kennisgewing
moes klim - grens toe...
Die bietjie wat ek vandag gehoor het laat my besef hoe ‘n ongelooflike groot voorreg dit is om
vandag saam met hul te vier, al word my hart skeurseer van alles wat ek beleef. Ek kan my
hand in my man se hand plaas en met ‘n drukkie sê “ek is trots op jou” of “dankie” al weet ek
en hy ek het nie ‘n greintjie van ‘n idee wat hy deurgemaak het nie.
Daar brand ‘n ander lig in my man se oë toe ons daar wegry... En ek lig my hoed vandag vir
elke beret wat vandag van ‘n kop gelig is omdat hul nie kan of wil vergeet... en dit was vir my...
Visitors
must
show pass
KERSFEES 2015
Deur: Elnic Steenkamp
Ek maak nou maar so bietjie keel skoon. Vergewe maar as dit baie selfgesentreerd klink en lees
maar ek het ‘n behoefte om sekere dinge te deel. Dankie Louis Lubbe en Maria dat julle met my
en Koos Kavango se kuier die tyd gehad het om ook na my te luister. Julle is vriende en mede
veterane duisend.
Gewoonlik as van ons ou klomp veterane bymekaar kom word daar nie veel gepraat oor die
hartseer van die verlede, kontake, bloed en pyn nie maar oor die lekker tye wat ons saam gehad
het. “Jong, was ons nie saam op so en so nie?” “O ja, onthou jy vir ou Luitenant Soek-Soek?”
ensovoorts. Maar dan begin vloei die adrenalien en onwillekeurig gaan jou gedagtes terug na die
verminking wat deur ‘n landmyn op ‘n PB (Plaaslike Bevolking) voertuig of ‘n Ovambo skoolbus
aangerig is. Die wrok en onnodigheid van alles begin weer in jou opwel.
Hierdie Kersfees gaan my gedagtes veral terug na twee “Bos Kersfeeste”; 1973, Kersfees in
Noord-Oos Rhodesië, teen die hange van die Mavuradonna gebergtes waar die Mavuradonnas
die Zambezi vallei van die Escarpment (platorand) na die Kandya TTL, Centenary en Mount
Darwin skei. Dan ook 1979 Kersfees in Ovamboland, maar veral, aan die manne wat dit nie terug
gemaak het nie en hoe bevoorreg ons is wat wel het om te kan gesels oor die vervloë dae. RIV ou
Baksteen (Boublok) Coetzee, Jan Wiele Smit en Hoppie de Jager van Koevoet en nog vele ander.
Kersfees 1973 het ek al op ons blad gedeel oor die Oujaarsdagaand wat die mortiere tussen ons
stoppergroepe geval het en wat ek nou nog nie weet of dit van vriendelike of vyandelike vuur
afkomstig was nie. Daar het ek gesien dat ‘n man wat vol bravade was ‘n halfuur vantevore, sy
geweer en ammo weggooi van sy lyf af en kliphard na sy moeder gil, want hy gaan dood. Ek het
daardie man al die jare daarna verafsku omdat hy voorgegee het wie hy nie is nie maar vandag
besef ek, God maak ons nie almal eenders nie, party maak Hy fisies sterk, ander manmoedig en
ander weer met ander goeie eienskappe en voel ek anders oor die persoon se optrede daardie
nag.
Dalk is dit net genade of deur Sy toedoen dat ek nie ook daardie nag “gecrack” het nie. Ek is
bevoorreg om vandag te kan praat daaroor maar wat my gedagtes aanmekaar vasvang is die feit
dat dit my ou oorlede maat Johan Petzer se laaste Kersfees saam met sy geliefdes sou wees.
Kersfees 1974 was hy in Rhodesië en het vroeg 1975 in ‘n landmyn voorval gesterf. Ek wonder
watter lekker stories ek en hy sou kon uitruil as hy vandag nog gelewe het. RIV Johan, jy was ‘n
vriend duisend.
Oukersaand 1979 loop ek by die Ruacana Polisiebasis se Opskamer in en kry die Pronto in snot
en trane agter ‘n transistor radio wat die liedjie “Eyes of Lucy Jordan” speel. (Ek het later verneem
die liedjie se naam is eintlik “Ballad for Lucy Jordan”). Die klong wys my ‘n verkreukelde “Dear
John” brief in sy hand en wragtie, sy meisie in Durban is ook Lucy Jordan. Die outjie het volgens
wat ek vertel is, dit nie terug gemaak “States” (RSA) toe nie.
In sulke gevalle het ek myself al baie afgevra of dit regtig nodig was vir meisies om “Dear John”
briewe te skryf aan ouens terwyl hulle op grensdiens is. Ek dink dit is baie ongevoelig en lafhartig.
Vry rond as jy dan nou moet want dit is tog maar waaroor dit gaan as jy nie eens ‘n paar maande
sonder jou kêrel kan klaarkom nie, maar wees mans(vrou) genoeg om te wag tot die klong
terugkom en vertel hom dan maar die waarheid oor jou belustighede. Hierdie ding het tot gevolg
gehad dat baie SAP en SANW lede dit nie terug gemaak het “States” toe nie of net nadat hul
teruggekom het, hul eie lewens geneem het.
Nou wat van ons wat dit terug gemaak het? Ek wonder partymaal of ons werklik besef hoe
geseënd ons is en hoe dankbaar ons eintlik moet wees. So word ons huidiglik geleenthede op
geleenthede gegee, uitdagings wat ons kan en moet gebruik om beter mens en Christen te wees,
maar maak ons werklik gebruik daarvan?.
Ons kan onsself ook nie altyd veronskuldig as dinge nie goed gegaan het by die huis nie. Ons het
dikwels weg gehardloop grens toe om tog net weg te kom van die druk af. So is ekself skuldig en
het ek myself ook al honderde male skuldig bevind en gevonnis oor die oortredings. In 1979
hardloop ek weg Ovamboland toe om weg te kom van n onuithoudbare getroude verhouding met ‘n
vrou wat vele name op ons huweliksertifikaat gesien het wat ek nie kon sien nie. Ek was so in
myself gekeer en oor my eie gevoelens bekommerd, dat ek vergeet het ek laat twee seuns van vier
en drie jaar oud agter in die kloue en die net van die ontroue vrou! In 1983 skei ek van haar net om
in 1984 weer weg te hardloop Ovamboland toe want ek is mos nou nie meer gebind nie!
Goddank dat daar senior lede was wat met my gepraat het maar veral my gewete, en ek het besef ,
ek het twee pragtige seuns van nege en agt jaar oud asook ‘n dogter van drie jaar oud wat my
nodig het en wat ek onder die toesig van “daardie vrou” gelos het. Deur Sy genade kon ek
terugkom, ‘n hofbevel kry en is die kinders in my sorg geplaas. Vandag is ek gelukkig getroud met
‘n nuwe jong vrou, pragtige kinders en ‘n baie gelukkige (maar effens disfunksionele, lag ek nou te
lekker) gesin.
Hierdie Kersfees gaan my gedagtes nie net uit na diè wat dit nie terug gemaak het nie, maar ook na
die vir wie dinge nie so goed en mooi uitgedraai het soos vir my nie.
My gedagtes gaan uit na ons ou kamerade wat ons die afgelope jaar moes groet, groot maats,
groot vriende en goeie mentors soos Koos Hond de Wet, Kolonel Willie Faipe Fouche, Generaal
Sterk Hans Dreyer en nog meer. Mag hul families berusting vind. Oom Willie en ek kom al vanaf
die PATU dae in Rhodesië saam. Ek mis sy weeklikse telefoonoproepe en grappies. Oom Willie, as
jy hier lees, ek het nog gereeld kontak met Tannie Hetta en sit ons gereelde telefoon gesprekke
voort soos ek belowe het. Ek het ook nog kontak met van die “tewe” soos jy hulle altyd genoem
het.
My gedagtes gaan uit na die wat ernstige siektes het, Ann van Henk, Schalk Vorster van
Bloemfontein en nog ander van ons veterane waarvan ons dalk nie altyd bewus is nie.
Maar bowe alles gaan my gedagtes uit na my ou mede kameraad veterane wat nog deur Sy
genade gespaar is. Kom manne en dames, kom ons gebruik die geleenthede wat vir ons
gebied word, kom ons sien dit as uitdagings om ook die lewe van ons mede-veterane en
naastes op te helder. Kom ons vier hierdie Kersfees as ‘n ware Christusfees en hou die
rinkinkery vir Oujaarsdag as dit dan moet maar kom ons onthou ook dan die vele wat nie daar is
om dit saam met hul dierbares te geniet nie.
GESEËNDE KERSFEES EN ‘N VOORSPOEDIGE 2016 VAN DIE STEENKAMP FAMILIE VAN
UPINGTON.
STORIE UIT DIE BOS
ELKE SPORT HET SY BESERINGS
Deur: Henry Visagie
Hallo almal. Soos ons dinge kwytraak op die Whatsapp groep het elke sport sy beserings.
Ons was op patrollie en ek het die radio beman. Soos ons gesout raak sit almal omtrent bo-op die
Hippo om die spoorsnyers dop te hou en beter uitsig te kry en om enige bewegings dadelik te
radio. Soos ons aangery kom na ‘n kraal se bewerkte land, wou die drywer nie deur die land ry
soos gewoonlik nie maar links om omdat die 4x4 nie werk nie, ons behoud !! Ons ry op die viand
se L formasie af en op hulle verkeerde kant. Toe die spoorsnyers dekking slaan en die skote begin
klap, val ek binne toe en tref die bestuurder se staal sitplek met my linker bors.
Daardie tyd is daar nie tyd vir pyn nie en ons skiet elke ding
of bossie wat moontlik beweeg plat. So ‘n maand later sien
ek maar ek ontwikkel toe een moerse "stoney ".
Terug in die States (RSA) kry ek toe by die DG (distriksgeneesheer)
'n verwysing na 'n dokter in Pretoria.
Hy deel my toe mee dat hul die “killer” wat ontsteek
is moet uithaal.Nou ja, op 20 jarige ouderdom, wat weet jy?
Daar kry ek toe 'n masektomie wat ek eers later jare die betekenis
van uitgevind het.........so het elke sport sy beserings........
DITJIES EN DATJIES OP FACEBOOK
VERJAARSDAE
JANUARIE
5 Daniel Nortje 083 747 2265
11 Marius Swart 072 623 2155
21 Ernst Fourie 082 331 1779
24 Andrè Brits 083 259 9290
FEBRUARIE
4 Hannelie Redelinghuys 083 603 3622
17 Petra van Onselen 084 261 4082
18 Deon Ackermann 073 206 4887
20 Ignatius van Coller 072 184 7703
27 Martin Loubser 084 990 2025
HULDE AAN HULLE WAT DIE HOOGSTE
PRYS BETAAL HET
JANUARIE8 1973 Konst. OW Durheim
17 1969 Konst. D Cooper
17 1975 Konst. DW Erasmus
FEBRUARIE11 1982 Maj. CD Engelbrecht
MALEOSKOP BEELDEFONDS
Help ons om ons geskiedenis te restoureer.
Elke bietjie help!!!
MINIATUUR TIN BEELDJIES
• Hou in gedagte dat hierdie beeldjies ’n
BEPERKTE UITGAWE is.
• ’n Bêrekoop opsie is beskikbaar teen 3
maandelikse paaiemente van R500-00 elk.
Bestel by Johannes Wolmarans
072 487 2341 [email protected]
TIN Pet R 70-00
TIN Hemp R 180-00
Patches R 50-00
TIN PETTE, T-HEMDE EN PATCHES
CAMO Patches R 70-00
Bestel by Henk van Heerden
082 770 5574
TIN wyn bottels R 70-00
TIN bekers R 80-00
TIN plakkers R 5-00
Maleoskop wyn bottels R 70-00
TIN Braaitange R 200-00
TIN PLAKKERS, BEKERS, WYN EN TANGE
STAANDE EN NUTTIGE INLIGTING VIR NUWE
LEDE
Dra van die seremoniele drag.
Soos vervat in die Grondwet Par 5.3
BELANGRIKE EN NUTTIGE INLIGTING
BESTUUR
Voorsitter: (Waarnemend) en
Sekretaris: Martin Loubser Sel: 084 990 2025 epos: [email protected]
Kommunikasie: Henk van Heerden Sel: 082 770 5574 epos: [email protected]
Tesourier: Robert van Onselen Sel: 079 826 8468 epos: [email protected]
Addisionele lede:
Elnic Steenkamp Sel: 072 184 7703 epos: [email protected]
Robbie Cooke Sel: 082 781 7571 epos: [email protected]
EREPRESIDENT
Johan Viktor (Genl)
Facebook geslote groep (slegs vir TIN lede)
https://www.facebook.com/groups/535440839915941
http://za.linkedin.com/pub/tinveteraan-bond/a1/494/548/
Facebook Page (vir almal)
https://www.facebook.com/coinveteransleague
Indien daar enige iemand is wat in die boek belangstel en ‘n kopie wil aanskaf kan hulle die
skrywer direk kontak by:
082 859 0764
(011) 803 6348
Die prys van die boek is R 350.00
VAN OVAMBOLAND TOT MASJONALAND
KENNISGEWING DEUR DIE REGISEUREk wil dit onomwonde duidelik stel dat die redaksie GEEN verantwoordelikheid neem vir
die korrektheid van die inhoud van jou plasing nie. By ontvangs van jou inset doen ek
die nodige taalversorging en sal maksimum dalk uitbrei op afkortings en TIN terme sodat
ons leke lesers ook verstaan. Dit klink dalk na ʼn snaakse versoek maar moenie plasings
stuur as jy dit nie gepubliseer wil hê nie.
Plasings wat jy op Facebook maak is openbare inligting en sekere plasings word as ʼn
reël van ons groep afgetrek en in die blad geplaas vir diegene wat nie op ons Facebook
groep is nie. As jy ʼn probleem hiermee het moet jy my asseblief laat weet, ons sal jou
versoek respekteer.
Martin Loubser
VERSOEK DEUR DIE REDAKTRISE
Ek wil almal vriendelik vra (ek sal selfs soebat as ek moet) om tog pen op papier te sit
en julle bosstories met ons te deel, ernstig of komies. Die blad sal niks anders as ʼn
inligtingsblad wees as dit nie vir die stories is wat lede tweemaandeliks plaas nie. As jy
nie ʼn skrywer van formaat is nie, moet jy nie bekommer oor spelfoute en
taalkonstruksies nie, die regisseur (Martin Loubser), klap ʼn storie vinnig reg.
Ilana Loubser
Stuur insette, stories, foto’s en ander plasings
na [email protected] voor die 20ste van
Februarie 2016.
Redaktrise – Ilana Loubser Sel: 084 579 1269
Regisseur – Martin Loubser