Prelim Produksienotas DIE ONTWAKING Afrikaans · 2018-08-03 ·...
Transcript of Prelim Produksienotas DIE ONTWAKING Afrikaans · 2018-08-03 ·...
PRODUKSIENOTAS
The Showroom Theatre en Advantage Entertainment
bied aan
DIE ONTWAKING
Draaiboekskrywer & Regisseur
JOHNNY BREEDT
Vervaardigers
VLOKKIE GORDON JOHNNY BREEDT GREIG BUCKLE
Uitvoerende Vervaardigers CHARON LANDMAN
Rolverdeling GYS DE VILLIERS
JUANITA DE VILLIERS GERARD RUDOLF PAUL EILERS
MORNE VISSER JACO MULLER
ARMAND AUCAMP TERTIUS MEINTJIES
SINOPSIS Die Ontwaking is ’n grusame en aksiebelaaide misdaadriller wat die psige en motivering van ’n reeksmoordenaar ontgin. Abel (Gys de Villiers), eienaar van ’n klein galery wat in Afrika-‐maskers en -‐kuns spesialiseer, is ook die kurator van ’n versameling tatoeëermerke wat aan pragtige vroulike slagoffers behoort het, wat by sy kosmiese-‐joernaal-‐tema pas. Die Ontwaking is op die eerste boek van die Abel-‐trilogie, Abel se Ontwaking, gegrond (in Engels vertaal as The Skin Collector) deur die bekende misdaadskrywer Chris Karsten. Abel se geestelik versteurde persoonlikheid is ’n denkbeeldige samesmelting van die persoonlikhede van die berugste reeksmoordenaars in fiksie, en sluit Norman Bates, Sweeney Todd, Dexter, Leatherface, Freddy Krueger en Jame Gumb, die reeksmoordenaar in The Silence of the Lambs in, wat vrouens agtervolg het en hulle vel verwyder het om ’n pak klere van vroulike vel te maak. Die Amerikaanse moordenaar en lykrower, Ed Gein, was egter die groot inspirasie vir Abel. Gein het lyke uit plaaslike begraafplase opgegrawe en trofeë en aandenkings van hulle bene en vel gemaak. In die rolprent is Ella Nesser (Juanita de Villiers), die aantreklike, maar onervare speurder in beheer van die moordsaak. Haar hoofopdrag is om die reeksmoordenaar, wat jag maak op die stad se jong vroue, vas te trek. Terwyl sy haar bes probeer om haarself aan haar meer senior kollegas (Paul Eilers en Gerard Rudolf) te bewys, sukkel sy ook om haar gebroke verhouding met haar kêrel (Armand Aucamp) te verwerk. Abel is ’n uitgeslape kalant en die jong speurder maak stadige vordering met die saak. Namate al hoe meer slagoffers opgespoor word, verskyn die welaf sakeman (Morne Visser) wat ’n band met al die slagoffers het op die toneel – ’n man wat maklik as die skuldige gesien kan word. Terwyl hy Ella se aandag van die werklike moordenaar aftrek, gaan Abel voort om sy grusame werk te doen. En Abel het vir sy naderende vyftigste verjaarsdag ’n spesiale geskenk vir homself in gedagte – ’n nuwe gesig: die gesig van ’n beeldskone jong vrou, soos dié van die jong vrouespeurder. Die rolprent is ’n spanpoging van The Showroom Theatre, Advantage Entertainment en Enigma Pictures. Die Ontwaking is in 2014 vir die eerste keer by die Silwerskermfees vertoon waarna dit die toekenning as beste vollengteprent by die Indie Karoo Film-‐fees gewen het. Sosialemediaplatforms: Facebook: www.facebook.com/DieOntwaking Twitter: twitter.com/DieOntwaking Instagram: instagram.com/dieontwaking/
MEDIAVRYSTELLING Afrikaanse misdaadskrywer se angsaanjaende riller word verwerk vir die wye doek (19 Oktober 2015) Die Ontwaking (The Awakening) is ’n grusame, aksiebelaaide riller wat die psige en motivering van ’n uiters intelligente reeksmoordenaar ondersoek. Die prent sal op 26 Februarie 2016 landwyd in uitgesoekte rolprentteaters begin draai. Die bekroonde ontwerper Johnny Breedt (van Paljas, Hotel Rwanda en A Long Walk to Freedom faam) maak met hierdie rolprent sy debuut as regisseur en die prent word allerweë as ’n vars nuwe bries in die Suid-‐Afrikaanse rolprentbedryf gesien. Die Ontwaking is op die eerste boek van die Abel-‐trilogie, Abel se Ontwaking, gegrond (in Engels vertaal as The Skin Collector), en kom uit die pen van die bekende misdaadskrywer, Chris Karsten. Abel Lotz (Gys de Villiers), die eienaar van ’n klein kunsgalery wat in Afrika-‐maskers en -‐artefakte spesialiseer, is ook ’n kurator van ’n heel ander aard: hy het ’n verskeidenheid tatoeëermerke wat hy van die liggame van sy pragtige jong slagoffers verwyder het en wat deel uitmaak van sy versameling “kosmiese joernale”, ’n bisarre projek waarin hy die storie van die kosmos herskryf. In die rolprent speel Ella Nesser (Juanita de Villiers) die aantreklike, maar onervare speurder in beheer van die saak. Haar taak is om die reeksmoordenaar vas te trek voordat nog ’n jong vrou haar lewe verloor. Sy is in ’n langtermynverhouding met Bam (Armand Aucamp) en terwyl sy hard probeer om haarself aan haar meer senior kollegas, Fred Lange (Gerard Rudolf) en Silas Sauls (Paul Eilers) te bewys, met sy ook haar persoonlike krisisse oplos, soos die verbrokkeling van haar verhouding. Abel is ’n slim ou en hy is vas van plan om sy kosmiese joernaal te voltooi. Op die vooraand van sy vyftigste verjaarsdag besluit hy dat dit tyd is vir ’n nuwe toevoeging tot sy joernaal: hy gaan die gesig van ’n houtgeruste slagoffer by sy versameling voeg en dit moet verkieslik ’n beeldskone, vroulike slagoffer wees aangesien sy ma altyd ’n dogter wou gehad het. En die jong speurdertjie is uiters geskik. “Ek het ’n paar jaar gelede besluit dat dit lekker sal wees om ’n film in Afrikaans te regisseer en het by ’n boekwinkel ingestap vir inspirasie”, het Breedt vertel. “Toe kom ek op Chris Karsten se boek Abel se Ontwaking af. Ek het dit op ’n vlug na die VSA gelees en kon dit nie neersit nie. Ek het net geweet dat dit ’n wonderlike rolprent sal maak. Die riller-‐genre is baie donkerder as wat ek vir my eerste vollengteprent in gedagte gehad het, maar dit het my juis aangemoedig om die projek aan te pak. Ek wou myself as draaiboekskrywer en regisseur uitdaag en dit was die perfekte medium. Ek was vasberade om die gehoor saam met my na plekke te neem wat mense bitter ongemaklik laat voel.” Die rolprent ontgin hoe verwronge samelewings getraumatiseerde, diep gekweste individue produseer wat hulle uiteindelik tot gewelddadige gedrag wend. Die kern van Die Ontwaking is om die komplekse dinamika tussen die versteurde dog simpatieke Abel Lotz en die groentjie polisie-‐ondersoeker wat lewenskragtig, fiks en gefokus is, te ondersoek. Die rolprent smokkel met die koppe van die gehoor en hou die kykers op die puntjie van hulle sitplekke terwyl hulle wonder wat op aarde in die kop van ’n psigopaat aangaan.
Die motief van vel – wat die hele liggaam bedek terwyl dit die membraan tussen die self en die wêreld is – vorm die basis van ’n ondersoek na die maniere waarop ons onsself sien, die manier waarop ander mense ons waarneem en die manier waarop ervarings op ons velle afgeëts word. Die Ontwaking is gekies om tydens die openingsaand van die Eden Independent Film Festival in George vertoon te word, wat van 30 Oktober tot 1 November 2015 duur. Dit sal ook op 6 November by die laaste aand van die South African Horror Fest in Kaapstad gewys word.
DIE MAAK VAN ... DIE REGISSEUR SE AANTEKENINGE Ek het ’n paar jaar gelede besluit dat ek ’n Afrikaanse rolprent wil maak en het by ’n boekwinkel ingestap in die hoop dat ek inspirasie vir die fliek daar sal kry. In die rakke het ek toevallig die boek, Abel se Ontwaking deur Chris Karsten raakgeloop. Ek het die boek op ’n vlug na die VSA gelees en kon dit nie neersit nie. Chris het hierdie bekroonde boek as die eerste deel van ’n trilogie geskryf en ek het dadelik gevoel dat dit in ’n wonderlike rolprent omskep kon word. Die genre was heelwat donkerder as wat ek aanvanklik vir my eerste vollengte prent in gedagte gehad het, maar juis hierdie aspek het die projek vir my onweerstaanbaar gemaak. Ek wou myself as skrywer en regisseur uitdaag en dit het na die perfekte projek gelyk om dit te doen. Die fliek is deur Charon Landman, The Showroom Theatre en die Departement van Nywerheid en Handel befonds. Ek was ook in die gelukkige posisie om twee swaargewigvervaardigers as deel van die span te hê: Vlokkie Gordon van Advantage Entertainment en Greig Buckle van Enigma Pictures. Hulle ervaring was van onskatbare waarde. Omdat ek voorheen ’n produksie-‐ontwerper was, het ek terwyl ek die draaiboek geskryf het, ’n visuele konsep van die rolprent in my kop gehad. Toe ons na geskikte plekke waar ons kon verfilm begin soek het, het ’n paar van hierdie idees nuwe lewe gekry terwyl ’n paar ander gesneuwel het. Ek het Cecelia van Straaten, saam met wie ek voorheen aan ’n hele paar prente gewerk het, gevra om die produksie-‐ontwerper te wees. Ons deel nie net dieselfde visie nie, maar sy weet presies hoe my kop werk, waarvan ek hou en waarvan ek glad nie hou nie. Cecelia het gesorg dat die rolprent ’n eenvoudige maar lewensegte gevoel het. Hoewel die boek in Johannesburg afspeel, het ons besluit om die rolprent na Kaapstad te verskuif. Ek en Cecelia moes toe plekke opspoor wat “werklik” gevoel het en in die proses het ons areas in Kaapstad herontdek (waarvan ons vergeet het) en op nuwes afgekom (wat ons nooit geweet het, bestaan nie). Hierdie gebiede, waarna dikwels as “agter die boereworsgordyn” verwys word, was die perfekte agtergrond vir die storie en die rolprent in sy geheel is binne 18 dae in Kaapstad geskiet. Om die produksie-‐ontwerp te komplementeer, was ek gelukkig genoeg om saam met die regisseur van fotografie, Jacques Koudstaal, te kon werk wat onlangs die lokettreffer, Pad na jou Hart, verfilm het. Hoewel sy vorige werk nie hierdie genre insluit nie, was hy sonder twyfel die regte keuse. Hy het byvoorbeeld presies die regte beligting vir die stelle gebruik. Ons wou hê dat die rolprent ’n meer internasionale gevoel het en ons het dit reggekry deur middel van die kunsregissering en kinematografie. Mandy Roberts wat voorheen by Verraaiers betrokke was, was die redigeerder en sy het ’n gespanne atmosfeer by die vloei van die tonele geskep. Johnny Breedt, regisseur en skrywer
ROLVERDELING Gys de Villiers – Abel Lotz Abel is ’n alleenloper, ’n versamelaar van etniese maskers, dierepelse en ’n man met ’n dors na menslike tatoeëermerke. Hy is die koel, kalm reeksmoordenaar op ’n missie om ’n nuwe gesig by sy versameling te voeg. Abel word deur Gys de Villiers gespeel, alombekende en gewilde akteur wat al in verskeie teaterproduksies, televisiereekse en bekende rolprente gespeel het. De Villiers is seker die bekendste vir sy rol as Zieg Combrink in M-‐Net se sepie, Binnelanders. Sy eerste teaterrol was saam met Lochner de Kock en Marie Human in The Three der Walts. Dit het hom oorreed om ’n loopbaan as akteur te kies en hy het drama aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer. In 1983 sluit hy by TRUK aan waar hy saam met akteurs soos Marius Weyers, Sandra Prinsloo en Tobie Cronje gewerk het. Gedurende die eerste tien jaar van sy loopbaan fokus De Villiers net op teaterwerk. Sy eerste groot rol in televisie was in 1993 in Triptiek 1 en 2 en later Die Vierde Kabinet. Hy speel ook die hoofrolle in gewilde sepies soos 7de Laan, Binnelanders en Isidingo en verskyn in rolprente soos Boetie Gaan Border Toe (1984), Paljas (1998), Jimmy in Pienk (2013) en Strikdas (2015) en hy vertolk FW de Klerk in Mandela: Long Walk to Freedom (2013). By die 2012 Silwerskerm-‐filmfees wen hy die prys as beste akteur vir sy vertoning in Verraaiers (2013). De Villiers en sy vrou het aan die begin van 2015 na New York-‐stad verhuis waar hy in Athol Fugard se nuutste toneelstuk, The Painted Rocks at Revolver Creek, te siene was. Hy het ook groot lof ontvang vir sy vertolking in Fafi, wat deel van die New York Fringe Festival was en tree ook in die stuk, Elsie se Nommers, by die InniBos-‐fees in Nelspruit op.
Juanita de Villiers – speurder Ella Neser Ella Neser se eerste moordsaak val in haar skoot toe ’n lyk in hulle polisiestasie se jurisdiksie opduik. Sy besef baie vinnig dat sy meer gekry het as waarmee sy gemaklik is toe nog lyke ontdek word. Die moordsake dreig ook om haar lewe oor te neem omdat sy vasberade is om die elke moord op te los. Juanita de Villiers wat die rol van Ella speel, is ’n uiters talentvolle aktrise, danser en uitvoerende kunstenaar. Sy het in 2006 haar professionele debuut by die Grahamstadse Fees in die produksie Lost in Thought gemaak wat deur Christa-‐Louie van Heerden geregisseer is. In 2009 doen sy onder die regie van Shareen Swart die komiese teaterproduksie, Hemelbed. Haar televisiedebuut maak sy in die bekende sepie, 7de Laan, en daarna is sy ook te sien in M-‐Net se Binnelanders. De Villiers het ook die geleentheid gehad om onder die regie van Pieter Bosch Botha in die toneelstuk, Noises Off, te werk asook in Mis, deur die bekroonde dramaturg Reza de Wet, met Andre Stolz as die regisseur. Sy het sedertdien in rolprente soos Bakgat 2, Koringberg, Knysna, Somer Son en Die Pro gespeel. Haar grootste rol tot nou toe was die vroulike hoofrol in Die Ontwaking. Gérard Rudolf – Fred Lange In vergelyking met Ella is Fred ’n veteraanspeurder. Hy is redelik vies toe Ella die moordsaak kry maar help haar nietemin om die moordenaar op te spoor. Gérard Rudolf is ’n bekende akteur, stemkunstenaar, skrywer, regisseur en digter. Hy gradueer aan die Universiteit van Pretoria met ’n BA-‐graad in Drama en Engelse Letterkunde.
Hy begin sy loopbaan in 1992 in die televisiereeks Arende II en was sedertdien in verskeie televisiereekse soos Getroud met Rugby, Binnelanders en Bloedbroers. Hy word ook deur SAFTA genomineer as beste akteur vir sy toneelspel in Donkerland. Sy mees onlangse rolprenthoogtepunte was Jadotville, Jimmy in Pienk en Wolwedans in die Skemer. Rudolf was ook in die Bengali-‐prent, Chander Pahar, die ambisieuse verwerking van die Indiese roman met dieselfde naam. In 2015 wen hy die toekenning as die beste akteur by die Silwerskerm-‐fees vir die ontstellende kortfilm, Vryslag. Hy is ook ’n digter en wat sy eerste bundel poësie in 2009 met die titel Orphaned Latitudes gepubliseer het.
Paul Eilers – Silas Sauls Silas is die bevelvoerder van die polisiekantoor – ’n bloedhond op sy dag, maar nou naby aan aftree. En omdat hy ’n sagte plekkie vir Ella het, gee hy haar haar eerste kans met ’n moordsaak hoewel hy altyd byderhand is om haar te help en te lei. Paul Eilers se loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf het 40 jaar gelede begin as redigeerder en later as regisseur van televisierolprente en -‐reekse. In 1963 sluit hy by Johan Fourie se teatermaatskappy aan en reis die volgende drie saam met hulle deur die land as maatskappybestuurder, verhoogbestuurder en akteur. Hy werk later vir KRUIK waar hy honderde vertonings van Die Laaste van die Takhare doen en byna al die streeksteatergroepe se regie behartig. In 1972 word Paul deel van die Afrikaanse Diens van die SABC as radio-‐omroeper en redigeerder van verskeie radiodramas. In 1984 vestig hy homself as ’n immergewilde akteur in die Afrikaanse televisiereeks, Vyfster, wat in ’n gevangenis afspeel. In 1996 word hy die bemarkingsdirekteur (as deel van die organiseringskomitee) van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees. Terwyl hy in Oudtshoorn woon, stig hy die gemeenskapsradiostasie, Suid-‐Kaap Stereo. Maar met sy terugkeer na die verhoog om die titelrol in Faan se Trein te speel, bewys hy weer eens dat hy een van Suid-‐Afrika se beste akteurs is. Met die toneelstuk ontvang hy landwyd staande ovasies en wen die Herrie-‐Kanna-‐toekenning as die gehoor se gunsteling. Mettertyd verskuif sy fokus egter weer na regie nadat hy in 2011 gevra is om Roepman te regisseer. Die rolprent was ’n lokettreffer en word deur resente sowel as gehore groot lof toegeswaai wat Eilers weer stewig in die regisseurstoel plaas. Hy behartig hierna die regie van Verraaiers en Stuur Groete vir Mannetjies Roux, maar werk steeds as akteur, veral “as ek van die rol hou”, sê hy. Morne Visser – Dawid Eigelaar Dawid is ’n hartebreker onder die vrougeslag, ’n ryk plaaslike sakeman met ’n konneksie met al die slagoffers, wat hom gou ’n verdagte in die moordsaak maak. Morne Visser speel die rol van Dawid. Hy het al rolle in internasionale rolprente soos City of Violence (Zulu), Mandela: Long Walk to Freedom en Racing Stripes gehad, was in die derde seisoen van Black Sails en daarna in The Odyssey met Audrey Tautou, wat binnekort vrygestel word. Hy is in Suid-‐Afrika bekend vir sy televisierolle in S.O.S, Scandal, Orion en Vallei van Sluiers en speel ook in die rolprente, Skoonheid, Retribution, Cape of Good Hope en nou in Die Ontwaking. Hy deins ook nie sommer weg van moeilike rolle nie was in die internasionaal bekroonde en omstrede prent, Skoonheid, te sien. Hy is onlangs, by die 2015 Silwerskermfees, as beste akteur aangewys vir Dis ek, Anna, waarin die moeilike onderwerp van kindermolestering onder die loep geneem word.
Armand Aucamp – Bam Bam is Ella se kêrel, maar net totdat sy hom in die bed met ’n ander meisie betrap. Hy probeer sy bes om haar terug te wen en kom mettertyd agter dat die reeksmoordenaar ook op haar spoor is. Armand Aucamp het in televisie, rolprente, teater en radio as akteur sowel as vervaardiger gewerk. Vir die afgelope ses jaar werk hy plaaslik en oorsee, en sy teaterkrediete sluit in Mary and the Conqueror (Kaapstad, Johannesburg, Dublin) waarin hy Alexander the Great speel, Iago in Othello met Mary Dreyer as regisseur, Bladsy 3 deur Vicky Davis, Huis Toe (die Afrikaanse verwerking van Harold Pinter se The Homecoming met die regie deur Henry Milne) en die titelrol van Cardenio: Shakespeare’s Lost Play by Maynardville. Sy nuutste televisierolle sluit Sterlopers, Pandjewinkelstories, HBO se Homeland Season 4 asook die CBC se mini-‐reeks (in ses aflewerings), The Book of Negros, teenoor Cuba Gooding Jr en Aunjanue Ellis in. Hy was ook in internasionale prente soos Mandela: Long Walk to Freedom, 21st Century Fox se Chronicle, BBC se Mankind en meer onlangs in Gavin Hood se nuutste vollengteprent, Eye in the Sky. Op die plaaslike rolprenttoneel was hy in onder meer Knysna en Die Ontwaking. Aucamp is tans op die groot skerm te sien as die nuwe Jacques Rynhard in Ballade vir ’n Enkeling. Hy het ook die hoofrol in ’n nuwe kykNET-‐dramareeks, Die Boekklub, losgeslaan en verfilm tans aan seisoen twee van Sterlopers vir kykNet en werk volgende jaar aan die epiese biofilm, Krotoa, waarin hy die rol van Jan van Riebeeck vertolk. Jaco Muller – Andy Collipepper As ’n ondersoekende joernalis vir die plaaslike koerant dek Andy die storie oor die reeksmoordenaar en word onwetend ’n pion in die moordenaar se speletjie. Jaco Muller het oudiovisuele produksiebestuur by die Universiteit van Johannesburg studeer maar het sy liefde om akteur te wees, aan die gang te hou deur by die UJ-‐kunsakademie op te tree. Hy sit sy studies aan die Universiteit van die Witwatersrand voort en behaal in 2005 ’n BA Honneurs in drama met rolprent en regie. Muller is sedertdien ’n professionele akteur en buiten rolprente en televisie geniet hy dit steeds om op die verhoog te wees. Hy het ’n lang lys oorspronklike en klassieke musikale produksies gedoen, onder andere Showboat, waarmee hy in 2004 deur Engeland gereis het. Sy bekendste vertolkings is in Liefling, Pad na jou Hart, Angus Buchan’s Ordinary People, Angel of the Skies en Kite. En in 2016 kan ons hom sien in Modder en Bloed en Die Ontwaking. Muller was in vele televisieprogramme te sien, soos Unsung Heroes, Erfsondes, Donkerland en Swartwater. Hy sien baie uit na die reeks Bloedbroers en die tweede seisoen van Sterlopers, waarin hy in 2016 sy rol as Henk hervat. In sy vrye tyd regisseer hy ook musiekvideo’s en kortvorminhoud vir ’n verskeidenheid korporatiewe kliënte en as musikant geniet Muller dit om basghitaar te speel – hy speel juis nou saam met T.A.B.O. en Steyn de Wet, saam met wie hy ook skryf, opnames maak en optree. Tertius Meintjies – Dr Koster Dr Koster is die patoloog wat die outopsies uitvoer om vas te stel hoe Abel se slagoffers gesterf het. Akteur en fotograaf Tertius Meintjies speel die patoloog. Hy is baie bekend vir sy rolprentrolle as Joyboy in Agter Elke Man (1990) en luitenant Bloem in Sarafina! (1992), asook vir sy rolle in Mandela and de Klerk (1997) en The Librarian: Return to King Solomon's Mines (2006).
FILMSPAN
Johnny Breedt – skrywer, regisseur en vervaardiger Johnny Breedt het ’n nasionale diploma van vier jaar in teater en verhoogontwerp met onderskeiding aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie behaal en daarna posisies in ’n paar kunsdepartemente van plaaslike en internasionale rolprente beklee, gewoonlik as die kunsregisseur. Sy deurbraak as produksie-‐ontwerper kom met die plaaslike rolprent, A Woman of Colour, gevolg deur Paljas, waarvoor hy ’n M-‐Net nominasie vir die All-‐Africa Award kry. Paljas wat deur Katinka Heyns geregisseer is, was die eerste Suid-‐Afrikaanse film wat ingeskryf is vir ’n Academy Award in die kategorie, beste buitelandse rolprent. Breedt het ook Terry George se Hotel Rwanda (United Artists) en Phillip Noyce se Catch a Fire (Universal Pictures) se ontwerp behartig. Vir laasgenoemde word hy vir ’n Suid-‐Afrikaanse rolprent-‐ en televisietoekenning (SAFTA) genomineer. Hy was ook verantwoordelik vir die ontwerp van Wes Craven se hermaak van The Last House on the Left (Rogue Films/Universal Pictures). Breedt werk saam met Anthony Minghella vir HBO, BBC en HWC op The No. 1 Ladies’ Detective Agency, en hierna ontwerp hy die biorolprent Mandela: The Long Walk to Freedom wat deur Anant Singh (VideoVision) vervaardig en Justin Chadwick geregisseer is en ontvang die SAFTA vir beste produksie-‐ontwerp daarvoor. Hy was ook vir Gavin Hood se nuwe Film Eye in the Sky se ontwerp verantwoordelik, asook die televisiereeks Of Kings and Prophets vir Disney/ABC. Breedt het in 2011 die kortfilm The Far Far Tree geskryf en geregisseer. Die Ontwaking is sy eerste vollengteprent. Vlokkie Gordon – vervaardiger, Advantage Entertainment Vlokkie Gordon, die stigter van Advantage Entertainment, werk al vir 30 jaar in die vermaaklikheidsbedryf, spesialiseer in die struktuur van finansies en is dikwels betrokke by Suid-‐Afrika se belangrikste befondsingsliggame. Met meer as 50 groot rolprent-‐ en televisievervaardigingskrediete op haar naam, wat prente insluit soos Mandela: Long Walk to Freedom, Chronicle, Wes Craven se The Breed en Academy Award-‐wenner Anthony Minghella se The No 1 Ladies Detective Agency, is Gordon een van Suid-‐Afrika se suksesvolste lynvervaardigers en baie gesog as toesighoudende vervaardiger vir internasionale produksies wat in Suid-‐Afrika geskiet word. In 2014 het sy vier plaaslike rolprente, Die Ontwaking, Hollywood in my Huis, Breathe / Umphefumlo en Uitvlucht vervaardig. Sy is tans die fasiliteerder van twee internasionale televisiereekse: Jamillah & Aladdin is ’n kinderrreeks van 26 episodes deur Kindle Entertainment vir die BBC; Of Kings and Prophets is die nuwe vlagskipreeks vir ABC Network wat in sy geheel in en om Kaapstad geskiet word. Advantage Entertainment is ook die plaaslike vervaardigingsvennoot van Pathê se nuwe vollengteprent, A United Kingdom, wat in Botswana en Zambië verfilm word.
ROLVERDELING
GYS DE VILLIERS Abel Lotz JUANITA DE VILLIERS Speurder Ella Neser GERARD RUDOLF Fred Lange PAUL EILERS Silas Sauls MORNE VISSER Dawid Eigelaar ARMAND AUCAMP Bam JACO MULLER Andy Collipepper
TERTIUS MEINTJIES Dr Koster
FILMSPAN
Regisseur JOHNNY BREEDT
Vervaardiger VLOKKIE GORDON Vervaardiger JOHNNY BREEDT Vervaardiger GREIG BUCKLE
Kinematograaf JACQUES KOUDSTAAL Produksie-‐ontwerper CECELIA VAN STRAATEN Kostuumontwerper DIANA CILLIERS Kostuumontwerper PHILIP STAPELBERG Redigering MANDY ROBERTS Oorspronklik Musiek IAN THOMAS Uitvoerende Vervaardiger CHARON LANDMAN Draaiboekskrywer JOHNNY BREEDT
Gebaseer op die roman, Abel se Ontwaking, deur Chris Karsten