HOOFSTUK 'N UITEENSETTING VAN AFRIKAANSE …
Transcript of HOOFSTUK 'N UITEENSETTING VAN AFRIKAANSE …
16
HOOFSTUK
2
'N UITEENSETTING VAN AFRIKAANSE
HOOFWERKWOORDE IN ALFABETIESE ORDE
2.1 INLEIDING
In hierdie hoofstuk word 'n alfabetiese uiteensetting van verskillende tipes Afrikaanse
hoofwerkwoorde gegee. Die uiteensetting berus hoofsaaklik op die indeling wat in
taalhandboeke vir sekondêre en tersiêre onderrig aangetref word, asook op navorsing
wat ten opsigte van die Afrikaanse werkwoord gedoen is. Die uiteensetting het ten doel
om die uiteenlopende indelings van Afrikaanse hoofwerkwoorde te belig. Daar word
geen onderskeid tussen sintaktiese of semantiese verskille tussen die tipes
hoofwerkwoorde getref nie, omdat hierdie faktore in hoofstuk 4 en 5 onder die loep
geneem word. Veral twee sake kom in hierdie hoofstuk aan bod:
• Die hoofde waaronder verskillende outeurs Afrikaanse werkwoorde indeel
• Die werkwoorde wat die literatuur opgelewer het, alfabeties uiteengesit
2.2 WERKWOORDSOORTE IN DIE LITERATUUR
In De Villiers (1951:16) word werkwoorde in slegs drie kategorieë verdeel, naamlik:
• Gewone werkwoorde, wat die meerderheid werkwoorde in Afrikaans insluit. De
Villiers (1951:13) wys daarop dat die grootste aantal werkwoorde in Afrikaans slegs
een niesaamgestelde vorm het, byvoorbeeld gaan, vra en maak, wat die
stamvorm genoem word. Sodra die stamvorm in samehang met het optree, neem
baie van die werkwoorde 'n gewysigde vorm met die voorvoegsel ge- aan:
gegaan, gevra, gemaak. Die verbinding van het +die werkwoord word die
saamgestelde vorm genoem. Het in verbinding met twee of meer werkwoorde,
neem gewoonlik nie die voorvoegsel ge- nie. Dit geld veral die groepe gaan, kom,
bly en laat. Die groepe met probeer, help, leer, begin, aanhou, ophou en durf
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
17
kom met of sonder die voorvoegsel ge- voor.
• Modale hulpwerkwoorde (kan, moet, sal, wil, mag, en die sekondêre vorme
daarvan, naamlik kon, moes, sou, wou en mog
• Die koppelwerkwoord wees
Van der Walt, Van Aard en Eksteen (1968:104) se indeling van werkwoorde berus
slegs op die onderskeid tussen hoof-, hulp- en skakelwerkwoorde. In Rossouw e.a.
(1974:325-334) word die volgende indeling van die Afrikaanse werkwoordstelsel
aangetref:
• Selfstandige werkwoorde: teenwoordige en verlede deelwoorde, skeibare en
onskeibaar saamgestelde werkwoorde
• Hulpwerkwoorde (tyd, vorm en wyse)
• Koppelwerkwoorde
• Die infinitief
De Klerk e.a. (1987:316) bespreek werkwoorde onder die volgende hoofde:
• Selfstandige werkwoorde (oorganklik, onoorganklik, onpersoonlik en
wederkerend)
• Hulpwerkwoorde (tyd, wyse en vorm)
• Koppelwerkwoorde
• Die infinitief
• Werkwoorde ten opsigte van tyd (teenwoordige, verlede en toekomende tyd)
• Deelwoorde (teenwoordige en verlede)
• Skeibare en onskeibare werkwoorde
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
18
In handboeke op tersiêre vlak, word 'n meer gedetailleerde uiteensetting van
werkwoorde aangetref. In Ponelis (1968:50) word hoofwerkwoorde as deel van die
werkwoordstukke beskryf, naamlik:
• Die oorganklike werkwoordstuk
• Die onoorganklike werkwoordstuk
• Die voorsetselwerkwoordstuk
• Die koppelwerkwoordstuk
In Ponelis (1979) word hoofwerkwoorde beduidend verfyn. Die talle
hoofwerkwoordkategorieë wat aangetoon word, word verderaan in die hoofstuk onder
die loep geneem.
Van Schalkwyk en Kroes (1979:65-70) verduidelik werkwoorde aan die hand van
subkategorieë wat op die sintaktiese én semantiese kenmerke van die bepaalde
werkwoorde berus:
• Werkwoorde van beweging
• Instrumentwerkwoorde
• Materiewerkwoorde
• Onpersoonlike werkwoorde
• Koppelwerkwoorde
• Werkwoorde van tyd (voltooidheid en die toekomende tyd)
• Werkwoorde van die passief
• Modale of sogenaamde hulpwerkwoorde
• Werkwoorde van posisie
• Werkwoorde van sintuiglike waarneming
De Villiers (1983:143) verskaf 'n kort opsomming van die soorte werkwoorde, wat hy
soos volg klassifiseer:
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
19
• Hoofwerkwoorde, wat sentrale, partikel- of koppelwerkwoorde kan wees
• Hulpwerkwoorde het, word/is/was
• Modale werkwoorde
• Medewerkwoorde
Hierdie indeling verskil effens van die vorige klassifisering (1971:24-27) wat hy onder
die volgende opskrifte beskryf:
• Selfstandige werkwoorde
• Koppelwerkwoorde
• Medewerkwoorde
• Modale werkwoorde
Meij e.a. (1987:243-249) beskryf aspekte van werkwoorde onder die volgende
opskrifte:
• Oorganklike en onoorganklike werkwoorde
• Die wederkerende werkwoord
• Die wederkerige werkwoord
• Die onpersoonlike werkwoord
• Die koppelwerkwoord
• Die hulpwerkwoord (van tyd, vorm en wyse)
• Die historiese teenwoordige tydsvorm
• Die skeibare werkwoord
• Die onskeibare werkwoord
• Die teenwoordige en verlede deelwoord
• Die infinitief
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
20
2.3 HOOFWERKWOORDKATEGORIEË UIT DIE LITERATUUR
In tabel 1.1 is die talle tipes hoofwerkwoorde uit die literatuur aangetoon. Hierdie tipes hoofwerkwoorde word vervolgens alfabeties bespreek.
2.3.1 Aktiwiteitswerkwoorde
Aktiwiteitswerkwoorde word deur Van Niekerk (1997:99) in twee tipes verdeel, naamlik teliese en ateliese aktiwiteitswerkwoorde. Die onderskeid tussen sodanige aktiwiteitswerkwoorde word aan die hand van die volgende sinne geïllustreer:
(23) Elana Meyer stoot die waentjie (ateliese aktiwiteitswerkwoord). (24) Elana Meyer hardloop die myl (teliese aktiwiteitswerkwoord).
Hoewel (23) en (24) relasioneel van aard is, verskil die relasie met betrekking tot die voorwerp. In (23) bestaan die voorwerp reeds, en uit die relasie ontstaan die handeling stoot. In (24) bestaan die voorwerp nog nie, maar bestaan die voorgenome doelwit wat uit die aksie tot stand moet kom. Indien Elana die hardloopaksie sou staak alvorens die myl voltooi is, is die doel nie suksesvol bereik nie. By die teliese gebruik van die aktiwiteitswerkwoord is die voorwerp (die myl) die resultaat of eindproduk van 'n doelbewuste handeling (hardloop). Daar is dus sekere voorwaardes aan die handeling verbonde, naamlik dat die aksie voltooi moet word. In (23) kan Elana enige tyd die handeling van (die waentjie) stoot staak, sonder dat daar aan die suksesvolheid van die aksie getwyfel word.
2.3.2 Aspektuele werkwoorde
Vir Ter Meulen (1990:378) is aspektuele werkwoorde kwantifikasioneel van aard:
"The aspectual verbs (start, stop, continue) are semantically represented as relations, called aspectual constraints, between an antecedently reference-time t as restrictive term and the event- type e described by the complement in nuclear scope."
t verteenwoordig dan die temporele tydskema van die kernwerkwoord, en e die
ruimtelike komponent of soortelikheid van die handeling.
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
21
Die werkwoorde begin, aanhou en ophou druk byvoorbeeld aspek uit, en wel die
aanvang, die voortduring en die afloop van gebeure (De Villiers, 1983:146).
2.3.3 Assisterende werkwoorde
Een van die talle werkwoordtipes wat in die literatuur voorkom, is assisterende
werkwoorde. Botha (1987:75) beskou dit as "'n soort oorganklike hoofwerkwoord
wat slegs 'n klous (clause)1 as direkte voorwerp kan hê", byvoorbeeld:
(25) Hy laat sy seun al die swaar werk doen.
(26) Smeerwortelroom laat beserings vinniger genees.
Assisterende werkwoorde verskil wesenlik van enige ander tipe werkwoord. Die toets
wat assisterende werkwoorde byvoorbeeld van medewerkwoorde onderskei, is daarin
geleë dat medewerkwoorde uitgeryg kan word (vgl. 5.9) en assisterende werkwoorde
nie. In hierdie opsig stem die niewerkwoordelike partikel van die deeltjiewerkwoorde
(2.3.5) en die assisterende werkwoorde ooreen – hulle kan nie uitgeryg word nie.
1
'n Klous (clause) is 'n konstruksie wat 'n (hoof)werkwoord bevat, ongeag of die konstruksie afhanklik of onafhanklik is (Ponelis, 1979:3). In die enigste studiegids vir AFK203-V (Universiteit van Suid-Afrika) word die term klous gebruik as "'n sinoniem vir 'n sintaktiese eenheid bestaande uit 'n hoofwerkwoord en al die verbandhoudende stukke daarvan".
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
22
2.3.4 Bewerkingswerkwoorde
Daar moet onderskei word tussen bewerkingswerkwoorde as versamelterm vir alle
werkwoorde wat verandering in die voorwerp bewerk, deur middel van die
betrokkenheid van die onderwerp by die handeling, wat in die werkwoord genoem
word, en komplementwerkwoorde (vgl. 5.14) wat 'n subklas van bewerkingswerk-
woorde is (Du Plessis, 1974:96). Komplementkonstruksies belig die semantiese
verskil tussen bewerkte en onbewerkte voorwerpe:
(27) Lees die brief (onbewerkte voorwerp).
(28) Skryf die brief (bewerkte voorwerp).
Skryf in (28) is 'n bewerkingswerkwoord wat 'n uitwerking op die voorwerp het en 'n
bepaalde verandering ten opsigte van die voorwerp meebring (Ponelis, 1979:216).
2.3.5 Deeltjiewerkwoorde
Deeltjiewerkwoorde is nie 'n aparte kategorie hoofwerkwoorde nie, omdat
deeltjiewerkwoorde onder "bykans alle tipes hoofwerkwoorde ressorteer" (Ponelis,
1979:232). Volgens Ponelis (1979:232) is 'n deeltjiewerkwoord 'n baie hegte
verbinding van 'n werkwoordelike element met 'n ander element - die deeltjie - om
sodoende saam 'n leksikale eenheid, die hoofwerkwoord, te vorm. Voorbeelde van
sodanige werkwoorde is dophou, uitlig of omspit.
In sommige taalhandboeke word deeltjiewerkwoorde skeibare werkwoorde genoem
(vgl. Meij e.a. 1987:246), maar Ponelis (1968:44) vind hierdie benaming 'n
verwarrende en teenstrydige term, omdat iets wat skeibaar is nie tegelyk saamgesteld
kan wees nie.
Van der Walt, Van Aardt en Eksteen (1968:109) huldig, soos Ponelis, die siening dat
die benaming skeibare werkwoorde of skeidbaar saamgestelde werkwoorde
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
23
onvanpas is, omdat "een woord nie geskei of skeidbaar gebruik kan word nie". Die
outeurs verkies die benaming partikelwerkwoorde, omdat "(d)ergelike werkwoorde
… uit 'n werkwoordstam en 'n partikel wat daarby hoort (bestaan)". Badenhorst (1971,
in Du Plessis, 1972:6) verkies ook om die groep werkwoorde wat Ponelis
deeltjiewerkwoorde noem, partikelwerkwoorde te noem.
De Villiers (1983:57) wys daarop dat deeltjiewerkwoorde ook ander name het, naamlik
frasewerkwoorde of idioomwerkwoorde, op grond daarvan dat die onmisbare
(semantiese) komplement 'n idiomatiese eenheid vorm, soos in skool hou, na-aap en
afrokkel. Dit geld nie ten opsigte van deeltjiewerkwoorde soos inkom, uitstap,
ombeweeg en verbyskuur nie, omdat hier nie sprake van 'n idiomatiese uitdrukking
is nie. De Villiers (1983:103) stel dit dat die term partikelwerkwoorde net vir
verbindings gebruik word wat aanmekaar geskryf word, byvoorbeeld plaasvind,
grondvat, spoorsny, deelneem, padgee, kafloop, uitpluis of afrokkel, maar wys
daarop dat daar in baie gevalle getwyfel kan word of woorde partikelwerkwoorde is, of
sentrale werkwoorde met 'n besondere gebruikswyse.
Volgens De Villiers (1983:104) tree partikelwerkwoorde ten opsigte van plasing in 'n
sin soos gewone sentrale werkwoorde (vgl. 2.3.45) op, en het die sintaktiese
komplement verskillende posisies volgens die konstruksie:
• Dit staan direk voor die werkwoord in bysinne en na hulpwerkwoorde.
In De Villiers (1983:104) word die volgende voorbeelde te illustrasie gebruik:
(29) Ons sal die saak uitpluis.
(30) Hy wil die saak uitpluis.
(31) Hy het die saak uitgepluis.
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
24
In hoof- en enkelvoudige sinne, sonder hulpwerkwoorde, staan die komplement aan
die einde van die sin, byvoorbeeld:
(32) Hy pluis altyd elke saak tot in die fynste besonderhede uit
(De Villiers, 1983:104).
Du Plessis (1972:6) dui aan dat nie alle skeibaar saamgestelde werkwoorde, of
partikelwerkwoorde, deeltjiewerkwoorde is nie. Dit is verwarrend, omdat die Engelse
benaming vir deeltjiewerkwoorde particle verbs is (Fraser, 1966; Jacobs &
Rosenbaum (1970) soos aangehaal in Du Plessis, 1972:6).
In die literatuur kom die terme deeltjiewerkwoorde, skeibare werkwoorde en
partikelwerkwoorde na willekeur as sinonieme voor, hoewel taalkundiges besliste
voorkeure ten opsigte van die terme toon. 'n Grondiger bespreking van
deeltjiewerkwoorde word in 5.17 aangetref.
2.3.6 Deiktiese werkwoorde
Deikties verwys regstreeks na die een of ander aspek van 'n gespreksituasie
(Ponelis, 1979:55). Tyd is deikties, aan die gespreksituasie geanker, met die tyd van
uiting as sentrum, die verlede as tyd voor die uiting, en toekoms die tyd na die tyd van
uiting (Ponelis, 1979:262). Werkwoordelike toekomsverwysing kom in
sinskonstruksies soos die volgende voor:
(33) Jy sal vir jou 'n sambreel moet koop as jy nie wil natreën nie.
(34) Ek gaan jou raps as jy weer ongehoorsaam is.
Plek is eweneens deikties aan die gespreksituasie geanker, met die spreker as
sentrum. Die werkwoorde kom, gaan en bring in die volgende sinne kan slegs binne
die gesprekskonteks geïnterpreteer word:
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
25
(35) Kom gou hier! (beweging na die spreker toe)
(36) Gaan was jou hande! (beweging weg van die spreker af)
(37) Bring asseblief vir my die skêr! (beweging na die spreker toe)
Deiktiese werkwoorde is dus tydruimtelik aan die gespreksituasie en die spreker
gekoppel (vgl. De Stadler, 1989:399).
2.3.7 Dinamiese werkwoorde
In verbale konstruksies waar handelinge of aksies soos skryf, hardloop of snoei
voorkom, word 'n onderliggende doen-predikaat veronderstel wat in die meeste
gevalle 'n besliste wilsuiting deur die agent of doener impliseer (vgl. Lyons, 1977:483;
Van Niekerk, 1982:10-11):
(38) Die meisie skryf ʼn brief.
(39) Wat die meisie doen, is om 'n brief te skryf.
(40) Die atleet hardloop baie vinnig.
(41) Wat die atleet besig is om te doen, is om baie vinnig te hardloop.
(42) Ek snoei die roosbome.
(43) Wat ek doen, is om die roosbome te snoei.
2.3.8 Duratiewe werkwoorde
Daar is 'n hegte samehang tussen statiese (vgl. 2.3.48) en dinamiese werkwoorde
(vgl. 2.3.7), en duratiewe en nieduratiewe of momentane werkwoorde (vgl. 2.3.28).
Volgens Van Niekerk (1982:15) word duratiewe werkwoorde op grond van hul interne
temporele struktuur onderverdeel in aktiwiteitswerkwoorde (vgl. 2.3.1),
privaatwerkwoorde (vgl. 2.3.41) en proseswerkwoorde (vgl. 2.3.42). Vergelyk ook van
der Merwe (1966:195) en De Villiers (1983:144).
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
26
2.3.9 Ervaringswerkwoorde
Volgens Ponelis (1979:231) neem ervaringswerkwoorde nielewende, veral abstrakte
onderwerpe (soos naamwoordsinne) en menslike "voorwerpe" wat nie werklik
voorwerpe is nie, maar op die ervaarder of betrokkene slaan:
(44) slaan my dronk
(45) gryp my aan
(46) vervul my met weersin
Werkwoorde soos dronkslaan, aangryp, vervul, grief, aantas, beklem, bekommer,
ontstel, kommunikeer die ervaring van die onderwerp en word op grond hiervan as
ervaringswerkwoorde gekategoriseer.
2.3.10 Feitelike werkwoorde
In koppelwerkwoordkonstruksies met blyk, is blyk 'n objektiewe (vgl. 2.3.30), feitelike
werkwoord wat 'n objektiewe/feitelike sinspredikaat + die voegwoord dat neem:
(47) Dit blyk dat die veroordeelde moordenaar vir meer as een moord
verantwoordelik was (feit).
In teenstelling met objektiewe, feitelike werkwoorde is die koppelwerkwoorde lyk,
gaan, klink, ruik, skyn, smaak, voel en voorkom niefeitelike/subjektiewe
werkwoorde wat subjektiewe sinspredikate + die voegwoord(e) of/asof neem:
(48) Dit lyk of/asof ons 'n baie koue winter gaan hê (moontlikheid).
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
27
Volgens (Ponelis, 1979:223) is gaan, klink, lyk, smaak en voorkom subjektiewe of
ervaringswerkwoorde met 'n "voorwerps-"voornaamwoord:
Tabel 2.1: Subjektiewe/Ervaringswerkwoorde met 'n voorwerpsvoornaamwoord
klink my
smaak my
lyk my
gaan my
Dit
kom my voor
of/asof
hy nie mooi weet wat aan die gang is nie.
In tabel 2.2 kom subjektiewe werkwoorde + 'n perspektiwiese voorsetselgroep (vir +
naamwoordstuk) voor (Ponelis, 1979:223).
Tabel 2.2: Subjektiewe werkwoorde + 'n perspektiwiese voorsetselgroep
is vir my
ruik vir haar
voel vir die personeel Dit
skyn vir hom
asof alles nie pluis is nie.
2.3.11 Finiete werkwoorde 'n Finiete werkwoorde is "die eerste werkwoordlid van die predikaat, die werkwoord wat in 'n onafhanklike sin onmiddellik langs (vóór of ná) die onderwerp staan" (Van Schoor, 1983:129, 130). Van Schoor wys daarop dat die finiete werkwoord slegs in die geval van die presens en die imperfek 'n hoofwerkwoord is. In die perfek is het die finiete werkwoord, en by modale predikate is die modale hulpwerkwoord die finiete werkwoord. Finiete werkwoorde staan ook as spilwerkwoorde of verbindwerkwoorde bekend (Van Schoor, 1983:47; Carstens, 1989:107).
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
28
2.3.12 Gemerkte werkwoorde
Werkwoordpatrone met net hoofwerkwoorde is ongemerk, terwyl werkwoordpatrone
wat ook medewerkwoorde bevat, gemerk is (Ponelis, 1979:189):
(49) Almal eet ongestoord voort (ongemerkte werkwoordkonstruksie).
(50) Ons sal die kinders se ouers moet ontbied (gemerkte werkwoord-
konstruksie: [+toekomende tyd]).
2.3.13 Handelingswerkwoorde
Alle komplementwerkwoorde (vgl. 2.3.19) is ook handelingswerkwoorde (Du Plessis,
1974:26). Wanneer die kenmerk [staties] by 'n werkwoord negatief gespesifiseer is, is
die werkwoord 'n handelingswerkwoord. Doen en maak is "prototipiese
handelingswerkwoorde" (Ponelis, 1979:411). Handelingswerkwoorde voldoen aan die
volgende toetse (Du Plessis, 1974:27):
• Slegs handelingswerkwoorde kan as hoofwerkwoorde in bevelsinne optree:
(51) Drink jou koffie!
(52) * Begeer die string pêrels.
• Slegs werkwoorde met die kenmerk [-staties], (met ander woorde,
handelingswerkwoorde) kan as hoofwerkwoord in die "is besig"-konstruksie
optree:
(53) Ek is besig om die koek te versier. (54) * Ek is besig om die voëltjies te sien.
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
29
Tabel 2.3: Werkwoorde met die kenmerke [+statief] en [-statief]
[statief] - + - +
drink begeer versier sien
2.3.14 Hortatiewe werkwoorde
Deur die gebruik van die hortatiewe konstruksie stel die spreker optrede voor waaraan
die spreker self gaan deelneem (Cole, 1975:259, soos aangehaal in Ponelis,
1979:389), byvoorbeeld:
(55) Laat ons spaander!
(56) Kom ons vergeet nou die verlede.
waar laat en kom die werkwoorde en ons die onderwerp is. Daar moet egter duidelik
onderskei word tussen die uiteenlopende aard van laat in
(57) Laat ons 'n lyn sny!
waar laat as hortatiewe werkwoord optree, en
(58) Laat die kinders die skottelgoed wegpak.
waar laat as 'n versoek gebruik is. Hoewel 'n kategorie hoofwerkwoorde wat as
versoekwerkwoorde getipeer is, nie in die navorsingsliteratuur voorkom nie, is die
benoeming van sodanige kategorie op grond van semantiese oorwegings moontlik.
2.3.15 Instrumentwerkwoorde
Van Schalkwyk en Kroes (1979:67) wys op 'n groep instrumentwerkwoorde wat
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
30
daarop dui dat die handeling met behulp van 'n instrument uitgevoer word. Voorbeelde
hiervan is hamer, saag, hark, ploeg, eg, borsel, skaaf, kam, skoffel, knip, soos in:
(59) Hy saag die hout (met 'n saag).
(60) Sy sny die vleis (met 'n mes).
(61) Die blare hark moeilik (met die hark).
(62) Die boere ploeg nou na die reën (met die ploeë).
2.3.16 Iteratiewe werkwoorde
In Afrikaans is daar 'n groep taaleenhede waarin dieselfde komponent twee keer
voorkom en wat as substantiewe, verba en adjunkte fungeer (Botha,1964:118),
byvoorbeeld:
(63) Die kinders speel bok-bok (substantief).
(64) Die perdekar skommel-skommel oor die sinkplaatpad (werkwoord).
(65) Noag het die diere twee-twee in die ark in geneem (adjunk).
Hierdie herhalingsamestellings of reduplikasievorme dui by die predikaat op 'n "soort
tentatiewe, versigtige, herhaalde gebeure" (Van Schoor, 1983:176). Iteratiewe
werkwoorde skakel baie heg met die "meer vorm is meer inhoud"-metafoor (vgl.
3.5.3).
'n Sintaktiese kenmerk van iteratiewe werkwoorde is dat die verledetydsmorfeem (die
perfektiewe ge-) net aan die begin van die eerste komponent van die
herhalingsamestelling kan voorkom:
(66) Hy het gebrom-brom, maar uiteindelik tog die werk gedoen.
(67) * Hy het gebrom-gebrom, maar uiteindelik tog die werk gedoen.
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
31
Volgens Botha (1964:124) kan die komponente van iteratiewe werkwoorde nie
uiteengeplaas word deur 'n taalelement tussenin te voeg, sonder dat die funksie van
die iteratief verlore gaan nie.
(68) Hy fluit-fluit terwyl hy werk.
(69) Die seuns fluit en fluit terwyl hulle werk.
(70) Hulle sing-sing die hele dag.
(71) Hulle sing en sing die hele dag.
(72) Ek voel-voel my weg deur die donker.
(73) Ek voel en voel my weg deur die donker.
2.3.17 Kinetiese werkwoorde
Werkwoorde wat ten opsigte van rigting gebruik word, noem Ponelis (1979:322)
kinetiese werkwoorde. Volgens Ponelis hou kinetiese werkwoorde met beweging
verband, en beweeg, loop, wandel, vertrek, vlieg, gaan en kom is voorbeelde
hiervan. Ponelis dui voorts aan dat kyk, mik, gryp, staan en wys ook kinetiese
werkwoorde is, hoewel hulle nie werkwoorde van beweging is nie, maar wel met
rigtinglokatiewe verbind, byvoorbeeld:
(74) Hy wys na my (Ponelis, 1979:323).
(75) Die seun rek hemelwaarts.
Hierdie uiteensetting van Ponelis word grondiger in 4.9 bespreek.
2.3.18 Kommunikasiewerkwoorde
Indien kommunikasie verstaan word as "om in verbinding te wees deur middel van
taal" (Odendal & Gouws, 2000:589) werp dit lig op Ponelis (1979:207) se kategorie
werkwoorde wat hy as kommunikasiewerkwoorde tipeer:
(76) Die voorsitter stel die belangegroep in kennis van die vergadering.
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
32
(77) Sy skryf vir haar ma van die ongeluk.
(78) Sy het die bestuurder verwittig van haar besluit.
2.3.19 Komplementwerkwoorde
'n Komplementwerkwoord is 'n (handelings)werkwoord wat as gevolg van die
betrokkenheid van die onderwerp by die handeling wat in die werkwoord genoem
word, 'n verandering in die aard of lokaliteit van die voorwerp waarop die handeling
gerig is, veroorsaak (Du Plessis, 1974:49), byvoorbeeld:
(79) Die meisie kleur haar hare bloedrooi.
(80) Waarom pak julle nie die gereedskap in die motorhuis nie?
(81) Breek die beskuitjies fyn voordat jy die botter byvoeg.
Volgens Du Plessis (1974:53) voorveronderstel komplementwerkwoorde die
volgende:
• Die voorwerp van die komplementwerkwoord het voor die aanvang van die
handeling 'n bepaalde aard of lokaliteit.
• Nadat die onderwerp die handeling in die komplementwerkwoord uitgevoer
het, verander die voorwerp.
Die implikasie is dat komplementwerkwoorde handeling, oorsaaklikheid (vgl.2.3.22) en
verandering in die aard van die voorwerp voorveronderstel.
2.3.20 Kondukteurswerkwoorde
Die term kondukteurswerkwoorde word slegs by Ponelis (1979:531-532) aangetref,
en is vir Ponelis 'n sintaktiese verskynsel. Met hierdie tipering verwoord Ponelis
(1979:531) die puristiese strewe by sommige skrywers, waar werkwoorde "soos 'n
kondukteurswa" by die sinseinde aangehaak word en werkwoordopeenhoping
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
33
ontstaan. Hierdie verskynsel is ook deur Le Roux (1950:263-270) beskryf en word
deur die volgende aanhaling deur Ponelis uit 'n koerant belig:
(82) Daar is min kans dat hulle vóór die einde van die jaar of vroeg
aanstaande jaar tot 'n vergelyk oor 'n nuwe ooreenkoms om
atoombomme en stategiese wapens te probeer beperk, SAL KOM
(Ponelis, 1979:532).
Ponelis (1979:532) stel voor dat die sentrumgrens (wat in hoofletters aangedui is)
vroeër in die sin geplaas word, omdat dit natuurliker en minder verwarrend sou wees:
(83) Daar is min kans dat hulle vóór die einde van die jaar of vroeg
aanstaande jaar tot 'n vergelyk SAL KOM oor 'n nuwe ooreenkoms om
atoombomme en strategiese wapens te probeer beperk.
2.3.21 Koppelwerkwoorde
Oor koppelwerkwoorde is heelwat in die literatuur geskryf (vgl. Ponelis, 1979:219; Van
Schalkwyk & Kroes, 1979:67; De Villiers, 1983:57; 152-156, Meyer e.a., 1986:210;
Botha, 1987:53-59), en derhalwe word slegs die kenmerkendste eienskappe daarvan
uitgelig. Die hoofkenmerk van koppelwerkwoorde is dat dit nie die enigste item in die
werkwoordstukkern kan wees nie, maar dat dit altyd saam met 'n sintaktiese
komplement moet optree :
(84) Marian is 'n uitmuntende navorser.
(85) Carlien lyk deesdae vir my altyd moeg.
(86) Dit word nou vinnig somer.
(87) Centurion was voorheen as Verwoerdburg bekend.
Indien die kopula-aanvullings weggelaat word, is die sinne ongrammaties:
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
34
(88) * Hy is.
(89) * Sy lyk.
(90) * Dit word.
(91) * Centurion was.
De Villiers (1983:152) toon die ooreenkomste, maar ook die wesenlike verskille,
tussen koppelwerkwoorde (kopulas) en partikelwerkwoorde (deeltjiewerkwoorde) aan.
Enersyds vereis albei kategorieë sintaktiese komplemente, maar by die
partikelwerkwoord word slegs een bepaalde komplement vereis, terwyl kopulas 'n
byna onbeperkte verskeidenheid komplemente kan hê.
'n Baie belangrike kenmerk van koppelwerkwoorde is dat koppelwerkwoordstukke nie
passiveerbaar is nie:
(92) Die peer smaak baie lekker.
(93) * Baie lekker word deur die peer gesmaak.
(94) Hy is 'n goeie dokter.
(95) * 'n Goeie dokter word deur hom geïs.
Volgens Ponelis (1979:219) is die koppelwerkwoord niehandelend, en bevat sodanige
werkwoorde nie 'n onderliggende doen-predikaat nie:
(96) Johan diens sy motor en Tertius doen doen dit ook.
(97) * Ek is deesdae altyd haastig en jy doen dit ook.
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
35
Die begrip koppelwerkwoord is beperk tot verbindings waar die werkwoord 'n
noodsaaklike komplement het wat uit een van die volgende bestaan: 'n
substantiefgroep, 'n adjektiefgroep, 'n voorsetselgroep, 'n infinitiefgroep, 'n
voornaamwoord, of 'n bysin. Die koppelwerkwoorde het in hul betekenis almal die
begrip wees as gemeenskaplike komponent (De Villiers, 1975:177). Heelwat items
kan as aanvulling by koppelwerkwoordkonstruksies optree, byvoorbeeld 'n
adjektiefstuk, 'n naamwoordstuk, 'n voorsetselgroep, 'n adjunk of 'n telwoord. Die
volgende voorbeeldsinne is uit De Villiers (1975:177) aangeteken:
(98) Die perskes lyk gesond vanjaar (adjektiefstuk).
(99) Na skool wil hy 'n dokter word ('n substantiefgroep).
(100) Die boek is in die biblioteek (voorsetselgroep).
(101) Die boek is hier (adjunk).
(102) Eduan word hierdie jaar dertien (telwoord).
(103) Dit is om (van) te huil (infinitiefgroep).
(104) Dit is hy (voornaamwoord).
(105) Dit is of alles donker word (bysin).
Voorts tree die leë onderwerp dit geredelik saam met die kopulakonstruksie op:
(106) Dit was 'n goeie besluit om die kleuter nog by die huis te hou.
(107) Dit is jammer dat julle so gou moes ry.
(108) Dit lyk of die kinders goed met mekaar oor die weg kom.
2.3.22 Kousatiewe werkwoorde
Crystal (1985:44) omskryf kousatiwiteit as "...a term used in grammatical description to
refer to the causal relationship between alternative versions of a sentence".
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
36
Grebe (1988:19 e.v.) wys daarop dat 'n kousatiewe situasie die volgende eienskappe
vertoon: dit bevat twee konseptuele momente, naamlik die veroorsakende en die
veroorsaakte moment – en hierdie twee momente staan in 'n kousale verband tot
mekaar. Die veroorsakende moment bevat 'n handeling wat op die voorwerp oorgaan
en 'n toestandsverandering van die voorwerp tot gevolg het.
Sinne soos
(109) Die kind het sy kop gestamp en (die kind het) gesterf. (110) Die student het sy studie verwaarloos en (die student het) sodoende
gedruip.
is relasioneel, omdat die oorganklike werkwoorde gestamp en verwaarloos as die
oorsaaklike weergawe van die onoorganklike gesterf en gedruip beskou kan word.
Die kind het gesterf as gevolg van die feit dat hy sy kop gestamp het, en die student
het gedruip omdat hy sy studie verwaarloos het. Gestamp en gedruip is in hierdie
gevalle dus kousatiewe werkwoorde. Die volgende sinne druk ook 'n kousatiewe
situasie uit:
(111) Ek het die kos laat aanbrand.
(112) Ek vleg gereeld my suster se hare.
2.3.23 Leë werkwoorde
Werkwoorde waarvan die semantiese inhoud weinig betekenis oordra, kan as leë
werkwoorde gekategoriseer word. Botha (1975:1) wys daarop dat sodanige
werkwoorde in sintaktiese verband slegs as grammatikale plekhouers optree. 'n Leë
werkwoord kom in (113) voor waar die werkwoord doen so algemeen,
ongespesifiseerd en insluitend is, dat die semantiese inhoud van die werkwoord as
baie gering beskou kan word (Botha, 1975:17):
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
37
(113) Die hoof doen gewoonlik die aanstellings.
Indien die werkwoord doen deur bewerkstellig vervang sou word, kom Botha
(1975:21) tot die gevolgtrekking dat bewerkstellig se betekenis of semantiese inhoud
meer gespesifiseer is as wat dit die geval met doen is, en dat doen derhalwe leër as
bewerkstellig is. Botha (1975:128) wys daarop dat daar grade van leegheid by
werkwoorde voorkom, en dat neem in (125) byvoorbeeld minder leeg as doen in
(113) of maak in (126) is.
Die werkwoord doen is in alle gevalle oorganklik, maar is "in ooreenstemming met die
semantiese aard van die werkwoord eintlik (ook) 'n skynoorganklikheid: dit is nie 'n
werklik semantiese oorganklikheid nie, maar moet eerder gesien word as 'n
grammatiese oorganklikheid" (Du Plessis, 1974:33):
(114) Die kinders doen hulle werk.
(115) * Die kinders doen.
Hoewel Du Plessis (1974:33) doen as onoorganklike werkwoord ongrammaties ag,
word 'n tendens onder jongmense waargeneem waar doen toenemend in sy
onoorganklike vorm (waarskynlik onder invloed van Engels) gebruik word. Vergelyk
byvoorbeeld die volgende:
(116) Vraag: Geniet jy nog die vakansie?
(117) Antwoord: Ja, ek doen. (Yes, I do.)
(118) Stelling: Jy behoort meer dikwels in die gimnasium te gaan oefen.
(119) Reaksie: Maar ek doen. (But I do.)
De Villiers (1948:66) dui aan dat die werkwoorde dra, gee, gebruik, hou, kry, neem
en maak ook 'n algemene, ongespesifiseerde betekenis het. Hierdie
ongespesifiseerdheid blyk uit die volgende sinne:
(120) Die meisie dra 'n ring.
(121) Ons gee hom die eer.
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
38
(122) Die seun gebruik slegte taal.
(123) Ek hou my woord.
(124) Ons kry min slaap.
(125) Hierdie taak neem baie tyd in beslag.
(126) Die orkes maak hul verskyning.
Ponelis (1979:208, 10) tipeer die werkwoorde doen, gee, hê, maak en kry as leë
werkwoorde:
(127) navraag doen
(128) die deurslag gee
(129) ʼn afkeer hê
(130) aanstaltes maak
(131) uitstel kry
2.3.24 Maatwerkwoorde
Volgens Van der Merwe e.a. (1971:147) is daar net vier maatwerkwoorde, naamlik
beslaan, duur, kos en weeg. Hierdie werkwoorde kom in sinne soos die volgende
voor:
(132) Die reis duur baie lank.
(133) Die boek beslaan 200 bladsye.
(134) Die walvis weeg 'n paar ton.
(135) Die rok kos 'n hele maand se salaris.
Maatwerkwoorde deel die kenmerke van die koppelwerkwoord, naamlik die
verbindbaarheid met 'n naamwoordstuk en/of die adjektiwiese koppelwerkwoord-
aanvulling (Ponelis, 1968:60-61; Du Toit, 1982:136).
2.3.25 Materiewerkwoorde Die kenmerk van hierdie kategorie werkwoorde is dat dit met 'n selfstandige
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
39
naamwoord in die subkategorie stofname korrespondeer (Van Schalkwyk & Kroes, 1979:67):
(136) Die munisipaliteit laat vandag die strate teer. (137) Jy moet die masjien gereeld olie as jy jarelange diens daarvan wil hê. (138) Ons moet onthou om die potplante te water voordat ons vertrek. (139) Room die botter en suiker goed, voordat jy die eiers byklits. (140) Na die winter sal ons die mure van die ou opstal weer kalk.
2.3.26 Matrikswerkwoorde Crystal (1985:190) definieer 'n matriks as "... a term used in linguistics, and especially in generative grammar, to refer to the superordinate sentence within which another sentence is embedded". Die matriks- en ingebedde sin blyk uit die volgende: (141) Die man wat gebel het, het gearriveer. Tabel 2.4: Die matriks- en die ingebedde sin
Matrikssin Matrikswerkwoord Ingebedde sin
Die man het gearriveer. gearriveer Die man het gebel.
In die ingebedde sin is die bysinwerkwoord deur sinsvereniging tot hoofwerkwoord
verhoog. Eweneens kan infinitiefsinne deur sinsvereniging binne die matrikssin
geabsorbeer word:
(142) Die swemmer probeer om strand toe te swem (infinitief).
(143) Die swemmer probeer strand toe swem (sinsvereniging). Verskillende klasse werkwoorde kan in die matrikssin optree:
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
40
(144) Die meisie oor wie ek bekommerd was, het nou die skool verlaat. (145) Die pere wat ek by die mark gekoop het, lyk lekker. (146) Die boek wat ek bestel het, het gearriveer. Tabel 2.5: Verskillende werkwoordklasse in die matrikssin
Matrikssin Matrikswerkwoord Ingebedde sin Werkwoordklas
Die meisie het nou
die skool verlaat.
verlaat Ek was bekommerd
oor die meisie.
Oorganklike werkwoord-
verlaat
Die pere lyk lekker. lyk (lekker) Ek het die pere by die
mark gekoop.
Koppelwerkwoord – lyk
Die boek het
gearriveer.
gearriveer Ek het die boek
bestel.
Onoorganklike
werkwoorde – arriveer
2.3.27 Mediale werkwoorde Van Schoor (1983:188) verwys na werkwoorde wat enersyds oorganklik, maar andersyds onoorganklik gebruik kan word, maar wat ten opsigte van vorm en
betekenis klaarblyklik dieselfde woord is, as mediale werkwoorde, byvoorbeeld:
(147) Sy skryf 'n brief aan haar tante (oorganklike werkwoord).
(148) Sy skryf baie netjies (onoorganklike werkwoord). 'n Mediale werkwoord het dus 'n oorganklike gebruik waarby die voorwerp onmisbaar is, en 'n onoorganklike gebruik waarin die onderwerp dieselfde saak aanwys as die voorwerp in die ooreenstemmende oorganklike gebruik (De Villiers, 1983:133). Vergelyk in hierdie verband ook De Villiers (1976:175). Myns insiens regverdig sodanige groep werkwoord nie 'n aparte benaming nie, omdat die werkwoorde gemaklik binne die tradisionele oorganklike en onoorganklike werkwoordkategorieë geakkommodeer kan word. Die volgende vrae oor mediale werkwoorde bly onbeantwoord:
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
41
• Geld die term mediale werkwoorde slegs vir werkwoorde wat oorganklik of onoorganklik gebruik kan word?
• Sluit die term werkwoorde soos reën in (1) uit wat tot die kategorie onoorganklike werkwoorde, onpersoonlike werkwoorde en werkwoorde van
weersgesteldheid kan behoort, of roep in (149) en (150) wat 'n oorganklike of 'n voorsetselwerkwoord kan wees, afhangende van die gebruiksituasie?
(149) Hy roep sy broertjie (oorganklike werkwoord).
(150) Hy roep om hulp (Van Schoor, 1983:193) (voorsetselwerkwoord).
Dit blyk sinvoller te wees om van die term mediale werkwoorde afstand te doen, en die betrokke werkwoorde eerder onder die primêre kategorieë te akkommodeer.
2.3.28 Momentane werkwoorde
In teenstelling met konstruksies waarin duratiewe werkwoorde (2.3.8) voorkom, is daar konstruksies waarin die werkwoorde se aanvang, verloop en afloop in één enkele moment saamgetrek is en daar geen bepaalde tydsverloop ten opsigte van die proses aangetoon kan word nie (Van Niekerk, 1982:31,32). Sodanige werkwoorde kom in die volgende sinne voor:
(151) Die man skiet 'n bok.
(152) Ek neem 'n mooi foto van die berge.
(153) Die skoot klap.
(154) Die handgranaat ontplof.
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
42
Op die oog af blyk daar ten opsigte van die nieduratiewe aspek van die werkwoorde
slegs ooreenkomste en geen verskille tussen skiet, neem, klap en ontplof te wees
nie. By nadere ondersoek blyk die verskille egter meer as slegs ten opsigte van die
transiwiteit van die eerste twee sinne, en die intransiwiteit van die laaste twee, te
wees. In die eerste twee sinne word 'n prestasiehandeling deur die doener
geïmpliseer en is die werkwoorde derhalwe prestasiewerkwoorde (vgl. 2.3 40),
terwyl die vermoë om te ontplof of te knal nie op die prestasie van die onderwerp
berus nie, maar eerder in die aard van die onderwerp verskans is en as momentane
werkwoorde beskou word (Van Niekerk,1997:101).
2.3.29 Niefeitelike oorganklike werkwoorde
Niefeitelike werkwoorde (vgl. subjektiewe werkwoorde, 2.3.49) soos aanneem, hoop,
meen, oordeel en voel, verbind nie met die voorlopige voorwerp dit nie (Ponelis,
1979:449).
Tabel 2.6: Niefeitelike werkwoorde en die voorlopige voorwerp dit
aangeneem
gehoop
gemeen
geoordeel
gevoel
* Die raad het DIT
aanvaar
dat die nodige stappe geneem is.
Sonder dit in die sinne, is die sinne grammaties korrek.
Ponelis (1979:449) tipeer hoofwerkwoorde soos aanneem, hoop, meen, oordeel en voel as niefeitelik, omdat die bysin wat op hierdie werkwoorde volg, nie op feite nie, maar op aannames, emosies en persepsies berus. Die bysinne het nie die waarde van stellings wat op onomstootlike bewyse berus nie. Wanneer 'n mens aanneem dat
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
43
die nodige stappe geneem is, gehoop het dat 'n opdrag uitgevoer is, gemeen het dat die komitee te drasties opgetree het, geoordeel het dat 'n straf wat opgelê is, te gering is, of voel dat die regering iets drasties aan die toenemende misdaad moet doen, impliseer dit geensins dat dit die geval is nie. Niefeitelike werkwoorde staan in direkte kontras met objektiewe (of feitelike) werkwoorde.
2.3.30 Objektiewe werkwoorde
In koppelwerkwoordkonstruksies (vgl. 2.3.21) met blyk, lyk, gaan, klink, ruik, skyn, smaak, voel en voorkom, is blyk 'n objektiewe, feitelike werkwoord wat 'n objektiewe/feitelike sinspredikaat + die voegwoord dat neem:
(155) Dit blyk dat ons onnodig oor sy welstand bekommerd was (feit).
Lyk, gaan, klink, ruik, skyn, smaak, voel en voorkom is niefeitelike/subjektiewe werkwoorde wat subjektiewe sinspredikate + die voegwoord(e) of/asof neem. Vergelyk in hierdie verband Ponelis (1979:598-599).
2.3.31 Omskrywingswerkwoorde
Omskrywingswerkwoorde en koppelwerkwoorde kan met mekaar verwar word, omdat werkwoorde soos is, was en word enersyds as koppelwerkwoorde, maar andersyds as omskrywingswerkwoorde in passiewe konstruksies kan optree. In 5.8.2 word breedvoeriger op die verwantskap tussen omskrywingswerkwoorde (passiefwerkwoorde) en koppelwerkwoorde gewys. Vergelyk Ponelis (1979:253).
Tabel 2.7: Koppelwerkwoorde en omskrywings- of passiefwerkwoorde
Koppelwerkwoorde Omskrywings-/ passiefwerkwoorde
Soms is kinders bang vir die donker. Heel dikwels is die vergaderings uitgestel.
Dit word jaarliks duurder om met vakansie te gaan.
Daar word hard gewerk om teen Vrydag klaar te wees.
2.3.32 Ongemerkte werkwoorde
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
44
Volgens Matthews (1997:217) geld gemerktheid (in Engels) ten opsigte van onder
andere [+verlede tyd], terwyl die teenwoordige tyd as [-verlede tyd] gespesifiseer word
(vgl. ook 2.3.12). Wanneer die term gemerktheid op Afrikaanse werkwoorde van
toepassing gemaak word, dui dit eweneens op werkwoorde wat die verlede tyd
impliseer, byvoorbeeld:
(156) Dit het verlede somer aansienlik meer by ons gereën as hierdie
somer.
2.3.33 Onoorganklike werkwoorde
Die belangrikste kenmerk van die onoorganklike werkwoord is dat dit selfstandig,
sonder enige noodsaaklike aanvulling in die werkwoordstukkern kan optree:
(157) Die onderwyseres staan versteen.
(158) Hy swaai tussen die groot hekke deur.
Die woorde staan, swaai en sit is onoorganklik gebruik, omdat dit nie heg met enige
ander item in die werkwoordstukkern verbind nie. Versteen en tussen die groot hekke deur is weglaatbare momente wat nie in die werkwoordstukkern optree nie. In
onpersoonlike konstruksies verskyn daar as onderwerp, in verbinding met word en
wees (Ponelis, 1979:408).
Omdat daar nie 'n direkte voorwerp is wat in die passiefvorm in die onderwerpposisie
kan optree nie, word daar as onderwerp van die passiefvorm gebruik:
(159) Die kinders speel.
(160) Daar word (deur die kinders) op die gras gespeel.
(161) Sy glimlag goedig.
(162) Daar word goedig (deur haar) geglimlag.
Volgens De Villiers (1975:176) is die werkwoorde wat onoorganklik genoem word, 'n
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
45
heterogene klas en verteenwoordig uiteenlopende tipes. Sintakties kan die gesegdes
van sinne waarin onoorganklike werkwoorde optree, in drie tipes verdeel, naamlik:
• Gesegdes sonder komplement (behalwe die onderwerp), byvoorbeeld:
(163) Die kinders speel (De Villiers, 1975:176) .
• Gesegdes met een komplement, byvoorbeeld:
(164) Hy kyk na hulle.
(165) Sulke ongelukke gebeur elke dag
(De Villiers, 1975:176).
• Passiewe gesegdes, byvoorbeeld:
(166) Oor dié saak is te lank geswyg (De Villiers, 1975:176).
2.3.34 Onpersoonlike werkwoorde
Volgens Van Schalkwyk en Kroes (1979:67) verwys onpersoonlike werkwoorde na "'n
handeling waarby 'n natuurelement betrokke is", en verbind onpersoonlike
werkwoorde met die onpersoonlike voornaamwoord dit, byvoorbeeld:
(167) Dit reën/sneeu/hael/dou/weerlig/blits/kapok/ryp.
2.3.35 Oorganklike werkwoorde
Die kenmerkendste eienskap van die oorganklike werkwoord is dat dit ten minste met
een naamwoordstuk in die predikaat verbind. Die oorganklike werkwoord kan nie
alleen in die werkwoordstukkern optree nie, maar moet met die voorwerp verbind. Die
oorganklike werkwoord en die voorwerp vorm deel van die werkwoordstukkern:
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
46
(168) Die werkgewer bestel 'n kas bier vir die personeel.
(169) Vandag nog koop ek vir my 'n lugverkoeler.
Nog 'n baie belangrike kenmerk van die oorganklike werkwoord is dat dit, in
teenstelling met die kopulakonstruksie, wel in die passiefvorm omskryf kan word. In
dié omstelling word die direkte voorwerp van die bedrywende vorm tot onderwerp van
die lydende vorm bevorder:
(170) Maryna neem die leë koppies (direkte voorwerp) kombuis toe.
(171) Die leë koppies (onderwerp) word deur Maryna kombuis toe geneem.
(172) Anton som die probleem (direkte voorwerp) raak op.
(173) Die probleem (onderwerp) word raak deur Anton opgesom.
Heelparty oorganklike werkwoorde kombineer, benewens met direkte voorwerpe, ook
met indirekte voorwerpe:
(174) Pa gee (aan/vir) my 'n dik bos sleutels.
(175) Die ou mense skenk (aan/vir) Dawid 'n bottel vrugte.
(176) Pa belowe (aan/vir) almal 'n geskenkie.
Die indirekte voorwerp tree dikwels saam met die voorsetsels aan en vir op, sonder
dat daar 'n verskil in betekenis tussen die sinne met die voorsetsels en die sinne
daarsonder is. In sommige gevalle is die gebruik van die voorsetsel opsioneel, maar
dikwels kan die sin nie daarsonder optree nie.
De Villiers (1975:174) onderskei soos volg tussen oorganklike en onoorganklike
werkwoorde: "Oorganklike werkwoorde veronderstel 'n voorwerp – of hulle dit in
bepaalde mededelings het of nie, is 'n ander kwessie – terwyl onoorganklikes nie 'n
voorwerp veronderstel nie." Volgens De Villiers beteken dit dat oorganklike
werkwoorde as 'n klas met duidelike kenmerke behandel kan word, terwyl
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
47
onoorganklike werkwoorde 'n klas met heterogene tipes is, en eintlik net in teenstelling
tot die gemerkte groep (wat in hierdie geval die oorganklike werkwoorde is) as klas
beskou kan word.
De Villiers (1975:175) waarsku dat oorganklike werkwoorde wat sonder 'n voorwerp in
'n sin optree, nie met 'n onoorganklike werkwoorde verwar moet word nie, en
bespreek voorts voorbeelde waar die voorwerp geïmpliseer word.
2.3.36 Passiefwerkwoorde Die term passiefwerkwoorde kom by Ponelis (1979:517) voor en verwys na die
hoofwerkwoord wat in samehang met omskrywingswerkwoorde (vgl. 2.3.31) in
passiefkonstruksies aangetref word. Deur die begrip lydend/passief word aangedui
dat passiewe konstruksies "nie handelinge aandui wat deur hulle onderwerpe
uitgevoer word nie" (Ponelis, 1979:411). Passiewe konstruksies kan derhalwe nie met
die handelingswerkwoorde doen en maak verbind nie, terwyl aktiewe konstruksies
wel kan. Vergelyk tabel 2.8. 2.3.37 Perfektiewe werkwoorde Na aanleiding van die begrippe begin, duur en voltooiing van 'n handeling, word
werkwoorde in twee hoofgroepe verdeel, naamlik perfektiewe en imperfektiewe of
duratiewe werkwoorde (Van der Merwe e.a. 1971:142). Die duratiewe werkwoorde
(vgl. 2.3.8) wys op die onvoltooidheid van die handeling, en by die perfektiewe
werkwoorde word die begin en einde van 'n handeling in aanmerking geneem. Van
der Merwe e.a. (1971:142) meen dat die meeste enkelvoudige werkwoorde, soos lag,
speel, drink en val duratief van aard is.
Tabel 2.8: Aktiewe en passiewe konstruksies
Aktiewe konstruksie Passiewe konstruksie
Die regter vonnis die gewoontemisdadiger tot Die gewoontemisdadiger word tot
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
48
lewenslange tronkstraf.
Wat die regter doen, is om die gewoontemisdadiger
tot lewenslange tronkstraf te vonnis.
lewenslange tronkstraf gevonnis.
* Wat die gewoontemisdadiger doen,
is om tot lewenslange tronkstraf
gevonnis te word.
Voorbeelde van perfektiewe werkwoorde is verspreek, verlam en verdrink (Van der
Merwe e.a. 1971:143):
(177) Hy verspreek hom maklik.
(178) Die gif van 'n knopiespinnekop verlam die slagoffer byna onmiddellik.
(179) Keer! Hy verdrink!
2.3.38 Performatiewe werkwoorde
Ten opsigte van performatiewe werkwoorde is daar 'n unieke, onverdeelbare moment
waarop die prestasie uitgevoer word. Die fokus val sterk op die verbale handeling,
wat aan sekere getrouheidsvoorwaardes onderhewig is (Van Niekerk, 1997:101):
(180) Ek verklaar julle man en vrou.
(181) Ek vonnis jou tot tien jaar gevangenisstraf.
(182) Ek doop jou Thomas James Larkins.
2.3.39 Plekwerkwoorde
Plekwerkwoorde neem bywoordelike bepalings van plek en rigting as noodsaaklike
aanvullings (Du Toit, 1982:136; Ponelis, 1968:61), byvoorbeeld:
(183) Hy bly tuis (plek).
(184) Die bok beweeg rivier se kant toe (rigting).
(185) Die Terblanche'e woon in die vallei (plek).
Du Toit (1982:136) spreek die mening uit dat die werkwoord bly in (186) 'n
koppelwerkwoord, maar in (187) 'n plekwerkwoord is, en onoorganklik gebruik word.
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
49
(186) Hulle bly vriendelik.
(187) Hulle bly by die huis.
2.3.40 Prestasiewerkwoorde
Van Niekerk (1997:101) wys op die verskil tussen prestasiewerkwoorde en
momentane werkwoorde (vgl. 2.3.28) wat albei as onderafdelings van die kategorie
dinamiese werkwoorde kan optree. Van Niekerk (1997:101) verduidelik dat daar by
prestasiewerkwoorde (wat oorganklik optree) 'n tydruimtelike gestrektheid of
bepaalbare verloop is, terwyl die aanvang, verloop en afloop by momentane
werkwoorde in een moment saamgetrek is:
(188) Die skoot knal (momentane werkwoord).
(189) Hy het nou die kruin van sy loopbaan bereik (prestasiewerkwoord).
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
50
(190) Sy verwerf haar graad (prestasiewerkwoord).
(191) Die soldaat het sy regterhand verloor toe 'n handgranaat in sy hand
ontplof het (momentane werkwoord).
2.3.41 Privaatwerkwoorde
Privaatwerkwoorde verbind baie nou met die spreker (die onderwerp), wat gewoonlik
die ervaarder van 'n liggaamsensasie is. Van Niekerk (1997:101-102) onderskei
tussen twee soorte privaatwerkwoorde, naamlik die werkwoorde wat na
geestestoestande verwys, en die werkwoorde wat na sensasie verwys. Die
werkwoorde van geestestoestande en sensasie noem Van Niekerk (1997:101-102)
onderskeidelik werkwoorde van "aksielose kognisie" en "aksielose persepsie". Myns
insiens is die benaming "aksielose kognisie" misleidend, omdat dit debatteerbaar is of
kognitiewe handelinge soos dink, glo, weet of verkies "aksieloos" is, en of dit juis
aktiewe, kognitiewe handelinge is.
Uit Van Niekerk (1982:45, 48) se voorbeeldsinne blyk dit dat aksielose persepsie-
werkwoorde aan waarnemingswerkwoorde (vgl. 2.3.56) gelykgestel kan word. Tabel 2.9: Aksielose kognisie en aksielose persepsiewerkwoorde
Aksielose
kognisiewerkwoorde
Aksielose
persepsiewerkwoorde Waarnemingswerkwoorde
Ek dink die aster is
aantreklik.
Ek hoor die reën op die dak. Ons het die wind hoor waai.
Ek glo in sy onskuld. Ek ruik die kos brand. Ons ruik die bure se
braaivleis.
Ek weet waar hy woon. Ek voel die wind teen my
wang.
Die roosblare voel soos
fluweel.
Ek verkies koffie. Ek sien die duiker in die
leegte.
Ons het die moeilikheid sien
kom.
(Gebaseer op Van Niekerk, 1982:45,48)
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
51
Werkwoorde van liggaamsensasie (Van Niekerk, 1997:101) kom in die volgende sinne
voor:
(192) My voet slaap.
(193) Die kind se neus loop.
(194) Haar maag pyn.
(195) Sy rug jeuk.
2.3.42 Proseswerkwoorde
Proseswerkwoorde kan net soos mediale werkwoorde (vgl. 2.3.27) oorganklik of
onoorganklik gebruik word (Van Niekerk, 1982:23).
(196) Hy verbeter die werk.
(197) Die werk verbeter.
(198) Die atleet versnel die pas.
(199) Die pas versnel.
2.3.43 Refleksiewe werkwoorde
In 'n wederkerende konstruksie verbind die hoofwerkwoord heg met 'n wederkerende
voornaamwoord. Wederkerende werkwoorde en refleksiewe werkwoorde kan as
sinonieme beskou word.
Ponelis (1968:52-57) sien die refleksiewe werkwoord as 'n soort oorganklike
werkwoord wat op grond van besondere kenmerke van die sentrale klas oorganklike
werkwoorde onderskei kan word. Die refleksiewe werkwoord vereis spesifiek 'n
voornaamwoordstuk (die refleksief) om in die werkwoordstukkern mee te kombineer.
In (200) is die werkwoord refleksief omdat ek en my na dieselfde persoon verwys,
terwyl die onderwerp en die direkte voorwerp in (201) op twee verskillende persone
dui:
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
52
(200) Ek was my.
(201) Ek was hom.
Die refleksiewe werkwoord verbind dikwels so heg met die wederkerende
voornaamwoord dat die voornaamwoord nie weggelaat kan word nie:
(202) * Ek bekommer ___ dood.
(203) * Jy kwel ___ verniet oor die aangeleentheid.
Refleksiwiteit gaan egter by 'n klompie werkwoorde, veral in die omgangstaal, verlore:
(204) Nuwe onderwyseresse moet hulle eers by die kantoor aanmeld.
(205) Nuwe onderwyseresse moet ___ eers by die kantoor aanmeld
(Ponelis, 1979:228).
2.3.44 Selfstandige werkwoorde
Selfstandige werkwoorde is nie 'n aparte kategorie hoofwerkwoorde nie, maar word so
genoem wanneer hulle alleen as gesegde in die teenwoordige tyd in 'n sin kan staan
(Rossouw e.a. 1974:325). Voorbeelde soos
(206) Ek stap.
(207) Ek hoor 'n geraas.
(208) Dit reent.
(209) Hy skaam hom.
word gebruik om die outeurs se standpunt te stel. Die afleiding hieruit is dat
werkwoorde in die verlede tyd wat in kombinasie met het optree, byvoorbeeld
gestap/gehoor/gereent/geskaam, nie selfstandige werkwoorde is nie. Voorts blyk dit
dat die werkwoorde in bysinne ook nie selfstandige werkwoorde is nie, maar dat
selfstandige werkwoorde slegs die hoofwerkwoorde in enkelvoudige sinne is. Hierdie
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
53
siening word bevestig deur Du Toit (1982:133) wat selfstandige werkwoorde aan
hoofwerkwoorde gelykstel.
Meyer e.a. (1986:209) definieer selfstandige werkwoorde as die "belangrikste deel van
die gesegdekern ... (wat) as die enigste (onderstreping: HL) werkwoord van 'n
gesegde optree wanneer die sin in die teenwoordige tyd is".
Vir De Klerk e.a. (1987:304-305) sluit selfstandige werkwoorde oorganklike,
onoorganklike, onpersoonlike en wederkerende werkwoorde in.
2.3.45 Sentrale werkwoorde
De Villiers (1983:56) definieer sentrale werkwoorde as die "oorgrote meerderheid"
werkwoorde wat die volgende essensiële kenmerke vertoon:
• Sentrale werkwoorde kan as enigste werkwoord van 'n gesegde optree.
• In elke gesegde is 'n sentrale werkwoord die hoofwerkwoord.
• Sentrale werkwoorde kan almal in kombinasie met het in een saamgestelde
gesegde optree, waar die werkwoord as 'n deelwoord beskou word, en in die
meeste gevalle die voorvoegsel ge- het.
• Sentrale werkwoorde kan met om te kombineer om 'n infinitief te vorm.
2.3.46 Sintuiglike werkwoorde
Hoor, sien, proe, ruik en voel is werkwoorde wat daarop dui dat prikkels uit die
buitewêreld deur middel van die mens se ore, oë, tong, neus en vel in gewaarwording
omgeskakel word. Van Schoor (1983:171) verwys na hierdie groep werkwoorde as
"sintuiglike werkwoorde" (vgl. 4.7). Van Schoor (1983:171) wys daarop dat hierdie
werkwoorde sintakties in kombinasie met ander werkwoorde in een predikaat kan
voorkom, maar op so 'n wyse dat slegs die ander werkwoord en nie die sintuiglike
werkwoord nie, uit die sin weggelaat kan word (Van Schoor, 1983:171):
(210) Hy hoor/sien die reën val.
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
54
(211) Hy hoor/sien die reën.
(212) * Hy val die reën.
2.3.47 Skeppingswerkwoorde
Die benoeming van hierdie kategorie werkwoorde geskied op grond van die werk van
Van Valin en LaPolla (1997:111) wat die Engelse werkwoorde write, paint en build
"verbs of creation" noem, omdat die aksies 'n spesifieke resultaat of "skepping" (die
voorwerp) tot gevolg het. Jespersen (1924:159) skryf ten opsigte van sodanige
voorwerpe:
"There is one class of 'object' which stands by itself and is of considerable
interest, namely the object of result, as in: he build an (sic) house/she paints
flowers/he wrote a letter/the mouse gnawed a hole in the cheese."
De Villiers (1975:185) dui die werkwoorde bou, skryf, skilder, maak, produseer,
skep, komponeer en grawe as voorbeelde aan van werkwoorde wat 'n bepaalde
resultaat lewer. Werkwoorde soos brei en bak sou hieraan toegevoeg kon word, wat
as 'n kategorie skeppingswerkwoorde in Afrikaans tipeer sou kon word. Hoewel
hierdie kategorie nie die Afrikaanse literatuur voorkom nie, sou so 'n kategorie op
grond van semantiese oorwegings wel in Afrikaans benoem kon word, en sou
sodanige werkwoorde sintakties met oorganklike werkwoorde ooreenstem, omdat die
resultaat van die aksies direkte voorwerpe tot gevolg het:
(213) Sy brei vir haar seuntjie ʼn trui.
(214) Hy skryf 'n gedig/kortverhaal/brief.
(215) Sy bak kleinkoekies en beskuit vir Kersfees.
(216) Die jong kunstenaar skilder 'n stillewe/natuurtoneel/gesigstudie.
2.3.48 Statiese werkwoorde
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
55
In teenstelling met predikate waarin pertinente handelinge voorkom en waarin 'n
onderliggende doen-aksie geïmpliseer word, is daar verbale groepe waarin die doen-
predikaat onaanvaarbaar en ongrammaties is. Vergelyk die volgende sinne waarin
ongrammatikaliteit deur middel van 'n * aangedui word:
(217) Ons ken ons bure baie goed.
(218) * Wat ons doen, is om ons bure baie goed te ken.
(219) Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk.
(Geloofsbelydenis)
(220) * Wat ek besig is om te doen, is om aan ‘n heilige, algemene,
Christelike kerk te glo.
Van Niekerk (1982:11) verduidelik die onderskeid tussen statiese en dinamiese
werkwoorde (vgl. 2.3.7) soos volg: "Ons sal dan alle predikate wat 'n onderliggende
doen-predikaat veronderstel, beskou as predikate met 'n dinamiese werkwoord as
kern en alle ander as predikate met 'n statiese werkwoord as kern" (vgl. ook Lyons,
1977:483).
Sodanige sinskonstruksies wat nie doen-predikate impliseer nie, bevat statiese
werkwoorde as kern. Vergelyk Ponelis (1979:322).
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
56
2.3.49 Subjektiewe werkwoorde
In sinne soos
(221) Dit lyk of die kind dae laas geëet het.
(222) Dit wil vóórkom asof/of die inbraak reeds weke voor die tyd beplan is.
is lyk en vóórkom subjektiewe of niefeitelike werkwoorde (vgl. 2.3.29) wat elk die
betekenis van vermoed het, hoewel vóórkom groter sekerheid as lyk impliseer
(persoonlike gesprek met prof. J.P. Botha op 19 Januarie 2004).
Ponelis (1979:222) stel dit dat subjektiewe werkwoorde subjektiewe sinspredikate
neem wat deur of/asof ingelei word, en 'n subjektiewe aanname verteenwoordig
(Ponelis, 1979:308), in teenstelling met objektiewe werkwoorde wat objektiewe
sinspredikate neem en deur die voegwoord dat ingelei word. Werkwoorde soos
beweer, bereken, berig, skat, raam en verwag word deur Ponelis (1979:308) as
subjektiewe werkwoorde voorgehou, hoewel die sinspredikate nie deur of/asof ingelei
word nie, maar deur dat:
(223) Hy beweer dat hy die dief aangekeer het.
(224) Dit word bereken dat minstens agt mense in die ontploffing dood is.
(225) Daar word berig dat talle mense die lewe gelaat het.
(226) Ek skat dat hy so om en by die vyftig is.
By die volgende subjektiewe werkwoorde word die sinspredikaat wel deur die
voegwoord of/asof ingelei:
(227) Dit voel asof ek nooit met vakansie was nie.
(228) Dit klink asof die bure baklei.
(229) Dit lyk of die brand nou finaal geblus is.
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
57
2.3.50 Unieke werkwoorde
In idiomatiese uitdrukkings is die band tussen die werkwoord en die voorwerp soms so
heg dat daar na 'n unieke werkwoord en 'n unieke naamwoordstuk verwys kan
word (Ponelis, 1979:208):
(230) die botoon voer
(231) die onderspit delf
(232) peil trek
(233) die gelag betaal
Die band tussen die werkwoord en die voorwerp kan egter ook minder heg wees en
verskillende bepalings in die voorwerp toelaat:
(234) groot/weinig waarde aan iets heg
(235) ernstige/onoordeelkundige foute begaan
(236) slinkse/bose planne beraam
2.3.51 Veranderingswerkwoorde
Veranderingswerkwoorde staan in 'n groot mate in direkte kontras met statiese
werkwoorde (vgl. 2.3.48) en kan klaarblyklik as sinoniem vir bewerkingswerkwoorde
(vgl. 2.3.4) dien. In tabel 2.10 tree die werkwoorde kom, word en raak as
veranderingswerkwoorde op.
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
58
Tabel 2.10: Statiese en veranderingswerkwoorde
Statiese werkwoorde Veranderingswerkwoorde
Die borde is op die tafel. Die borde kom op die tafel.
Werkloosheid bly 'n groot probleem. Werkloosheid word 'n groot probleem.
Ek is bekommerd oor die jeug. Ek raak bekommerd oor die jeug.
Die werkwoorde kom, word en raak dui onderskeidelik aan dat die borde nie op die
tafel was nie, maar deur 'n spesifieke handeling nou op die tafel geplaas word; dat
werkloosheid eers nie 'n probleem was nie, maar tans 'n probleem word, en dat die
spreker eers nie bekommerd oor die jeug was nie, maar nou bekommerd raak.
2.3.52 Verbale hendiadiskonstruksies
Bouwman (1926:7) het die verbale hendiadis as "een van de voornaamste afwijkingen
van Nederlands op syntakties gebied" beskryf. Die verbale hendiadis is die naam vir
'n konstruksie waarby een voorstelling of idee deur twee werkwoorde met gelyke
waarde naas mekaar gebruik word, en deur die woord en verbind word (Barnes,
1944:170). Barnes verwys na die verbale hendiadiskonstruksie as "'n los
samestelling". Verbale hendiadiskonstruksies staan ook as houdingskonstruksies
bekend (Van der Walt, Van Aardt & Eksteen,1968:112). Die konstruksie bestaan uit
drie lede, naamlik twee werkwoorde plus en (Kempen, 1965:78). Die vier werkwoorde
van posisie kom die meeste voor, byvoorbeeld, lê en wonder, staan en slaap, loop
en sing, sit en lees. Die tweede werkwoord in die verbale hendiadis het dikwels ʼn
ongunstige leksikale betekenis (Van Schoor,1983:173). Vergelyk byvoorbeeld die
volgende sinne:
(237) Die verdagte het in die hof gestaan en lieg.
(238) Moenie met my staan en lol as ek werk nie.
(239) Sy is bekend daarvoor dat sy loop en skinder. Volgens De Villiers (1983:146) het die verbale hendiadis die volgende kenmerke:
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
59
• Die sentrale werkwoord staan altyd na die medewerkwoord, en het die
kenmerke van die infinitief, naamlik dat dit so na as moontlik aan die einde van
die sin staan. Voorts kry die verbale hendiadis in verbinding met het nie die
voorvoegsel ge- nie, en het by meerledigheid 'n besondere volgorde,
byvoorbeeld:
(240) Hy staan my so en aangluur.
(241) Hy staan en gluur my aan.
• Die partikel en staan gewoonlik tussen die medewerkwoord en die sentrale
werkwoord, en toon 'n baie sterk ooreenkoms met verbindings wat in
kombinasie met te optree. Vergelyk byvoorbeeld die volgende:
(242) Die span behoort die werk gou te doen.
(243) Jy luister nie as ek praat nie, want jy staan en slaap.
By sommige sprekers word die en partikel weggelaat om 'n konstruksie soos die
volgende te lewer:
(244) Hy sit slaap die hele tyd (De Villiers, 1983:147).
2.3.53 Verbruikswerkwoorde
Van Valin en LaPolla (1997:111) toon 'n interessante groep werkwoorde aan wat in
direkte teenstelling met skeppingswerkwoorde staan en wat vry vertaal
verbruikswerkwoorde (vgl. 4.11) genoem kan word. Hoewel hierdie kategorie
werkwoorde nie in Afrikaans benoem is nie, sou daar na analogie van die Engelse
benoeming van sodanige kategorie, wel verbruikswerkwoorde in Afrikaans kon
voorkom. Voorbeelde hiervan is werkwoorde soos eet en drink, waar die resultaat
van die aksie nie 'n skepping tot gevolg het nie, maar waar 'n bestaande entiteit
verbruik word. Verskillende werkwoorde wat op die eet- en drinkaksie slaan, val in
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
60
hierdie kategorie: verslind, verorber, opslurp, opvreet, opeet, uitdrink, nuttig,
inneem, bestee.
(245) Hy drink 'n koue bier nadat hy die gras gesny het.
(246) Die gesin eet Vrydae-aande worsbroodjies.
Die werkwoord verbruik is self 'n verbruikswerkwoord, soos uit die volgende sin blyk:
(247) Ons verbruik maandeliks 'n duisend rand se kruideniersware.
Ook ten opsigte van klere kan verbruikswerkwoorde geld:
(248) Die kinders het hulle wintersklere opgedra.
Hierdie werkwoorde is sintakties oorganklike werkwoorde, omdat die verbruikbare
entiteit die direkte voorwerp van die sin is.
2.3.54 Verdeelde en simplekse werkwoorde
In sommige werkwoordkonstruksies vorm die werkwoord en die voorwerp 'n
saamgestelde predikaat wat met 'n simplekse2 werkwoord korreleer:
Werkwoord + voorwerp – simplekse werkwoord
Die voorwerp van die saamgestelde predikaat is van die simplekse werkwoord afgelei
(Ponelis, 1979:209):
Tabel 2.11 Saamgestelde predikate met korrelerende en simplekse werkwoorde
Saamgestelde predikate met verdeelde
werkwoorde
Simplekse (korrelerende) werkwoorde
2 Simplekse werkwoorde verwys na die morfologiese eienskap, ongeleedheid.
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
61
begrip hê begryp
'n operasie uitvoer opereer
'n bewering maak beweer
oorweging skenk oorweeg
Ponelis (1979:213) wys daarop dat verdeelde werkwoorde oor die algemeen deftiger
of meer formeel as hul simplekse teenhangers is, en dikwels aangewend word om in
die behoefte aan 'n meer formele stylvariant te voldoen. Volgens Ponelis (1979:213)
het formaliteit en deftigheid geen objektief-inhoudelik semantiese waarde nie, maar in
bepaalde gespreksituasies kan dit nie oor die hoof gesien word nie.
2.3.55 Voorsetselwerkwoorde3
De Villiers (1983:104) stel dit dat daar werkwoorde met 'n vaste voorsetsel bestaan
waarvoor daar nie 'n algemeen aanvaarde naam is nie en wat ons maar
voorsetselwerkwoorde kan noem, hoewel Ponelis (1979:216) reeds die kategorie
voorsetselwerkwoorde beskryf het. De Villiers (1983:104) meld dat dié tipe
werkwoord met sy voorsetsel 'n semantiese eenheid, net soos die partikelwerkwoord
(deeltjiewerkwoord), vorm en daarom 'n tipe verbinding is wat aan die
partikelwerkwoord verwant is. Dit is dus 'n verbinding van 'n werkwoord en 'n
komplement wat semanties as 'n eenheid beskou moet word, byvoorbeeld hou van,
aard na, behoort aan, reken op, reken af met, gaan in op.
By voorsetselwerkwoorde is die verbintenis met die voorsetsel so heg dat weglating
van die voorsetsel 'n ongrammatiese sin tot gevolg het. Die sprekendste voorbeelde
hiervan is respektiewelik deur Ponelis (1979:217) en Botha (1987:69) aangeteken:
(249) Hulle teer op die staat.
(250) * Hulle teer.
3 Hierdie afdeling is 'n artikel oor die voorsetselwerkwoord wat in Literator, 1992b, 15(2):97-120, verskyn het, en wat op die magisterverhandeling van Larkins (1992a) gebaseer is.
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
62
(251) Hans hou van koedoebiltong.
(252) * Hans hou.
Die belangrikste kenmerk van die voorsetselwerkwoord is dat dit 'n vaste voorsetsel
vereis. Indien die werkwoord heg met 'n verpligte onderdeel van die sin verbind,
geskied hierdie verbinding deur middel van 'n voorsetsel (Botha, 1987:69).
Voorbeelde van werkwoorde wat 'n vaste voorsetsel determineer, is swig (voor),
reken (op), heul (met), aard (na), beskik (oor), behoort (tot), berus (by), akkordeer
(met). Die gedetermineerde voorsetsel vorm saam met die daarmee gepaardgaande
naamwoordstuk 'n voorsetselgroep. Van Schoor (1983:193) stel dit dat daar
werkwoorde is wat in een betekenis 'n voorsetselwerkwoord is, maar in 'n ander nie:
(253) Hy reken hoeveel dit hom sal kos.
(254) Hy reken op ons hulp.
In (253) is die werkwoord reken 'n oorganklike werkwoord, terwyl dit in (254) 'n
voorsetselwerkwoord is. Voorts stel Van Schoor (1983:193) dit ook duidelik dat
werkwoorde soms met en soms sonder voorsetselsupplement gebruik word met
behoud van die betekenis van die sin:
(255) Hy vra hulp.
(256) Hy vra om hulp (Van Schoor, 1983:78).
Gebruik van die voorsetselsupplement plaas die werkwoord vra in (255) binne die
kategorie oorganklike werkwoorde, maar in (256) is die werkwoord 'n
voorsetselwerkwoord.
'n Derde kenmerkende eienskap waaraan die voorsetselwerkwoord voldoen, is dat die
voorsetselgroep wat saam met die voorsetselwerkwoord optree, nie sonder meer deur
een woord vervang kan word nie (Botha & Van Aardt, 1978:112).
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
63
(257) Die polisie beskik oor inligting.
(258) * Die polisie beskik iets.
Voorts kan die voorsetsel nie sonder meer deur enige ander voorsetsel vervang word
nie. Vergelyk tabel 2.12:
Tabel 2.12: Voorsetselwerkwoorde en die vaste voorsetsel
*met
*van
*deur
*tot
*in
*agter
Die polisie beskik
*na
inligting.
Die betrokke voorsetselgroep kan ook nie weggelaat word, sonder dat 'n semantiese
"leegheid" ontstaan nie:
(259) * Die polisie beskik.
Opsommend kan die wese van die voorsetselwerkwoord soos volg gestel word:
• Die voorsetselwerkwoord determineer 'n vaste voorsetsel.
• Die voorsetselwerkwoord vereis 'n voorsetselgroep.
• Die voorsetselgroep wat saam met die voorsetselwerkwoord optree, kan nie
sonder meer deur een woord vervang word nie.
2.3.56 Waarnemingswerkwoorde
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
64
Odendal en Gouws (2000:345) definieer waarneem as "met die sintuie opneem". Vir
die doel van hierdie studie word waarneming gedefinieer as "bewuswording deur
middel van die mens se sintuie". Waarnemingswerkwoorde verwys derhalwe na
aksies wat deur middel van die mens se sintuie waargeneem word, en hou verband
met sintuiglike werkwoorde (2.3.46). Die twee benaminge kan selfs as sinonieme
gebruik word.
Ponelis (1979:420) toon aan dat waarnemingswerkwoorde, in kombinasie met sekere
ander werkwoorde, passivering blokkeer, net soos in die geval van direkte en indirekte
skakelwerkwoorde wat ook omskrywing in die passiewe vorm bemoeilik:
(260) Ek het die moeilikheid sien kom.
(261) * Die moeilikheid is sien kom.
(262) Ons het die wind gehoor waai.
(263) * Die wind is deur ons gehoor waai.
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
65
2.3.57 Wederkerige werkwoorde
Omdat mekaar 'n wederkerige voornaamwoord is, tipeer Meij e.a. (1987:244) die
werkwoorde wat in kombinasie met die wederkerige voornaamwoord optree, as
wederkerige werkwoorde:
(264) Hulle groet mekaar.
(265) Ons omhels mekaar.
2.3.58 Werkwoorde van beweging
Werkwoorde van beweging verwys na aksies waar beweging van een punt na 'n
ander plaasvind, byvoorbeeld klim, draf, hardloop, rol, ry, slenter, loop, knip, gooi
(Van Schalkwyk & Kroes, 1979:66, 67):
(266) Die grootmense ry vandag alleen dorp toe.
(267) Moenie so agter my aan slenter nie!
(268) As almal hulle vullis in die dromme gooi, sal Suid-Afrika 'n baie
skoner plek wees.
Werkwoorde van beweging en kinetiese werkwoorde toon 'n noue samehang (vgl.
2.3.17 en 4.10).
2.3.59 Werkwoorde van posisie
Werkwoorde van posisie word ook houdingswerkwoorde genoem. Die werkwoorde
soos staan, lê, sit en loop kan as eerste lid van ʼn verbale hendiadiskonstruksie (vgl.
2.3.52) soos staan en lol, sit en gesels, loop en sing of lê en lees optree. Die
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
66
eerste lid van die hendiadiskonstruksie het die gemeenskaplike betekeniselement van
posisie (Van Schalkwyk & Kroes, 1979:69). Hierdie uitspraak van Van Schalkwyk en
Kroes (1979:69) is egter nie algemeen geldend ten opsigte van hendiadiskonstruksies
nie, soos uit die volgende voorbeelde blyk, waar staan nie noodwendig met 'n
bepaalde liggaamsposisie in verband gebring kan word nie. Die aangesprokenes kon
eweneens sit, loop of lê terwyl die beskuldigings gerig is:
(269) Moenie vir my staan en lieg nie!
(270) Moenie vir my staan en vertel dat jy hard geleer het nie.
Dat sit ook nie sonder meer en buite konteks as 'n werkwoord van posisie
gekategoriseer kan word nie, blyk uit die volgende voorbeeld van homonimie waar sit
'n figuurlike betekenis het:
(271) Dit is veral op die platteland waar sommige gemeentes met minder as
twintig lidmate sit.
In (271) tree sit in vaste kombinasie met die voorsetsel met op, wat kategorisering
van sit as voorsetselwerkwoord motiveer. Die werkwoord hou egter geen verband
met liggaamsposisie nie, en het die bepaalde betekeniskonteks van het / ervaar 'n
probleem. Ook in (272) het die werkwoord sit geen verband met liggaamsposisie nie,
maar het die betekeniskonteks van het nie ('n werk) nie:
(272) Toe sit ek ook nog sonder werk.
Die volgende sin illustreer eweneens dat sit nie in alle gevalle as werkwoord van
posisie tipeer kan word nie, maar dat die werkwoord + voorsetsel + voornaamwoord
(sit aan my) in hierdie geval die betekenis van aanhou het:
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
67
(273) Hy sit aan my dat ons saam 'n besigheid moet begin (Hy hou aan
dat ons saam 'n besigheid moet begin).
Die vier werkwoorde lê, loop, sit en staan word in sommige bronne as indirekte
skakelwerkwoorde en nie as hoofwerkwoorde nie, beskryf (Van der Merwe e.a.,
1971:150; Du Toit, 1982:141; Ponelis, 1979:241). Die tipe konstruksies waarin
werkwoorde van posisie of liggaamshouding, in kombinasie met die bindpartikel en
optree, moet onderskei word van die hendiadiskonstruksies wat ook met die
bindpartikel en kombineer. Verbale konstruksies soos
(274) Sy staan en praat snert (Sy lieg).
(275) Sy staan en snert praat.
verskil van 'n uitdrukking soos
(276) Sy sit en lees.
omdat staan en praat as 'n enkele idee deur twee woorde met gelyke waarde naas
mekaar gebruik word en met die bindpartikel en kombineer. In (276) verbind die
bindpartikel twee enkelvoudige sinne tot 'n saamgestelde sin:
(277) Sy sit en (sy) lees.
Semanties beskou gee staan en praat (tensy die konstruksie twee enkelvoudige
sinne veronderstel, naamlik sy staan en sy praat) uitdrukking aan 'n enkele begrip,
terwyl sit en gesels uitdrukkings aan twee begrippe (iemand sit en daardie persoon is
besig om te gesels) gee.
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
68
Werkwoorde van posisie het die gemeenskaplike betekeniselement van "liggaams-
posisie".
2.3.60 Werkwoorde van weersgesteldheid
Ponelis (1979:76) gebruik die term weergesteldheid om na 'n klein groepie
werkwoorde wat semanties met bepaalde natuurelemente verband hou, te verwys.
Hierdie werkwoorde is reën, hael, giet, sous, stort, sneeu, kapok, ryp, dou. Hierdie
werkwoorde van weersgesteldheid tree baie dikwels in kombinasie met die
onpersoonlike voornaamwoord dit op, wat weer aanleiding gegee het tot benoeming
van dieselfde groep werkwoorde as onpersoonlike werkwoorde (vgl. 2.3.34). Die
vraag ontstaan nou of reën in
(278) Dit reën baie hard buite.
'n werkwoord van weersgesteldheid, 'n onpersoonlike werkwoord, of 'n onoorganklike
werkwoord is, op grond daarvan dat daar nie 'n direkte voorwerp in die sin optree nie.
Myns insiens kan werkwoorde tegelykertyd tot verskillende werkwoordkategorieë
behoort, maar behoort werkwoorde allereers vanuit 'n sintaktiese vertrekpunt
onderneem te word. Die werkwoord reën behoort dus in die eerste plek tot die primêre
hoofwerkwoordkategorie onoorganklike werkwoorde, waarna dit as 'n werkwoord
van weersgesteldheid of 'n werkwoord van sintuiglike waarneming gekategoriseer kan
word.
Hierdie uitspraak word in die volgende hoofstukke verder uitgebou, en daar word op
gewys dat kategorisering vanuit twee verskillende perspektiewe benader kan word.
Die twee kategoriseringsbenaderings wat in oënskou geneem word, is die tradisionele
Hoofstuk 2 – 'n Uiteensetting van Afrikaanse hoofwerkwoorde in alfabetiese orde
69
model tot kategorisering, waar die grense van kategorielidmaatskap betreklik vas is,
en die prototipe-benadering tot kategorisering, waar voorsiening gemaak word vir
prototipiese kategorievoorbeelde en kategorielede wat nader aan die periferie van
lidmaatskap lê.
2.4 SAMEVATTING
Verskeie hoofwerkwoordkategorieë, benewens die primêre kategorieë, kom in die
navorsingsliteratuur voor. Sommige hiervan toon 'n noue samehang (vgl. werkwoorde
van beweging (2.3.58) en kinetiese werkwoorde (2.3.17). Sommige van die
werkwoordkategorieë kan selfs as sinonieme beskou word (vgl. sintuiglike
werkwoorde (2.3.46) en waarnemingswerkwoorde (2.4.56); objektiewe werkwoorde
(2.3.30) en feitelike werkwoorde (2.3.10); subjektiewe werkwoorde (2.3.49) en
niefeitelike werkwoorde (2.3.29) . Die gevolgtrekking is dat dieselfde werkwoorde
soms verskillend benoem word. Die spilwerkwoord, wat nie 'n werkwoordkategorie is
nie, maar slegs na die posisie van die werkwoord in 'n sin verwys, word byvoorbeeld
tegelykertyd 'n verbindwerkwoord en 'n finiete werkwoord genoem.
In die volgende hoofstuk word die klassieke en die kognitiewe kategoriseringsteorieë
as ordeningsisteme belig om die semantiese prinsipes wat kategorisering oor die
algemeen, en hoofwerkwoordkategorisering in die besonder ten grondslag lê, te
illustreer. Beeldskematiese strukture soos die houerskema en die kragbeeldskemas
word belig en aan die hand van Afrikaanse werkwoorde geïllustreer. Die rol wat
metaforiese oordrag as ordeningsbeginsels binne die werkwoordelike stelsel van
Afrikaans speel, en die wyse waarop 'n mens struktuur aan die omringende wêreld
gee, word onder die loep geneem.