DIE SLAG VAN MAJUBA - RVB...
Transcript of DIE SLAG VAN MAJUBA - RVB...
INLIGTING VIR 2013 PAARDEKRAAL TYDLYN KOMPETISIE
1 JUNIE 2013 OM 9 UUR TE PAARDEKRAAL MONUMENT – KRUGERSDORP
UITGEGEE DEUR RVB-PAARDEKRAAL APRIL 2013
DIE SLAG VAN MAJUBA 28 FEBRUARIE 1881
Soos so dikwels in die verlede gebeur het, het Groot-Brittanje se verteenwoordigers
in Suid-Afrika die Imperiale regering verkeerd ingelig. Sir Garnet Wolseley was een
van hulle. Die afwesigheid van wapengeweld, en van opruiende en
onverantwoordelike taal en die toesegging van die burgers om die belastings onder
protes te betaal, het hy vir tevredenheid aangesien en in die sin aan die Britse
regering verslag gedoen.
Onder hierdie toestand van skynbare onderdanigheid is voorbereidings vir die
komende stryd in stilte getref. Om geen aandag te trek nie, is wapens en ammunisie
drupsgewys versamel. Daar moes egter handelend opgetree word, en andermaal is
‘n vergadering van die volk belê, die keer by Paardekraal vir 8 Januarie 1881.
Die Britse regering het tot die insameling van belastings oorgegaan. ‘n Sekere P.L.
Bezuidenhout het geweier om gehoor te gee aan ‘n dagvaardiging om agterstallige
belasting. ‘n Groter bedrag is aangegee as wat hy verskuldig was, het hy verklaar.
2 | B l a d s y
Die hof op Potchefstroom het beslag gelê op sy wa om dit ten bate van die eis teen
hom te verkoop. Kommandant Piet Cronje, die latere man van Doornkop en
Paardeberg, het egter met n aantal burgers opgedaag, die balju verdryf en die wa
teruggeneem. Dit was ‘n daad met ‘n doel, geneem in die volle bewustheid van wat
die gevolge sou wees.
Uit Potchefstroom het berigte Piet Cronje bereik dat ‘n Britse mag uitgestuur sou
word om hom gevange te neem, Met ‘n aantal manskappe het hy by Schoonspruit
laer opgeslaan. Daar het Paul Kruger hom besoek en ook George Hudson, koloniale
sekretaris van Transvaal. Hudson het van die geweld in verband met die wa-voorval
gepraat, van die weiering om belasting te betaal, en Cronje en Bezuidenhout as die
beskuldigdes genoem. Hierop het Kruger opgestaan en eindelik die hoë woord
gespreek. Hy het aan Hudson gesê hy moet verstaan dat dit nie meer ‘n saak
tussen die Britse regering en Cronje en Bezuidenhout en die wa is nie; dit is nou ‘n
saak tussen die Britse regering aan die een kant, en die Suid-Afrikaanse Republiek
aan die ander kant. “I understand” het Hudson geantwoord. En saam met Hudson
het iedereen dit verstaan.
Gebeurtenisse het mekaar hierna snel opgevolg, Paul Kruger en Piet Joubert het
onmiddellik ‘n vergadering van die Volkskomitee vir 1 Desember belê. Die Komitee
het die volksvergadering van 8 Januarie 1881 vervroeg tot 8 Desember 1880 en
Paardekraal as versamelplek bepaal. Ondanks die proklamasie van Sir Owen
Lanyon wat die vergadering verbied het, was daar op die bepaalde dag reeds tot
vyfduisend gewapende burgers by Paardekraal byeen. Op 10 Desember is besluit
om uitvoering te gee aan die besluite van 15 Desember 1879 op Wonderfontein, nl
dat die regering sy werksaamhede hervat en die Volksraad byeen geroep word. Die
ou Volksraad wat in sulke treurige omstandighede in April 1877 verdaag was, het op
die 13de van hierdie belangrike Desembermaand weer vergader asof hy nog altyd
die hoogste wetgewende gesag van Transvaal was. Die Britse regering het geen
haas getoon om aan die aangebore begeerte van die Boere om hulself te regeer,
bevrediging te gee nie. Dat die Transvalers in blote selfbestuur, sonder volslae
staatkundige onafhanklikheid, sou berus, was ondenkbaar.
Die Britse regering het in elk geval nie versoenings langs die weg probeer
bewerkstellig nie. Transvaal het gebuk gegaan, eers onder die willekeurige bestuur
van Wolseley en Lanyon en later meer bepaald onder die van Lanyon. Die
herstellende Volksraad het die bestuur van die land opgedra aan ‘n driemanskap:
Paul Kruger, M. W. Pretorius en P.J. Joubert. Die Suid-Afrikaanse Republiek was
weer herstel. Heidelberg is as die voorlopige setel van die regering gekies en die
regering het daarheen verhuis. In naam van die volk van die Republiek en “onder
biddend opzien tot God’, het die driemanskap as die voorlopige opperbestuur van
die Republiek op 16 Desember ‘n proklamasie uitgevaardig: “Wij geven dus aan
iedereen te kennen, dat op den 13de December 1880 de regering is hersteld”.
3 | B l a d s y
Op dieselfde Geloftedag in 1880 het die eerste skoot geval. Piet Cronje was met ‘n
burger-komando op Potchefstroom om die proklamasie te laat druk. Die Britse
garnisoen het homself in staat van verweer gestel en deur ‘n skoot uit ‘n Engelse
kamp is kmdt. Robbertse van Rustenburg gewond. Die eerste Voortrekkerdorp in
Transvaal het die toneel van stryd geword. Na ‘n paar skermutselinge op die dorp,
het Clarke, die Britse spesiaal kommissaris op Potchefstroom, hom op die 18de
oorgegee. Kol Winsloe in bevel van die Engelse kamp buite Potchefstroom, het hom
nie deur Clarke se oorgawe gebonde geag nie en die gevegte is voortgesit. Winsloe
het hom eers op 21 Maart 1881 oorgegee. Ook Rustenburg was vroeg in die Boere
se besit, maar die kamp buite die dorp het tot die einde uitgebou.
Op die dag, nadat die vyandelikhede openlik uitgebreek het, het die regering uit
Heidelberg van Sir Owen Lanyon die oordrag van die landsbestuur aan die
driemanskap binne agt-en-veertig uur geëis. Lanyon se verwerping van hierdie
ultimatum van “Rebelle” het die oorlog amptelik aan die gang gesit. Op die
vernaamste Transvaalse dorpe was Britse garnisoene gestasioneer. Die een in
Lydenburg was onder bevel van kol. Philip Anstruther. Om sy opmars na Pretoria te
belet is kmdt. Frans Joubert (daarna bekend as “Frans Held”) uitgestuur. Joubert het
Anstruther se afdeling reeds aan die Honderivier by Bronkhorstspruit aangetref.
Anstruther se afdeling het uit 257 man bestaan; Joubert het 200 man onder hom
gehad. Die Britse bevelhebber is versoek om nie verder te trek nie. Getrou aan sy
bevele het Anstruther volgehou dat hy na Pretoria gaan. ‘n Hewige geveg van
minder as twintig minute het plaasgevind. Self dodelik gewond, het Anstruther
beveel om die wit vlag te hys. Sowat twee derdes van sy manne was dood of
gewond, die res is gevange geneem. Twee burgers het gesneuwel. Die buit was
aansienlik. Wapens en ammunisie was veral waardevol.
Die gevaar vir die Republiek was nie soseer die Britse garnisoene in Transvaal nie:
die Britse troepe in Natal moes belet word om die land binne te dring. Die taak het
kmdt.-genl. Piet Joubert op hom geneem. Die opperbevelhebber van die Britse
strydmag was Sir George Pomeroy Colley. Genl. Joubert het aanvanklik 800 man
tot sy beskikking gehad, terwyl genl. Colley aan die hoof van 1400 gestaan het. Met
drie tot vierhonderd man het Joubert by Laingsnek posisie ingeneem. In die
besonder gunstige posisie vir verdedigingsdoeleindes het hy hom verskans. Drie en
‘n half myl verder het Colley sy kamp by Mount Prospect opgeslaan.
Op 28 Januarie 1881 het hy sy kamp met ongeveer 1100 man verlaat en teen die
Boere by Laingsnek opgeruk. Ses veldkanonne en twee vuurpylbuise het op Joubert
se kommando losgebrand en aansienlike skade aangerig. Die Britte het dapper
geveg. Hul ruitery het selfs daarin geslaag om die Boere se stellings binne te dring,
maar so dodelik was die geweervuur van die Transvalers dat Colley verplig was om
die nag die aftog te blaas. Na berekening was die verliese aan Britse kant sowat
240 offisiere en manskappe. Die boere se verliese was veertien dood en agt-en-
twintig gewond.
4 | B l a d s y
Die Boere het hul oorwinning met ‘n inval van 250 man onder genl. Nicolaas Smit in
Natal opgevolg. Die bedoeling was om Colley se verbinding met Pietermaritzburg af
te sny. Dit sou sy posisie baie bemoeilik, en daarom het hy op 8 Februarie met
ongeveer 400 man in die rigting van die Boerekommando opgeruk. Die twee troepe
afdelings het op die dag by Skuinshoogte, naby Ingogo, slaags geraak. Slegs die
naderende duisternis, saam met swaar reënbuie het ‘n einde aan die dag se stryd
gemaak. Daardie aand het Colley na sy kamp by Mount Prospect teruggetrek. Sy
verlies was 76 dood en 67 so ernstig gewond dat hulle op die slagveld bly lê het. In
vergelyking met die vyand was die ongevalle aan Boerekant, net soos by Laingsnek,
betreklik gering, nl agt dood en ses gewond.
Die Transvalers, wat met soveel dapperheid geveg het, het redelike steun uit die
twee Britse kolonies ontvang, en meer as dit uit die suster-republiek. John X.
Merriman, die Kaapse staatsman, het kort na die aanvang van die Vryheidsoorlog
gewaarsku dat die stryd in Transvaal weerklank onder die Afrikaners in Kaapland
sou vind, en dat vergote bloed in Transvaal die saad sou wees van voortdurende
bitterheid tussen die Boer en Brit in Suid-Afrika. Die predikante van die Nederduitse
Gereformeerde Kerk in die Kaapkolonie het hulle vier dae voor die slag van Amajuba
in dieselfde gees uitgespreek en daarby gevoeg dat Transvaal met niks minder as sy
onafhanklikheid tevrede sou wees nie.
DIE SLAG VAN BLOEDRIVIER
Die besluit om Majuba te beset:
Toe genl. Colley die oggend op 24 Februarie die kamp saam met sy nuwe stafhoof,
kol. Herbert Steward, verlaat en in ‘n noordeoostelike rigting na die Buffelsrivier ry,
was die plan om Majuba te beset reeds gevorm. ‘n rukkie tevore het hy sy ultimatum
na die Boerelaer gestuur. Hy het hulle net 48 uur gegun om die Britse voorstelle vir
‘n wapenstilstand te aanvaar.
Nadat hulle deur die rivier gery het, maak hulle ‘n wye draai om die linkervleuel van
die Boeremagte en bestyg ‘n rant om met hul verkykers die noordelike hang van
Majuba te bespied. Hierdie verkenningspatrollie het nie net gedien om die indruk by
die Transvalers te skep dat die volgende aanval vanaf daardie rigting te wagte kon
wees nie, maar dit het genl. Colley nog meer oortuig van die wenslikheid om sy plan
uit te voer. Hy het reeds ‘n week tevore vanaf die Imguelarante gesien dat die
westelike en suidwestelike hange van die berg onneembaar is. Nou was hy
heeltemal oortuig dat indien hy bo-op Majuba kon kom, sy posisie so onaantasbaar
en strategies sou wees dat die Transvalers verplig sou wees om hul stellings aan die
voet van die berg te ontruim.
5 | B l a d s y
Terwyl hy in die namiddag na die kamp terugkeer, het hy ‘n finale besluit geneem en
aan kol. Stewart gesê dat hy die berg gedurende die nag van 26/27 Februarie gaan
beset. Die 48 uur tydsgrens van die ultimatum sou verstreke wees en hy sou so ‘n
sterk posisie beklee dat sy reputasie in ere herstel moes word voordat ‘n
vredesluiting kon plaasvind.
Die volgende dag het stil verloop. So ook die oggend van 26 Februarie. Dit was
Saterdag en daar het ‘n ontspanne gees in die kamp geheers. Dit was ‘n helder,
sonnige somersdag. Ver oor die rante rondom Mount Prospect kon die musiek van
die Skotse doedelsakke gehoor word en die klanke van die militêre orkes van die
58ste Regiment het uitgekring tot teen die hange van Majuba. Die soldate het in die
kamp rondgeluier, grappe gemaak, gesing en met pikstele en ammunisiekiste vir
paaltjies, krieket gespeel.
Beplanning van die nagmars:
Genl. Coley en kol. Stewart het byna die hele dag die berg met verkykers bestudeer.
Later is gesien dat die generaal met ‘n Zoeloe in gesprek is en toe die Zoeloe met
sy hand na die berg wys, het Colley hom vinnig beduie dat hy sy arm moes laat sak.
Daardie Zoeloe is reeds die vorige aand die berg uitgestuur met die bevel om die
volgende dag aan genl. Colley te rapporteer.
Uit hierdie gesprek kon Colley twee verblydende gevolgtrekkings maak. Eerstens,
dat daar geen Boere op die kruin was nie, maar dat daar net bedags ‘n brandwag
was wat saans teruggekeer het na die kamp by Laingsnek. Tweedens dat daar
water op die berg te vinde was deur slegs ‘n vlak put te grawe.
Drie-uur Saterdagmiddag is maj. Fraser deur die generaal en sy stafhoof in hul
vertroue geneem en die hele plan is aan hom verduidelik. Noukeurig het hierdie drie
manne die finale reëlings vir die nagtelike avontuur getref: Elke manskap moes drie
dae se rantsoene saamneem. Hierdie voorrade was eintlik genoeg om in uiterste
omstandighede ses dae te hou. Verder moes elkeen ‘n grondseil, khaki-jas, geweer
en sewentig patrone saamdra. Verdere ammunisievoorraad sou later die nag na die
voet van die berg geneem word. Ook moes voldoende pikke en grawe berg-uit
geneem word om die nodige vestings te maak en ‘n waterput te grawe, indien dit
nodig was.
Die 600 manskappe wat gekies is vir hierdie gewaagde ekspedisie het uit sewe
afdelings bestaan, soos volg saamgestel: drie van die 92e Gordon Highlanders,
twee van die 60e Rifles, twee van die 58e Regiment en ‘n Vlootbrigade van 64
seesoldate van die skip Boadiea. Van die sewe afdelings was vier afdelings en die
Vlootbrigade vir die kruin bestem, terwyl die ander drie die verbindingsroete tussen
Mount Prospect en Majuba deur twee kampe moes oophou.
6 | B l a d s y
Die eerste kamp was wes van Mount Prospect by die Imquelarant en die tweede
sowat 1000 meter van die voet van die berg. Die beplande roete het dus ‘n regter
hoek gevorm en na die steilste deel van die berghang gelei.
Colley se laaste brief aan sy vrou:
Om halfsewe die aand eet Colley saam met sy offisiere en gee daarna die bevel dat
die gekose troepe moet inval en dat al die ligte gedoof moet word. Gedurende
hierdie laaste oomblikke voor die nagmars begin, skryf hy sy laaste brief aan sy
vrou: “Vannag gaan ek probeer om Majuba te beset, wat die regterflank van die
Boerestellings beheer, en ek laat hierdie brief na ingeval ek nie weer terugkom nie,
om jou te vertel hoe diep ek jou bemin en watter vreugde jy vir my was. Moenie dat
die lewe vir jou donker word indien ek nie terugkeer nie. Dit is ‘n vreemde wêreld
van kanse ... Dink aan ons geluk tesame en ons liefde ... en laat dit vir jou ‘n bron
van troos en lig in die toekoms wees ... en dink met liefde en droefheid aan jou
geliefde man”
In die kamp word in die donker rondgeskarrel om alles in gereedheid te bring. Die
wat gekies was om deel te hê aan die opmars, was bly en opgewonde. Die wat
moes agterbly was teleurgesteld, maar albei groepe het ‘n onwrikbare vertroue in
genl. Colley gehad.
Die mars na die kruin:
Spoedig was alles gereed. Rantsoene is uitgedeel, water bottels volgemaak en
inspeksie is afgehandel. Om tien uur kom die bevel om te marsjeer. Maj. Fraser,
met twee Zoeloe-gidse, is op die voorpunt. Dan volg die afdelings van die 58e, 60e
en 92 Regimente, terwyl die Vlootbrigade onder aanvoering van kmdt. Romelly die
agterhoede vorm. Die samestellings van hierdie mag uit soveel verskillende
regimente, in plaas van net uit een regiment die nodige aantal manskappe te neem,
is later beskou as een van die oorsake van die mislukking van die veldslag vir die
Britte. Moontlik wou genl. Colley al die regimente laat deel in die voorreg om die
berg te beset.
Spoedig het hulle die pad tussen Standerton en New-Castle oorgesteek en het die
onsekerheid oor hul bestemming verdwyn. Almal het toe besef dat Majuba met ‘n
ompad bestyg sou word. Na ‘n uur is die westelike roete voltooi en was die
besettingsmag sowat 4000 meter suid van Majuba by Inquelaberg. Daar is die twee
afdelings van die 60e Rifles agtergelaat om die verbindingsroete oop te hou. Die
moeiliker deel van die opmars het voorgelê. Langs ‘n beesvoetpad teen die steil
kant van Inquela moes die troepe in enkel gelid die volgende 1000 meter aflê.
Daarna kon hulle in viere op die rug van die rant noordwaarts na Majuba beweeg.
Om middernag was hulle omtrent halfpad tussen die twee berge en is halt geroep.
Daar is nog ‘n afdeling en die offisiere se perde agtergelaat.
7 | B l a d s y
Vorentoe het die rotse so steil geword dat die gevaarlik was om dit met diere in die
nag aan te durf.
Die verposing het ook aan die lig gebring dat ongeveer ‘n kwart van die manskape in
die donker verdwaal het. Maj. Fraser en een van die Zoeloe gidse het hulle
mettertyd opgespoor, maar ‘n hele uur het daarmee verlore gegaan. ‘n Uur was van
groot belang, omdat dit uiters noodsaaklik was dat hulle die kruin van Majuba voor
daglig moes bereik.
‘n Koue noordewind het die troepemag begroet toe hulle in die donker al langs die
rug van die berg voortbeweeg. Veraf kon die geblaf van die honde by O’Neill se
plaaswoning gehoor word. Eindelik het hulle die voet van Majuba bereik. Voortgang
het toe besonder moeilik geword, aangesien die suidwestelike kant van die
berghang nie net besonder steil is nie, maar ook baie bebos en rotsagtig. Hulle
vorder stadig. Soms raak die gidse die pad byster. Teen drie-uur is die vierpunt teen
die laaste skuinste onder die kruin. So skuins is die helling dat hulle aan graspolle
moes vasklou om nie agteruit te gly nie. Voor vieruur bereik die voorste manskappe
die kruin en sowat ‘n uur later was die hele mag op die berg.
Genl. Colley het dadelik die terrein inspekteer. Die kruin is min of meer in die vorm
van ‘n driehoek waarvan elke sy sowat 400 meter lank is. Die westelike sy van die
kruin word in twee helfte verdeel deur ‘n spits koppie wat later as McDonald se
koppie bekend sou staan. Van McDonald se koppie tot by die noordelike punt van
die kruin, sowel as die hele noordoostelike sy, het Colley aan die 92e Gordon
Highlanders toegewys om te verdedig. Die suidoostelike kruin is deur die 58e
Regiment beman, terwyl die 64-manne van die Vlootbrigade die ander helfte van die
westelike sy beset het. Gordon se kopie wat los staan van die noordelike punt van
die berg, sou ‘n belangrike rol speel en is vernoem na die Gordon Highlanders wat
dit aanvanklik ook beset het.
Die terrein op die berg is komvormig met die laaste plek net oos van die middelpunt.
Hierdie holte sou nie net as hospitaal dien nie, maar ook as basis vir die troepe wat
nie diens gedoen het nie. Daar het hulle water gevind deur ‘n vlak put te grawe.
Teen dagbreek strompel die moeë manskappe na hul aangewese stellings. Toe
hulle die steil kranse langs die noordelike kante van die kruin bereik, sien hulle die
uitgestrekte Boerelaer langs die onderste hange noord van Majuba. Met die vyand
aan hul voete is hul moegheid meteens weg en word daar gejuig, gelag en geskerts.
Die Boere besef die Britte is op die berg:
In die Boerelaer was dit stil en rustig in die vroeë ure van Sondag 27 Februarie.
Hoog bokant die laer was die kruin van Majuba teen die horison sigbaar. Van die
laer tot op die bergkruin was enkele terrasse wat hier en daar deur yl beboste klofies
onderbreek is. Kmdt.-genl. Piet Joubert het vroeg reeds opgestaan.
8 | B l a d s y
Om vieruur het hy die wagte na die verskillende wagposte gestuur en daarna
voortgegaan om ‘n verslag aan genl. Cronje te skryf.
By die eerste daglig het sy vrou, Hendrina, wat enkele dae tevore by die kamp
aangesluit het, haar man se aandag daarop gevestig dat daar mense op die berg
was. Genl. Joubert se eerste geagte was dat dit versterkings was wat hy vanaf
Pretoria verwag het, wat verdwaal het. Toe sy hom egter vra van wanneer af die
burgers rooi baadjies dra, het die werklikheid van die situasie spoedig tot hom
deurgedring. Deur die lense van sy verkyker is dit finaalbevestig: Die Britte was in
beheer van die kruin van Majuba!
Die kmdt.-genl. het, volgens sommige skrywers, nooit die moontlikheid dat die Britte
die berg kon beset, uit die oog verloor nie. Hy het vanaf Donderdag 24 Februarie
elke nag sowat 50 man op die berg gehad, maar deur “’n buitengewone daad van
Voorsienigheid” soos hy dit later beskryf het, het die brandwagte wat aangesê was
om die Saterdag die bergkruin te bewaak, uit burgers van Pretoria bestaan wat pas
in die laer aangekom het en onbekend was met die omgewing. Hulle het glo die pad
byster geraak en die nag halfpad teen die berghang deurgebring.
Die eerste reaksie in die Boerelaer was een van verbasing en verwarring. Baie van
die burgers het dadelik begin om hul waens in te span en hul perde op te saal. Baie
was verontwaardig dat die Britte die berg beset het terwyl die wapenstilstand van
krag was, en veral ook omdat dit ‘n ontheiliging van die Sabbat was. Hendrina
Joubert wat ‘n groot stukrag agter baie van haar man se optredes was, het by hom
gepleit om liewer aan te val as om terug te val.
Eerste geweervuur:
Wat gebeur intussen op Majuba?
Luit. Lucy van die 58e Regiment stap tot op die noordelike rand van die berg. Saam
met sy Skotse makkers kyk hy af op die Boerelaer. Toe hy teen die onderste hange
burgers te perd gewaar, leen hy ‘n geweer en skiet ‘n wilde skoot in die rigting van
die ruiters. Dit was die eerste skoot op daardie Sondag wat so belaai was met
dramatiese gebeure. Hoewel genl. Colley dadelik alle geweervuur verbied het, is
met tussenposes nog skote vanaf Majuba geskiet. Die feit dat die Britte nie van
grofgeskut gebruik gemaak het nie en dat geen verdere versterkings besig was om
die berg te bestyg nie, sowel as die aansporings van sy vrou, het Joubert laat besluit
dat die Britte van die berg afgehaal moes word.
Toe die besluit eenmaal geneem was, het alles in die Boerelaer meteens verander.
Waar daar voorheen verwarring en twyfel bestaan het, was daar toe doelgerigte
beplanning en optrede. Alle voorbereidings vir die ontruiming van die stellings en die
opbreek van die laer is onmiddellik gestaak. Kmdt.-genl. Joubert het sy perd bestyg,
tussen die burgers inbeweeg en hulle beveel om die Britte op die berg te gaan
afhaal.
9 | B l a d s y
Genl. Smit in bevel:
Spoedig het ‘n groot aantal burgers by die laer byeengekom en verneem dat daar
reeds krygsraad gehou is en dat Genl. Smit opdrag gekry het om die berg te ontset.
In ‘n kort, besielende toespraak het hy hulle aangespoor om nie toe te laat dat die
Britte op die berg bly nie. Daarna het hy vrywilligers gevra om na vore te tree. Met
meesterlike strategie is die aanval beplan. Die jonger manne moes uitklim tot op die
kruin, terwyl die ouer burgers van onder af ‘n dekvuur moes verskaf, om te verhoed
dat die Britte hulle sien terwyl hulle teen die hane uitklouter. Die sowat 150
vrywilligers is in drie kommando’s verdeel onder aanvoering van kmdt. Joachin
Ferreira, asst.-vk. Stephanus Roos en vk. D. Malan.
Beweging van die Boere teen die berghang:
Geen tyd is verspil nie. Omstreeks sewe uur het die kommando’s verdeel en in klein
groepies vertrek. Kmdt. Ferreira is teen die westelike hang uit, asst.-vk. Roos teen
die noordelike hang, terwyl vk. Malan na die suidelike berghelling gery het. Genl.
Smit het self ‘n kommando gelei om die verbindingsroete tussen Mount Prospect en
Majuba te bewaak, ingeval verdere versterkings vir Colley van die kamp af sou
opdaag.
Die bewegings van die burgers kon van die berg af gesien word, maar Colley was
onder die indruk dat die Boere besig was om die nodige dekking te voorsien, terwyl
die laer opgebreek word en die stellings ontruim word. Vir die burgers was dit
spoedig te steil en gevaarlik om te perd teen die berg uit te ry. Hulle moes ook met
die uiterste versigtigheid beweeg. ‘n Voortdurende dekking van geweervuur was
nodig om die Britte van die buitenste rand van die kruin weg te hou. Van elke klip en
bos wat skuiling kon bied, het die Boere gebruik gemaak. Soms is vinnige spronge
van een beskutting na die ander gemaak en soms moes hulle plat op die maag,
bietjie vir bietjie oor die yl bedekte dele van die terrein seil.
Namate hulle die kruin genader het, is die geweervuur verskerp, sodat dit vir Colley
se soldate byna onmoontlike was om op die rand van die kruin te beweeg. Die Britte
was baie verbaas oor die hewige geweervuur wat teen die kranse vasslaan, maar
hulle was glad nie bekommerd oor hul veiligheid nie. Nie een van hulle het verwag
dat die Boere dit sou waag om tot op die kruin te kom nie.
Die burgers, onder die aanvoering van Roos wat die middelste roete aangedurf het,
kon aanvanklik gebruik maak van die beskutting van ‘n smal kloof wat halfpad teen
die berg onder ‘n klein rif doodloop. Daar kon hulle rus en hul waterflesse by ‘n
fontein vul, voordat hulle uitgesprei het om die laaste skuinste aan te pak. Spoedig
was julle op die laaste terras wat by die noordelike punt van die kruin doodloop aan
die voet van die losstaande koppie wat deur die Gordon Highlanders beset was.
10 | B l a d s y
Die koppie was die speerpunt waarvandaan die Boere hul aanval geloods het.
Onder dekking van aanhoudende geweervuur het hulle in klein groepies vorentoe
beweeg om skuiling aan die voet van die koppie te vind.
Britte voel gerus:
Verseker van die onaantasbaarheid van hul posisie op die kruin, was die Britte
daardie oggend glad nie bekommerd nie. Nadat genl. Colley die helfte van die
ongeveer 400 manskappe hul posisies om die rand van die kruin aangewys het, het
die reserwe- troepemag hulle in die holte op die kruin tuisgemaak. Sommige het
van hul rantsoene geëet, terwyl baie van hulle na die uitputtende nag geslaap het of
gerus het. Colley het kort-kort met die heliograaf boodskappe na Mount Prospect
laat flits. Alhoewel die troepe opdrag gehad het om hulself in te grawe, was hulle so
tevrede met hul posisie dat hulle min moeite gedoen het om die opdrag uit te voer.
Sommige het net enkele klippe, wat alles behalwe ‘n veilige skans was, op mekaar
gestapel.
Sommige van die onderoffisiere het die manskappe aangemoedig om skanse te bou,
maar dit is op ‘n baie halfhartige wyse aangepak. Die enigste noemenswaardige
skanse is op die suid-westelike punt deur die seesoldate opgerig. Aan sy stafhoof
het Colley gesê dat hy later die oggend sou teruggaan na die kamp om die troepe te
mobiliseer. Hy wou kmdr. Romelly opdrag gee om die bevel op die berg oor te
neem. Om halftien het Colley die volgende boodskap na Mount Prospect laat sein:
“Alles baie gemaklik. Boere besig om ammunisie te verkwis. Een man in sy voet
gewond.”
Genl. Colley het op daardie stadium min aandag geskenk aan die onverskrokke
burgers wat al hoe nader aan die kruin beweeg het. Hy het aan niemand presies
vertel wat sy plan met die besetting van die berg was nie. Hy was nog steeds onder
die indruk dat die Boere-vuur slegs bedoel was om hulle te beskerm terwyl hulle die
aftog blaas. Die Generaal het rustig tussen die manne rondbeweeg. ‘n Rapport van
Luit. Hamilton, een van sy senior offisiere van die Gordon Highlanders, dat die
Transvalers buite die gesigsveld van die Skotte naderkom, het Colley heeltemal
ignoreer.
Kmdr. Romilly dodelik gewond:
Ongeveer 1000 tree onderkant die kruin, sien een van die Boere ‘n paar bewegende
figure op die kranse van die kruin en besluit om ‘n skoot in daardie rigting af te vuur.
Op daardie oomblik was genl. Colley in gesprek met kmdr. Romilly, maj. Fraser en
sy stafhoof Steward. Nadat Colley aan Romilly verduidelik het dat hy van plan was
om binnekort na die kamp terug te keer en dat Romilly die bevel op die berg moes
oorneem, het hulle die moontlikheid bespreek om verdere vestings op te rig. Op die
ingewing van die oomblik het kmdr. Romilly sy verkyker gelig en sy blik oor die lae
hange van die berg laat dwaal.
11 | B l a d s y
Meteens sien hy die burger wat besig was om na die kruin aan te lê. Hy noem dit vir
die offisiere by hom, terwyl hy hardop wonder wat die afstand tussen hulle is.
Stewart kyk ook na die plek waarheen Romilly beduie en skat die afstand op 1000
meter. Skielik tref ‘n koeël vir Romilly in sy maag en verlaat sy liggaam aan die
agterkant van sy nek. Dit was gou duidelik dat hy dodelik gewond was en nie veel
langer sou leef nie. Toe hy by die veldhospitaal in kom ingebring word, was daar
reeds drie ander gewondes.
Geweervuur neem toe:
Toe die middag aanbreek, het die burgers se geweervuur hewiger geword. Die
verlies van Romilly was ‘n verpletterende slag vir Colley, maar hy was heeltemal
gerus oor die veiligheid van sy manne op die berg. Selfs toe die knyptang van alle
kante nouer om hulle sluit, het hy geglo dat die Transvalers besig was om hul
aandag af te trek, terwyl hulle die Boerestellings op Laingsnek ontruim.
Skielik het die geweervuur meer intens geword, Stephanus Roos en sy manne het
die Gordon Highlanders op die losstaande koppie naby die noordelik punt van die
kruin so hewig onder die koeëls gesteek dat ongeveer 60 burgers oor die laaste oop
terras kon storm om stelling in te neem aan die voet van die koppie waarop die
Skotte was. Oor hierdie nuutste verwikkeling was luit. Hamilton hewig ontsteld. Ten
spyte van die kwaai geskiet het hy na genl. Colley gehardloop om hom in te lig. In
die bergholte waar die reserwe-troepe gerus het was alles rustig en ontspanne. Toe
luit. Wright ‘n rukke later ‘n verdere berig van die naderende onheil bring, het die
Generaal hom slegs meegedeel dat hulle die kruin vir drie dae moes hou.
Met behulp van ‘n dodelik dekvuur deur die ouer burgers, het genl. Nicolaas Smit
meer en meer burgers onder na die kruin van die berg gekry. Nog boere het ook
van die kamp nader gekom om by hul makkers aan te sluit. Teen ongeveer kwart
voor een was daar volgens beraming deur luit. Hamilton reeds ongeveer 400 burgers
om die kruin saamgetrek, maar toe hy dit aan Colley gaan rapporteer, vind hy die
bevelvoerder rustig aan die slaap.
Alles was gereed vir die slagting wat binne die volgende kwartier in aanvang sou
neem. Die voorhoede van die Boeremagte was die sowat 60 burgers wat skuiling
gevind het aan die voet van die losstaande koppie waarop die Skotte was. Hierdie
Boere het gewag op die teken om aan te val. Ander burgers het aan die voet van
die kranse om die boonste kruin na die suidoostelike berghang beweeg. Vk. Malan
se manne het so ‘n skerp geweervuur op die hoogste punt van hierdie sykant van die
kruin gerig dat maj. Hay wat daar in bevel van die 58e Regiment was, gemerk het
dat sy manskappe nie meer lus het vir hierdie koppie wat later na hom vernoem is
nie.
12 | B l a d s y
Dat die Transvalers hul eerste aanslag vanaf die noordelike punt van die kruin
geloods het, het besliste voordele gehad. Hulle het die kruin genader waar dit die
maklikste bestyg kon word, en dit was ook die deel waar die Britse verdediging die
swakste was. Die skotte op die koppie was heeltemal blootgestel aan die koeëls van
die burgers wat oorgehaal was om aan te val.
Begin van die geveg:
Eindelik is die teken gegee om te storm en die Slag van Majuba het begin. Roos en
sy manne het skielik uit hul gehurkte posisies onder die koppie uitgespring en met ‘n
oorverdowende sarsie die Skotte op die koppie voor hulle afgemaai. Met die
uitsondering van twee of drie wat inderhaas na die kruin gevlug het, is almal
uitgewis. Roos en sy burgers het die koppie dadelik beset en losgebrand op die
noordelike deel van die kruin wat ongeveer 50 meter van die koppie af is. Intussen
het ander burgers begin om die laaste kranse van die kruin te klim.
Gordon Highlanders vlug:
Die burgers op Gordon se koppie het toe begin maai onder die Skotte op die rand
van die kruin naaste aan hulle en met akkurate skote binne enkele oomblikke meer
as 40 doodgeskiet. Stewart het na die berg holte gestorm om versterkings te kry,
maar die reserwe-troepe was glad nie baie gretig om na die noordelike deel van die
berg te gaan nie. Ten spyte van die dringende bevele van hul offisiere was hulle
geensins in ‘n bui om hul lewenspad op die spel te plaas vir hulle makkers wat so ‘n
moordende vuurdoop moes ondergaan. Luit. Hamilton beweer dat hulle moontlik
verward was omdat hulle so skielik opgeroep was. Die talmende reserwe-troepe is
skielik van voor tegemoet gekom deur die vlugtende Skotte wat nie meer teen Roos
se burgers weerstand kon bied nie en wat nou paniekbevange na die suidelike deel
van die kruin op vlug geslaan het.
Die Britse joernalis en skrywer, Carter, wat gedurende die slag op die berg was, gee
vir ons ‘n beeld van die uiterste verwarring wat daar geheers het. Omdat die Britte
in twee teenoorgestelde rigtings beweeg het, het die bevel “beweeg na regs” wat
spoedig op almal se lippe was, veroorsaak dat die troepe wat van die burgers af
weggevlug het na hul regterkant beweeg en die wat met hul gesig na die vyand was,
het weer na hul regterkant beweeg. Sommige van die Gordon Highlanders het egter
oorgenoeg van die ontsettende geweervuur gehad en het by die verdwaasde
generaal verbygestorm na die suidelike hang van die berg en paniekbevange oor die
kant van die hoë kranse verdwyn, terug langs die roete wat hulle die vorige nag
vanaf Mount Prospect gevolg het.
Boere op die berg:
Baie gou was die eerste burgers op die kruin van Majuba. Aangevuur deur hul
aanvanklike sukses, was daar toe geen keer aan hul vasberade aanval nie. Tussen
hulle en die Britte – wat dadelik begin het om ‘n nuwe gevegslinie te vorm – was ‘n
natuurlike skeiding wat grootliks tot die burgers se verdere sukses bygedra het.
13 | B l a d s y
Ewewydig met die rand van die kruin waar hulle uitgeklouter het, loop ‘n rotsrif oor ‘n
groot deel van die terrein. Die gebied tussen hierdie rif en die kant van die kruin is
effens hol, sodat hulle in ‘n gebukkende posisie tot 40 meter van die Britte se nuwe
linie kon kom. Die linie het van Hay se koppie tot ongeveer by die middel van die
kruin getrek.
Britte vorm nuwe gevegslinie:
Die nuwe posisie van Colley se gevegslinie was geensins swak nie. Hulle was
stewig ingegrawe en toe daar na die eerste terugslag weer orde in hul geledere
herstel is, was sowat 200 soldate langs die rand van die berg holte opgestel. Aan
hul linkerflank was 20 Skotte nog in volle beheer van McDonald se koppie wat
weens sy besondere ligging die noordelike en westelike kante kon dek. Die
regterflank het tot teen Hay se koppie op die suidoostelike rand gestrek. Die Britte
het die noordelike deel van die kruin ingeboet, maar hul nuwe linie was veel korter
en gemakliker om te verdedig. Die grootste nadeel was egter dat hulle vanuit hulle
stelling in die berg holte nie die rand van die kruin kon sien nie. Al wat 40 meter
voor hulle in die lang gras sigbaar was, was geweerlope wat hier en daar uitgesteek
het. Spoedig het die kruitdampe van die geweervuur ook dit vir hulle onsigbaar
gemaak.
Britse weerstand verkrummel:
Die burgers, onder leiding van Roos, het toe begin om die vloot-soldate en die 58e
Regiment op die suidelike berg rand af te maai. Hulle het dus bo-oor die Britse
gevegslinie wat voor hulle in die holte was, gevuur en die verste soldate eerste
onder skoot gekry. Spoedig was daar paniek onder hierdie troepe en die wat nie
soos die Highlanders tevore bergaf gevlug het nie, het na die middel van die kruin
gehardloop om by hul makkers aan te sluit. Die burgers op die kruin sowel as die
langs die suidoostelike hang het die Britte op Hay se koppie so hewig onder skoot
geneem dat hulle ook nie meer kans gesien het om hul stelling langer te verdedig
nie. Hulle het al hoe meer verskonings gesoek om nie meer op die koppie te bly nie.
Die troepe op McDonald se koppie aan die regterflank van die Britse gevegslinie, het
weens die hoogte nie net geweervuur van die Boere op die kruin verduur nie, maar
is ook deur kmdt. Ferreira se burgers teen die westelike hang onder skoot gekry.
Die skotte op hierdie koppie moes onder so ‘n geweldige koeëlreën deurloop dat
hulle nie veel kon uitrig nie. Nogtans was hulle die laaste om hul vestig te verlaat.
Van die oorspronklike 20 manskappe het net twee ongedeerd daarvan af gekom.
Agt was dood en tien gewond.
Colley weier bajonetaanval:
Wat sou in genl. Colley se gedagte omgegaan het toe hy merk dat sy gevegslinie
aan alle kante verbrokkel? ‘n Waarnemer skryf dat die generaal kalm en doelgerig in
die middel van sy manne stelling ingeneem het. Luit. Hamilton het hom versoek om
‘n teenaanval met gevelde bajonette te loods, maar hoewel die troepe hul bajonette
gereed gehad het, het Colley die versoek geweier.
14 | B l a d s y
Hy het Hamilton gevra om te wag totdat die Boere op hul afstorm. Dan moes hulle
begroet word met ‘n sarsie geweervuur en eers daarna moes die bajonette gebruik
word. Later is baie bespiegel oor hierdie besluit van Colley. Sommige meen dat hy
daardeur die laaste geleentheid om die Boere te keer, laat verbyglip het. Ander glo
weer dat dit selfmoord sou gewees het om in die aangesig van die akkurate vuur uit
die burgers se gewere oor die rif te klouter.
Paniek onder Britse soldate:
Genl. Nicolaas Smit se manne langs die hange van Majuba het ook reeds vanuit die
suidoostelike en westelike kante die kruin bereik, en gevolglik was die Britte op die
berg van alle kante omsingel. Die veggees van die troepe was gebreek. Vir so ‘n
moordende geweervuur het hulle nie meer kans gesien nie. Carter beskryf hoedat
daar skielik pandemonium in die geledere van die Britte losgebars het. Die afdeling
naaste aan Hay se koppie het skielik hul gewere neergegooi en na die suidelik punt
van die kruin gehardloop, waar hulle die vorige nag uitgeklouter het. Geen bevel,
geen gevloek, of dreigement van die offisiere kon hulle tot stilstand bring nie. Hulle
het vertroue in hul offisiere verloor. Te midde van die intense verwarring het hulle
net gehoop om met hul lewens daarvan af te kom. Die paniek het gou langs die hele
linie versprei en niks kon gedoen word om die posisie van die Britte te beredder nie.
Oral was daar net vlugtende soldate te sien.
Die burgers wat toe hul verskyning op die suidoostelik kruin gemaak het, het
verwoesting onder die vlugtende gesaai. Volgens Carter het baie van hulle te staan
gekom voor afgronde wat op sommige plekke tot 15 meter hoog was. Baie van hulle
moes kies tussen ‘n koeël op die bergkruin, of ‘n gebreekte liggaam aan die voet van
die kranse. Die wat dit reggekry het om heelhuids teen die kranse af te klouter, was
uitgelewer aan die genadelose geweervuur van die burgers langs die berghange.
Sommige het onder die bosse en struike skuiling gesoek, met die hoop om tot
donker daar weg te kruip en dan te probeer ontsnap.
Generaal Colley sneuwel:
Daar word baie verskillende verhale vertel oor genl. Colley en wat met hom gebeur
het gedurende daardie oomblikke van uiterste verwarring en paniek onder sy
manskappe. Sommige beweer dat, toe hy sien dat daar geen hoop meer was om
teenstand te bied nie, hy die bevel gegee het om so ordelik moontlik tot op die
suidelike rand van die kruin terug te val. Ander beweer dat hy gelate moes aanskou
hoe almal van hom af wegvlug en dat hy die wat nog by hom was, versoek het om
terug te val. Colley se biograaf, sir William Butler, beweer egter dat daar nooit ‘n
bevel om te retireer oor die Generaal se lippe gekom het nie.
Nadat die laaste troepe manskappe hom verlaat het, het hy alleen op die slagveld
gestaan. Vyftien meter voor hom was die burgers wat aangestorm kom. Regs agter
hom het die burgers op die kruin verskyn en na die tydelike hospitaal in die berg
holte beweeg.
15 | B l a d s y
Een van die gewondes het na die slag vertel dat Colley nooit beweeg het van die
plek waar hy gestaan het toe sy manskappe op die vlug geslaan het nie. Terwyl hy
nog probeer het om orde te skep, het ‘n burger hom voor in die kop geskiet. As hy
sou verkies het om saam met sy manne terug te val sou sy kanse om die slag te
oorleef net so goed gewees het as enige van die ander. Kol. Stewart bevestig ook
dat hy gesien het hoe die generaal stadig tot sowat 20 meter voor die aanstormende
gestap het, toe hy skielik neergeslaan het. Die koeël het hom in die voorkop getref
en ‘n groot wond aan die agterkant van die skedel gelaat.
Die Boere wat spoedig op die berg gewemel het, was verbaas toe hulle verneem dat
die Britse aanvoerder een van die gesneuweldes was. Nadat die skietery opgehou
het, is die lyk van Colley deur die koerantman, Carter en deur luit. Hamilton uitgeken.
Laasgenoemde wou nie na die generaal se gesig kyk nie, maar het hom aan sy klere
uitgeken.
‘n Klein klipomheining met ‘n eenvoudige kruis daarbinne dui vandag die plek aan
waar Colley op Majuba gesneuwel het.
Toneel van die geveg:
Die laaste soldate wat hul wapens op die berg moes lê, was die Skotte onder leiding
van McDonald. Soos tevore gemeld, was net twee van die oorspronklike 20 man
nie gedood of gewond nie. Een van die twee was McDonald self. Toe kmdt.-genl.
Piet Joubert later die middag op die berg aankom, het hy McDonald se swaard aan
hom teruggegee met die woorde: “’n Dapper man en sy swaard mag nie geskei word
nie.”
Onmiddellik na die veldslag toe die eerste kruitdampe opklaar, was daar baie
burgers op die kruin wat van alle kante tussen die Britte inbeweeg het. Geleidelik
het die geweerskote wat na die vlugtende Britte langs die berghang gevuur is, ook
afgeneem. Die gekerm van die gewondes kon toe duidelik gehoor word. ‘n Jong
burger skryf ‘n paar dae na die slag dat dit verskriklik was om die slagveld te
aanskou. Die berg was oortrek met dooie, sterwende en gewonde soldate. Dit was
onmoontlik om die gekerm, die gesmeek, die gebede, die geskreeu, die geroep na
water en jenewer te beskryf. Intussen opereer die dokter terwyl gewondes verskuif
word en ammunisie en gewere versamel word.
Die meeste Britte was diep beïndruk met die gedrag van die burgers en die menslike
wyse waarop hulle behandel is. Daar was geen gespog of uitbundigheid na die
oorwinning nie. Baie van die Skotte het ook die Boere bewonder, enersyds oor hul
menslikheid en andersyds oor die besondere prestasie om die berg te kon ontset. Vir
die burgers was daar ‘n heel eenvoudige verklaring waarom sake so verloop het: “
Waarom veg julle op ‘n Sondag teen ons? Dit is die straf van God dat julle verloor
het.”
16 | B l a d s y
Genl. Nicolas Smit het gou orde herstel. ‘n Vrywillige kommando onder bevel van
genl. Frans Joubert het dadelik vertrek om die Britse laers langs hul roete van die
vorige nag op te ruim en daarna die kamp by Mount Prospect aan die val. Die orige
burgers moes die Britte wat langs die berghang geskuil het, gaan bymekaarmaak,
terwyl nog ‘n groep die gevangenes na die Boerelaer moes wegbring.
Ongevalle:
Van die 400 Britte wat die berg bestyg het, het net 120 ontsnap. Van die 280
ongevalle was 92 dood, 135 gewond en 53 is gevange geneem. Van die 120 Skotte
het net 24 heelhuids ontsnap.
Aan die Boerekant het een gesneuwel, Hy was Johannes Bekker. Vyf is gewond en
een van hulle, J.J. Groenewald het later aan sy wonder beswyk. Al die Transvaalse
leiers het hierdie roemryke oorwinning aanvaar as uit die hand van God. Kmdt.
Ferreira stel dit as volg: “Ek erken dat dit nie ONS was wat hulle verslaan het nie,
maar die Here onse God. Dit was totaal onmoontlik vir mense alleen en dan om te
dink dat ons net een man verloor het. Dus geen eer aan mense. Alle eer aan onse
Groot Generaal.”
BRONNELYS
1. Geskiedenis van Suid-Afrika deur A.J.H. van der Walt, M.A., D.Phil. en J.A.
Wiid, M.A., D.Phil. en A.L. Geyer, M.A., D.Phil, verwerk en bygewerk deur
D.W. Kruger, M.A., D.Litt. Derde bygewerkte uitgawe en tweede druk – Mei
1979 - Bl 215 en 216. ISBN 0 625 01461 8.
2. Die Slag van Majuba – deur A.J.P. Opperman – ISBN 0 628 01821 5.