Christelike Vakonderrig In Geskiedenis · Aanhalings: "Christians look at the past in a distinctive...

26
Christelike Vakonderrig In Geskiedenis Prof EJ van Niekerk Inleiding Inleiding Inleiding Inleiding In hierdie afdeling word u met 'n aantal vrae gekonfronteer in u voorbereiding vir Christelike vakonderrig in Geskiedenis. Hulle lui soos volg: Is 'n uniek Christelike perspektief op die geskiedenis moontlik? Wat is die aard/kenmerke van Christelike vakonderrig in Geskiedenis? Wat is die belang van 'n Bybelse mensbeskouing/mensbeeld vir die onderrig van Geskiedenis? Wat is die belang van 'n Christelike teorie oor beskawingsontwikkeling/kultuurbou vir die onderrig van Geskiedenis? Watter betekenis het 'n Christelike tydsbeskouing vir die onderrig van Geskiedenis? Watter norme/kriteria kan aangewend word by 'n beoordeling van die verlede? Wat is die verskil tussen 'n Christelike en 'n humanistiese perspektief op die geskiedenis? Wat is die waarde van en doel met Geskiedenis as skoolvak vanuit 'n Christelike perspektief? In die interaktiewe dialoog met u word 'n aantal aktiwiteite in die loop van ons gesprek gestel. Daardeur word gepoog om u op so 'n wyse by die gesprek te betrek dat u mede- eienaarskap vir u skoling in Christelike vakonderrig aanvaar. Ons gee dadelik aandag aan die eerste belangrike vraag, veral vir onderwysers wat nie reeds kennis gemaak het met 'n Christelike perspektief in die onderrig van hul vak nie, naamlik: Is 'n uniek Christelike perspektief op die geskiedenis moontlik? Die moontlikheid van 'n Christelike perspektief op die geskiedenis. Die moontlikheid van 'n Christelike perspektief op die geskiedenis. Die moontlikheid van 'n Christelike perspektief op die geskiedenis. Die moontlikheid van 'n Christelike perspektief op die geskiedenis. U het reeds in Towards Christ-centred education, wat u in die algemeen geskool het oor Christelike onderwys, kennis gemaak met 'n Christelike benadering tot die wetenskap en die onderwys. Nou beweeg ons nader aan 'n Christelike benadering tot die vak wat ons aan die leerders onderrig. Aktiwiteit 1 Lees hoofstukke 1-5 van Towards Christ-centred education, asook die volgende drie aanhalings, en gee dan in ongeveer drie bladsye u uiteensetting van waarom 'n Christelike perspektief op die geskiedenis wel moontlik is.

Transcript of Christelike Vakonderrig In Geskiedenis · Aanhalings: "Christians look at the past in a distinctive...

Christelike Vakonderrig In Geskiedenis

Prof EJ van Niekerk

InleidingInleidingInleidingInleiding

In hierdie afdeling word u met 'n aantal vrae gekonfronteer in u voorbereiding vir Christelike vakonderrig in Geskiedenis. Hulle lui soos volg:

• Is 'n uniek Christelike perspektief op die geskiedenis moontlik?

• Wat is die aard/kenmerke van Christelike vakonderrig in Geskiedenis?

• Wat is die belang van 'n Bybelse mensbeskouing/mensbeeld vir die onderrig van Geskiedenis?

• Wat is die belang van 'n Christelike teorie oor beskawingsontwikkeling/kultuurbou vir die onderrig van Geskiedenis?

• Watter betekenis het 'n Christelike tydsbeskouing vir die onderrig van Geskiedenis?

• Watter norme/kriteria kan aangewend word by 'n beoordeling van die verlede?

• Wat is die verskil tussen 'n Christelike en 'n humanistiese perspektief op die geskiedenis?

• Wat is die waarde van en doel met Geskiedenis as skoolvak vanuit 'n Christelike perspektief?

In die interaktiewe dialoog met u word 'n aantal aktiwiteite in die loop van ons gesprek gestel. Daardeur word gepoog om u op so 'n wyse by die gesprek te betrek dat u mede-eienaarskap vir u skoling in Christelike vakonderrig aanvaar. Ons gee dadelik aandag aan die eerste belangrike vraag, veral vir onderwysers wat nie reeds kennis gemaak het met 'n Christelike perspektief in die onderrig van hul vak nie, naamlik: Is 'n uniek Christelike perspektief op die geskiedenis moontlik?

Die moontlikheid van 'n Christelike perspektief op die geskiedenis.Die moontlikheid van 'n Christelike perspektief op die geskiedenis.Die moontlikheid van 'n Christelike perspektief op die geskiedenis.Die moontlikheid van 'n Christelike perspektief op die geskiedenis.

U het reeds in Towards Christ-centred education, wat u in die algemeen geskool het oor Christelike onderwys, kennis gemaak met 'n Christelike benadering tot die wetenskap en die onderwys. Nou beweeg ons nader aan 'n Christelike benadering tot die vak wat ons aan die leerders onderrig.

Aktiwiteit 1

Lees hoofstukke 1-5 van Towards Christ-centred education, asook die volgende drie aanhalings, en gee dan in ongeveer drie bladsye u uiteensetting van waarom 'n Christelike perspektief op die geskiedenis wel moontlik is.

Aanhalings:

"Christians look at the past in a distinctive way because they bring to their study of the human experience a distinctive Christian frame of reference and system of values. The validity of this Christian view of the past rests directly on the validity of the Christian faith itself." (Swanstrom, 1978:130)

"The Christian perspective on the human past must be judged by the validity of Christianity itself. If the Christian faith is a tissue of myths, it can only provide a mythological viev of the past. But if the Bible is true, and if Jesus Christ is really "the way, and the truth, and the life" as he claims, then the Christian's view of the past will be the clearest of all." (Swanstrom, 1978:34).

"Christians view the past from a Christian perspective because they view everything that way if their faith is more than a superficial pose" (Swanstrom,1978: 32).

Einde van aktiwiteit

Die volgende vrae na aanleiding van hoofstukke 1-5 kan vir u moontlik help in die formulering van u antwoord:

Hoofstuk 1

Is die skeiding tussen heilsgeskiedenis (wat gewoonlik in die kerk en Sondagskool onderrig word) en die sogenaamde sekulêre geskiedenis (wat in die klaskamers van dagskole onderrig word) volgens Bybelse beginsels verantwoordbaar? Staan die ganse menslike geskiedenis onder beheer van die Skepper en Onderhouer daarvan? Vervul die Geskiedenisonderwyser 'n mindere roeping as die predikant of sendeling? Bestaan daar so iets soos 'n neutrale perspektief op die geskiedenis of die onderrig daarvan? Skemer 'n onderwyser se religieuse hartsingesteldheid ook in die onderrig van Geskiedenis deur?

Hoofstuk 2

Kan ons los van ons Christelike geloof met sy Bybelse grondslag 'n ware beeld van die Geskiedenis vorm, of sal dit 'n skeefgetrekte beeld wees? Behoort die Bybelse grondmotief van skepping, sondeval en verlossing as uitgangspunt in die onderrig van Geskiedenis geneem te word? Behoort ons die geskiedenis vanuit ons Christelike lewens- en wêreldbeskouing te bestudeer, aangesien lewens- en wêreldbeskoulike oortuigings buitendien altyd by wetenskapsbeoefening ter sprake kom?

Hoofstuk 3

Is dit moontlik om direk uit die Bybel antwoorde op al ons vakwetenskaplike vrae en probleme oor die Geskiedenis te kry, of geskied dit via 'n Christelike filosofie en lewens- en wêreldbeskouing? Wat is die waarde van 'n Christelike filosofie vir die onderrig van Geskiedenis?

Hoofstuk 4

Is God die oorsprong van alle kennis en waarheid? Wat is die subjektiewe en objektiewe voorwaardes vir kennisontsluiting en hoe is dit op Geskiedenis van toepassing? Maak die orde en struktuur wat God in die skepping daargestel het dit moontlik om sinvol met die verlede om te gaan deur die behoorlike aanwending van ons Godgegewe verstandelike vermoëns? Vorm die Geskiedenis 'n sinvolle, geïntegreerde geheel waarvan ons 'n geheeloorsig kan bekom omdat God die Oorsprong en Voleinder daarvan is?

Hoofstuk 5

Sou ons met chaos, waaruit niks oor die verlede af te lei is, gekonfronteer gewees het indien God nie orde en struktuur in Sy skepping daargestel het nie? Is Geskiedenis die verhaal van

hoe die mens God se opdrag tot rentmeesterskap oor Sy skepping en die ontginning van die skeppingsbeginsels op alle lewensterreine in die tyd uitgevoer het? Wat is in die lig hiervan die mens se roeping? Is vakonderrig in Geskiedenis wat nie doelbewus Christelik is nie die een of ander vorm van nie-Christelike vakonderrig?

Hoewel die bostaande slegs 'n aantal losstaande vrae is, kan dit u nogtans help om die eerste hoofstukke van Towards Christ-centred education op Geskiedenis as vak toe te pas, en om die aktiwiteit te doen. Indien u daarin slaag, het u uself 'n basiese skoling gegee in ons eerste probleemvraag, naamlik of 'n Christelike perspektief op die geskiedenis wel moontlik is. Indien u daarvan oortuig is, sal dit soveel makliker gaan met die implementering van Christelike vakonderrig in Geskiedenis, en sal u paraat wees om nie op sekulêr-humanistiese weë terug te val nie. Indien die aktiwiteit vir u moeilik is, kan u die res van hierdie afdeling deurwerk alvorens u dit voltooi, want u sal sekerlik idees teëkom wat u kan help.

Indien ons oortuig is van die geldigheid van 'n Christelike perspektief op die geskiedenis, is die volgende logiese vraag wat die kenmerke van sodanige perspektief is.

Die aard van Christelike vakonderrig in GeskiedenisDie aard van Christelike vakonderrig in GeskiedenisDie aard van Christelike vakonderrig in GeskiedenisDie aard van Christelike vakonderrig in Geskiedenis

Oor die aard van Christelike vakonderrig in Geskiedenis kan heelwat gesê word, maar daar kan ook kortliks 'n paar kenmerke neergestip word wat vir u die nodige agtergrond kan verskaf aan die hand waarvan u verder kan vorder in die uitwerk van temas en lesse in u vak. Die volgende word as basiese kenmerke van 'n Christelike benadering tot die Geskiedenis beskou:

• Vanuit 'n Christelike standpunt word dit as moontlik en noodsaaklik beskou dat elke volwasse mens 'n helder geheeloorsig oor die verloop van die menslike geskiedenis kan hê asook van die mens se (dus: ook sy/haar eie) plek daarin. God het Sy raadsplan met die geskiedenis in die Skrif openbaar. 'n Samehangende blik op die geskiedenis is dus in die breë trekke daarvan moontlik en noodsaaklik, want vanuit 'n Christelike perspektief bestaan daar nie so iets soos 'n chaotiese werklikheid nie, ook nie ten opsigte van die geskiedenis nie. Vanweë die sondeval en vanuit 'n humanistiese gesigshoek mag die geskiedenis vir ons duister voorkom, maar dit neem nie weg dat God se plan daarmee op koers is nie.

• Vanuit 'n Christelike standpunt word die geskiedenis as 'n eenheid beskou wat vanaf die skepping strek tot aan die einde van die tyd/wederkoms. Selfs daarna gaan dit voort, want die mens is geskape om sy Skepper vir ewig te dien. 'n Oorsig van die geskiedenis behels gevolglik dat ons dit vanaf die skepping as beginpunt sal oorskou, soos ons uit die Skrif leer. 'n Bybelse periodisering van die geskiedenis lyk kortliks soos

volg: van skepping tot sondeval; van sondeval tot die koms van die Messias; van die koms van Christus tot Sy wederkoms. Bogenoemde kan natuurlik verder onderverdeel word. Met die wederkoms vind die vestiging van die ewige Koningryk van God plaas, en sal die voortgang van die menslike geskiedenis 'n nuwe dimensie binnegaan waarin die sonde nie meer 'n rol speel nie. Uit die bogenoemde blyk duidelik dat in die Christelike geskiedbeskouing met 'n lineêre tydsbeskouing (en nie 'n sikliese nie) gewerk word waarin God se plan/doelstellings die voortgang van die geskiedenis bepaal. Daarom speel ook die toekoms as tydsmodus 'n belangrike rol in die Christelike geskiedbeskouing.

Aktiwiteit 2

Die aard van 'n tydlyn wat die onderwyser in sy klas aanbring kan veel van die bogenoemde op 'n konkrete wyse aan kinders oordra. Maak gevolglik 'n tydlyn vir gebruik in u klaskamer waarin u belangrike gebeurtenisse in die menslike geskiedenis aandui. Breek in u ontwerp totaal met enige skeiding tussen die sogenaamde heilsgeskiedenis en sekulêre geskiedenis. Onthou ook om aan die toekoms erkenning te gee deur die vermelding van die wederkoms.

Einde van aktiwiteit

• Vanuit 'n Bybelse perspektief predestineer, skep en regeer God oor die ganse geskiedenis. Vanweë Sy soewereiniteit oor die geskiedenis werk elke gebeurtenis mee tot God se voorafbepaalde doel. Die geskiedenis het betrekking op die hart van die Bybelse boodskap, naamlik die grondmotief van skepping, sondeval en verlossing. Die doel van die Bybelse geskiedenis is om Christus se oorwinning in die geskiedenis te toon. Hierdie oorwinning is met die opstanding van Christus, wat 'n hoeksteen van die Christelike dimensie van oorwinning in die geskiedenis vorm, behaal. Christus vorm in die Christelike geskiedbeskouing die middelpunt van die geskiedenis. Die Messiaanse doel van die geskiedenis is die herstel van alles wat die mens met die sondeval verbrou het.

• In 'n Christelike perspektief op die geskiedenis bestaan die dualisme heilsgeskiedenis - sekulêre geskiedenis nie. Die ganse menslike geskiedenis staan van begin tot einde onder God se

soewereine beheer en kan daarom as verbondsgeskiedenis interpreteer word. Die mens word deur God verantwoordelik gehou vir die wyse waarop hy/sy meewerk aan God se plan en doelstellings. In die verbondsgeskiedenis figureer alle mense of as kinders van die verbond of as verbondsverbrekers wat hul teen die verbond verset. In die Ou Testament vervul Israel die rol van verbondsvolk, terwyl die gelowiges onder alle volkere in die Nuwe Testament die verbondskinders is. Alle mense vanaf die skepping val binne hierdie omvattende raamwerk van die geskiedenis as eenheid en werk mee aan die voortgang daarvan. Ook die mens se sondigheid en ongehoorsaamheid kan God se plan met die geskiedenis nie dwarsboom nie. Selfs die verbondsverbrekers vorm deel van die eenheid en voortgang van die geskiedenis.

• Die skeppingsidee is van groot belang in 'n Christelike geskiedbeskouing. Die aanvaarding van die skepping as God se handewerk het eerstens die implikasie dat die betekenis van die geskiedenis in terme van die Skeppergod verstaan moet word. Tweedens het dit die implikasie dat die tyd en die geskiedenis in die ewigheid grond, want God , die Ewige, is ook Skepper van die tyd en openbaar Hom aan die mens in die geskiedenis. 'n Verdere implikasie is dat ten spyte van die mens se sondeval God steeds die verskeidenheid aspekte van en die orde in Sy skepping in stand hou. Dit is binne die raamwerk van die wette wat God self vir Sy skepping daargestel het dat die onderhouding van die skepping en die voortgang van die geskiedenis deur God plaasvind en verseker is. Die mens is aan hierdie strukturele werklikheidsorde onderworpe en kan hom/haar in die geskiedenis nie daarbuite realiseer nie.

• Die mens het 'n Godgegewe roeping/taak in die geskiedenis, waaraan die onderwyser die leerling moet bekendstel. Dit behels kultuurvorming/beskawingsontwikkeling in die omvattende Christelike betekenis van die woord. Die mens se

kultuuropdrag (vgl Gen 1: 28) behels dat die skeppingsbeginsels wat God vir alle aspekte van Sy skepping daargestel het tot gelding gebring moet word in die geskiedenis. Die Christen se taak in die geskiedenis beteken dat Bybelse beginsels op kerklike, onderwys-, maatskaplike, politieke, ekonomiese, wetenskaplike en alle ander samelewingsterreine tot gelding gebring moet word en dat beskawingsontwikkeling op hierdie grondslag sal geskied. Waar die mens homself as instrument in Gods hand stel in die geskiedenis, kom hierdie kultuurtaak tot wasdom. Hierdie geskiedbeskouing het die implikasie dat dit as uiters eensydig beskou moet word om hoofsaaklik 'n politieke geskiedenis van oorloë en sogenaamde groot politieke gebeure aan kinders in die geskiedenisklas voor te hou.

• Die mens se kulturele werksaamheid bied in 'n Christelike geskiedbeskouing die sleutel tot ons verstaan van die historiese. Kulturele werksaamheid bestaan uit die vormgewing aan iets in die vrye beheersing daarvan; dus vormgewing na vrye ontwerp. Net die mens is met hierdie moontlikheid geskape. Bine die konteks van die geskape werklikheidsorde is die mens dus werklik vry in sy omgang met die werklikheid in die sin dat hy voortdurend keuses moet uitoefen in sy kultuurbou. Dit is God self wat die mens met die vermoë tot kultuurvorming geskep het en wat die mens met die verantwoordelikheid tot kultuurvorming in die geskiedenis belas het. Die mens het dus die opdrag om God se skepping met verantwoordelike rentmeesterskap te ontgin en te bewerk volgens die beginsels wat Hy vir elke aspek van die werklikheid daargestel het. Vanuit 'n Christelike hartsingesteldheid kan die mens tot God-welgevallige kultuurbou in die geskiedenis kom. Hoewel alle menslike skepsels wel in kultuurbou voor dieselfde geskape werklikheidsorde te staan kom, kan 'n ewewigtige ontsluiting daarvan in die geskiedenis slegs in gehoorsaamheid aan die Skepper geskied. So nie kan beskawing in 'n primale bestaansvorm verstar, soos tot

onlangs bv in Afrika die geval was en nog steeds grotendeels is, of in 'n skeefgetrekte beskawingsontwikkeling verword waarin sommige werklikheidsaspekte (bv die ekonomiese - vgl die oordrewe materialisme) teenoor ander verabsoluteer word, soos in die na-Renaissance Westerse ontplooiing. Agter die proses van beskawingsontwikkeling onderken die Christen ook die magstryd tussen lig en duisternis waarom dit in die wêreld gaan.

• Die sondeval word in 'n Christelike geskiedbeskouing verreken. Indien ons die sondeval buite rekening laat, word ons kennis van die geskiedenis oppervlakkig, onsinnig, en kan dit in dwaling verval. Wie die historisiteit van die sondeval nie erken nie, is nie in staat om die eenheid van die geskiedenis te sien nie, omdat die sondeval in die geskiedenis plaasvind en omdat dit histories deurwerk. As historiese krag mede-bepaal dit die verloop van die geskiedenis. 'n Christelike mensbeskouing, waarin nie net uitgegaan word van die skepping van die mens na die beeld van God nie, maar ook van die verdorwenheid van die menslike natuur weens die sondeval, word in die geskiedenis bevestig. Vir 'n behoorlike verstaan van die geskiedenis kan 'n mens jou afvra wat die betekenis van 'n Christelike mensbeskouing vir die onderrig van Geskiedenis is. Dit kan na aanleiding van Towards Christ-centred education onderneem word.

Aktiwiteit 3

Skryf puntsgewys (in stellings) neer wat die betekenis van 'n Bybelse mensbeskouing vir die onderrig van Geskiedenis is na aanleiding van die volgende stellings:

1) Die mens is 'n religieuse wese (vgl Dreckmeyr, 1997: 43).

2) Die mens is 'n sondige/gevalle wese (vgl Dreckmeyr, 1997: 44).

3) Die mens is 'n eenheidswese (vgl Dreckmeyr 1997: 46).

4) Die mens is na die beeld van God geskape (vgl Dreckmeyr, 1997: 46).

5) Die mens is rentmeester van God se skepping (vgl Dreckmeyr, 1997: 52).

Gebruik die bogenoemde stellings as opskrifte. Doen die aktiwiteit deur hoofstuk 6 van Towards Christ-centred education op vakonderrig in Geskiedenis toe te pas, asook dit wat u direk uit die Woord omtrent die mens leer.

Einde van aktiwiteit

• God maak in die geskiedenis van uitstaande leiers gebruik. Dit blyk ook uit die Skrif waar individue geroep, toegerus en gehelp word om 'n historiese taak te vervul. Leierskap kan egter in gehoorsaamheid of afvalligheid uitgeoefen word. Voorts moet volgens die Bybelse mensbeskouing altyd onthou word dat historiese figure net mense was wat beide kon presteer en in swakheid foute gemaak het. Blinde heldeverering is onbybels. Vanuit 'n Skrifperspektief behoort beide leierskap en volgelingskap in gehoorsaamheid aan Skrifbeginsels uitgeoefen te word.

Aktiwiteit 4

Identifiseer drie leiersfigure uit 1) die Bybel 2) wêreldgeskiedenis en 3) vaderlandse geskiedenis wat ten spyte van hul sondaarskap 'n groot bydrae in die geskiedenis gelewer het. Dui vanuit 'n Christelike perspektief aan:

a) waarin die belang van hul bydrae geleë is.

b) watter sterk punte hul openbaar het.

c) watter swak punte hul openbaar het.

Einde van aktiwiteit

• Volgens die Bybel voer God gerig in die geskiedenis oor mense, leiers en nasies en sal Hy in die eindgerig oor die geskiedenis oordeel. God voer dus ook hedendaags oor volkere, beskawings en leiers gerig, al word dit nie deur hulle so gesien nie. Maar God handel veral ook met die individu. Elke akteur op die toneel van die geskiedenis is belangrik, want elk is na die beeld van God geskape en is geroep om in ooreenstemming daarmee te leef. In 'n Christelike perspektief op die geskiedenis word gevolglik in ryk en arm, belangrikes en eenvoudiges, regeerders en onderdane 'n belangstelling getoon en nie net in die vernames en beroemdes nie. Die verloop van die geskiedenis word binne God se soewereine beheer tog bepaal deur die gehalte van roepingsvervulling van elke akteur op die verhoog van die geskiedenis. U kan self nadink oor die belangrike implikasies hiervan vir die geskiedenisklas.

• In 'n Christelike benadering tot ons omgang met die werklikheid in die

geskiedenis (dus: kultuurbou) word van Skrifgefundeerde beginsels uitgegaan en nie van ooroptimistiese of oorpessimistiese menslike teorieë daaroor nie, of van 'n oorwaardering van die oue of nuwe nie. Christene behoort in hulle kultuurbou by die positiewe en lewenskragtige elemente van die historiese tradisie aansluiting te vind. Daardeur tree hul reformerend in hul omgang daarmee op. So vermy hul die ekstreme benaderings van reaksie (behoudsug) of revolusie (veranderingsug). Die Christen sien in die geskiedenis Gods hand, wat ook die kom en gaan van verbysnellende ordes gebruik in die verwesenliking van Sy raadsplan. Hy/sy sien die goeie in die verbysnellende ordes raak, en probeer dit van vernietiging red in sy/haar kultuurbou. Die Christelike benadering tot die geskiedenis is gevolglik 'n oop benadering wat op vernude wyse sy beginsels in veranderde omstandighede toepas. 'n Nuttige aktiwiteit waardeur ons 'n Christelike perspektief op die geskiedenis by kinders kan laat inslag vind, is deur middel van sang. Die onderwyser en klas wat saam kan sing, bou 'n wonderlike verhouding op.

Aktiwiteit 5

Maak 'n lys van liedere uit kerke (of u eie kerk) se sangbundels waaruit 'n Christelike perspektief op die geskiedenis na vore kom, en wat dus geskik sal wees om in die geskiedenisklas te sing. Kies een daarvan en motiveer in ongeveer twee bladsye waarom u dit as geskik beskou vir gebruik in die geskiedenisklas.

Einde van aktiwiteit

Ons sluit hierdie afdeling af deur te let op enkele aspekte van 'n Christelike tydsbeskouing wat vir Christelike vakonderrig in Geskiedenis van belang is. Ons gaan hierdie saak nie bespreek nie, maar laat dit aan u oor om krities daaroor na te dink, asook oor die implikasies daarvan vir u onderrig. Dit is nou meer as ooit noodsaaklik dat onderwysers krities sal reflekteer oor hul klaskamerpraktyk vanuit 'n Bybelse perspektief. U sal dit wat u tot hiertoe geleer het nuttig kan aanwend in u nadenke oor die volgende stellings. In 'n Christelike tydsbeskouing:

• is daar 'n onverbreeklike verband tussen tyd en ewigheid.

• vorm die menslike geskiedenis vanaf skepping tot wederkoms 'n onverbreeklike eenheid.

• moet die veranderlike in die tyd binne die konteks van die onveranderbare interpreteer word.

• bestaan daar 'n noue verband en sinsamehang tussen verlede, hede en toekoms.

• moet die historiese tradisie reformerend benader word met die oog op roepingsvervulling in die hede.

Ons het nou reeds aan verskeie kenmerke van 'n Christelike perspektief op die geskiedenis aandag gegee en deur middel van aktiwiteite dit kursories op Christelike vakonderrig betrek. Aan 'n enkele aspek, naamlik 'n Christelike teorie oor beskawingsontwikkeling, behoort ons egter breedvoeriger aandag te gee.

'n Christelike perspektief op beskawingsontwikkeling/kultuurvormingn Christelike perspektief op beskawingsontwikkeling/kultuurvormingn Christelike perspektief op beskawingsontwikkeling/kultuurvormingn Christelike perspektief op beskawingsontwikkeling/kultuurvorming

'n Mate van oorvleueling sal met die vorige afdeling voorkom, maar in Christelike vakonderrig in Geskiedenis behoort die Christelike teorie oor beskawingsontwikkeling sterk te figureer. Dit verklaar nie net soveel oor die verlede aan ons nie, maar open ook vergesigte oor Christene se roeping in die hede en toekoms waarby Christen-geskiedenisonderwysers aansluiting kan vind om die jeug weerbaar te maak vir hul roeping tot beskawingsontwikkeling. Alvorens ons egter die teorie kortliks verduidelik, stel ons aan u 'n aantal uitdagings in die vorm van aktiwiteite waaroor u solank kan nadink, maar wat u eers hoef te beantwoord nadat u die afdeling deurgewerk het.

Aktiwiteit 6

Maak 'n puntsgewyse uiteensetting van wat u onder die begrip ontwikkeling ("development") vanuit 'n Christelike perspektief verstaan. Kies een van die temas in u leerplan waarin hierdie begrip figureer en doen dan die volgende:

a) Dui aan hoe u dit in die verlede onderrig het.

b) Dui aan hoe u dit in die toekoms vanuit 'n Christelike perspektief sal onderrig.

Einde van aktiwiteit

Aktiwiteit 7

Gee ten opsigte van die Suid-Afrikaanse geskiedenis 'n uiteensetting van die ontwikkelingsvlakke van die verskillende bevolkingsgroepe teen 1652 en 2000. Motiveer die uiteensetting deeglik na aanleiding van 'n Christelike teorie oor beskawingsontwikkeling. Dui die implikasies hiervan vir geskiedenisonderrig aan.

Einde van aktiwiteit

In die volgende kort uiteensetting word gepoog om genoegsame agtergrondskennis oor 'n Christelike teorie van beskawingsontwikkeling te verskaf ten einde u in staat te stel om op 'n verantwoordbare wyse met die onderwerp in die klas om te gaan.

• Die mens se kultuurvorming/beskawingsontwikkeling word bepaal deur die geloof in sy hart, want dit bepaal hoe die mens sy hele lewe hanteer en aan die geskiedenis deelneem. Soos reeds vermeld, is die mens aan die begin geroep om in gehoorsaamheid aan God en in ooreenstemming met die moontlikhede en wette wat God in die skepping daargestel het aan kultuurbou deel te

neem. Met die sondeval hou God steeds Sy oorspronklike skeppingsverordeninge in stand, maar ongelukkig is die mens se hartingesteldheid deur die sondeval aangetas en dus ook sy wyse van kultuurbou, wat nou in 'n van God afvallige rigting kan ontplooi. Die sondeval werk ongetwyveld deur in die wyse waarop die mens die kragte wat God in die skepping gelê het, ontsluit en ontgin. Indien ons dit in gedagte hou, kan ons die onewewigtigheid, afvalligheid en sondigheid in die menslike beskawingsontwikkeling baie beter verstaan.

• Die omvattende kultuuropdrag wat die mens met die skepping gekry het, behels dat die skeppingsbeginsels wat God vir alle aspekte van sy skepping daargestel het, tot gelding gebring moet word in die geskiedenis. Die Christendom is 'n lewenspraktyk en ons roeping in die geskiedenis verg kultuurvorming in die omvattendste betekenis van die woord. Christelike kultuurvorming het betrekking op alle samelewingsterreine. Dit behels dat kultuurvorming op kerklike, onderwys-, maatskaplike, politieke, ekonomiese, wetenskaplike of watter terrein ook al, volgens Bybelse uitgangspunte sal geskied. Hierdie taak mag Christene nooit versaak nie, al veroorsaak die sondeval afvallige vorme van skewe beskawingsvorming om ons heen en al is ons eie pogings ook daardeur aangetas.

• Daar is 'n duidelike verband aanwysbaar tussen die religie wat binne 'n bepaalde gemeenskap en beskawingskonteks heers en die wyse waarop daarin aan kultuurbou/beskawingsontwikkeling deelgeneem word. Hierdie saak kan goed in die hedendaagse werklikheid getoets word. So verskil die religieuse wortelingesteldheid van 'n primale stamgemeenskap, die Christendom en die sekulêre humanisme nie net opvallend nie, maar ook die wyse van kultuurbou wat hieruit voortkom. Met die aanraking tussen volkere en beskawings, bv in Suid- Afrika, blyk hoeseer die periodisering van hul geskiedenis en ontwikkelingsvlakke verskil. Kontak bring die moontlikheid en

voordeel van leidinggewing aan wie dit ook al nodig het. Ook die sending het in die verlede en bring steeds vandag kultuurkontak mee, wat wedersydse verryking tot gevolg kan hê, veral vir dié wat die verlore tyd moet inhaal.

• Historiese ontwikkeling/die ontsluitingsproses van die kultuurlewe vind plaas wanneer die ongedifferensieerde aard van die primale gemeenskap vernietig word en 'n gedifferensieerde beskawing tot stand kom. Hierdie ontwikkeling geskied volgens die moontlikhede wat God in Sy skepping geplaas het. Dit veronderstel die skepping, want dit is eintlik niks anders nie as die uitwerking in die geskiedenis van die moontlikhede wat in die skepping inbegrepe is. Die differensiëring van die kutuurlewe voltrek in die geskiedenis deur die vertakking van die kutuur in eiegeaarde magsfere soos wetenskap, kuns, staat, kerk, bedryf, handel, skool, die vrye organisasiewese, ensovoorts, soos wat ons in ontwikkelde beskawings teëkom. Hierdie wyse van differensiëring word nie by primale stamgemeenskappe aangetref nie.

• Uit selfs 'n oppervlakkige beskouing van die geskiedenis wil dit voorkom asof gemeenskappe vanaf 'n primale beskawing deur ontwikkeling van die een of ander aard tot 'n ontwikkelde beskawingsvorm kom. Vir 'n behoorlike verstaan van die geskiedenis is dit belangrik om te verstaan hoe dit gebeur. In hierdie verband is dit belangrik om in die grenspunt van geloofsafval insig te verkry, want alleen van hieruit kan die primitiewe kultuurkringe verstaan word. Hierdie grenspunt is daar geleë waar die onbegrepe godsopenbaring (die openbaring van God in die skepping) die afvallige mens met angs en bewing bevang, sodat die afvallige geloof op die vergoddeliking van die onbegrepe natuurkragte gerig word, soos bv wanneer die son aanbid word. Hierdie grenspunt blyk daaruit dat onder leiding van die afvallige geloof die primale samelewing 'n ongedifferensieerde karakter vertoon, sonder gedifferensieerde beskawingsfere soos kuns, bedryf, wetenskap, ensovoorts wat

na eie aard kan ontplooi. Die primitiewe mens is dus nie daartoe in staat om dit wat God in Sy skepping gegee het gedifferensieerd te ontgin nie. In die primale samelewing word die hele lewe omsluit deur die primale, ongedifferensieerde verbande van huisgesin, familie en stam wat elk 'n eksklusiewe en absolute magsfeer besit. Die gemeenskap absorbeer die mens as enkeling, wie se hele lewe afhanklik is van sy lidmaatskap van die primale gemeenskap. Die tradisie is almagtig, met as hoeders die priesterlike volksleiers wat vernuwing en vreemde invloede afweer. In hierdie toestand is 'n kultuur afgesluit van die kultuurverkeer van die volkere, teer dit op die verlede, staan dit buite die wêreldgeskiedenis en kan dit alleen in kontak met 'n verder ontwikkelde kultuur uit die toestand uitgelei word. Dat laasgenoemde 'n uiters moeisame proses is, behoort vir iedere opmerksame waarnemer in Afrika duidelik te wees. Met die begrip ontwikkeling so hoog op die agenda in Afrika, behoort iedere Christen-geskiedenisonderwyser die boeke van skrywers soos Attie van Niekerk en Temba Sono wat in die bibliografie opgeneem is onder oë te neem. Daaruit kan noodsaaklike agtergrondskennis verkry word by hierdie tema. Vanuit 'n Christelike standpunt kan nie met 'n primale beskawingsopset, waarin geen historiese ontwikkeling plaasvind, genoë geneem word nie.

Aktiwiteit 8

Vertoon die video The gods must be crazy deur Jamie Uys aan 'n klas. Stel vooraf vrae op wat die kinders na die vertoning moet beantwoord wat onder andere handel oor:

• die ontwikkelingsvlakke van die verskillende bevolkingsgroepe

• redes vir die verskil in ontwikkelingsvlakke

• die problematiese aard van die kontaksituasie in sodanige opset

• hoe laasgenoemde vanuit 'n Christelike perspektief hanteer kan word

Einde van aktiwiteit

• Vanweë sy gevalle toestand was dit nog altyd vir die mens baie moeilik om aan elke werklikheidsaspek in kulturele ontwikkeling sy regmatige plek toe te ken. Wanneer die mens bo die primale religie uitstyg, sien hy sy gode en homself in die lig van die redelike aspekte van die tydelike werklikheid (soos in die antieke Griekse beskawing) en word spesifieke aspekte van die geskape werklikheid soos wetenskap, kuns, moraal of kultuur vergoddelik of verabsoluteer. Dit lei tot 'n eensydige vorm van beskawingsontwikkeling en kan steeds nie tot die fenomenale opbloei aanleiding gee wat met die Hervorming in Europa onder aandrywing van die Christelike geloof plaasgevind het nie. Ten einde die harmonieuse ontwikkeling van die ontsluitingsproses na 'n gedifferensieerde beskawingsvorm sowel as die voortsetting van die harmonieuse ontwikkeling te verseker, mag geen werklikheidsaspek 'n ander oorwoeker in die ontsluitingsproses en mag geen verabsolutering van bepaalde werklikheidsterreine in die proses van beskawingsontwikkeling plaasvind nie. Indien verabsoluterings in beskawingsontwikkeling wel plaasvind (vgl al die verskillende -ismes, soos die humanisme, liberalisme, kommunisme, Marxisme, nasionaal-sosialisme, imperialisme,ensovoorts), sal reaksie as gevolg daarvan ontlok word en 'n beskawing selfs bedreig word indien die onverantwoorde uitbreiding van 'n bepaalde kultuurfaktor nie aan bande gelê word nie. In die geskiedenis blyk die mens se onvermoë duidelik om hom van verabsoluterings en skeeftrekkings in beskawingsontwikkeling te weerhou.

Aktiwiteit 9

Versamel in dagblaaie, tydskrifte, ensovoorts getuienis van afvallige/skewe Westerse beskawingsontwikkelinge. Verduidelik hoe u dit in die klas sal gebruik om leerders van ongewenste ontwikkelinge bewus te maak en tot positief Christelike kultuurbou aan te spoor.

Einde van aktiwiteit

• Christene mag nie ten opsigte van kultuurbou/beskawingsontwikkeling hul roeping versaak nie, want die ganse rigting wat die kulturele ontsluitingsproses in die geskiedenis vertoon, word bepaal deur die geloof as

leidende kultuurmag, en het gevolglik betrekking op die geloofslewe van diegene wat aan kultuurvorming in die geskiedenis deelneem. Christelike kultuurbou sal dus anders lyk as kulturele ontplooiing onder leiding van enige ander religieuse grondmotief. In die geskiedenis is daar wel beskawings wat as Christelik bekendstaan, maar dit is 'n ope vraag of daar wel voorbeelde van suiwer Christelike kultuurbou in die geskiedenis voorkom. Die Westerse geskiedenis staan as Christelik bekend nie omdat instellings noodwendig Christelike beginsels reflekteer het nie, maar omdat die basiese voorveronderstellinge daarvan in 'n groot mate op 'n Christelike godsbeskouing en mensbeskouing gebaseer was. Tot onlangs nog was in Europa, en in die gemeenskappe elders vanaf Europa afkomstig, geglo dat die God van die Bybel die Skepper is, dat die mense Sy skepsele is wat aan Hom verantwoordelik is, dat Christus die Verlosser is, dat die kerk die sigbare gestalte van Christus op aarde is en dat daar 'n oordeelsdag sal wees. Verder was die kerk die belangrikste vormende instelling vir 'n duisend jaar gedurende die Middeleeue en het die Protestantse Hervorming vooruitgang en vordering op tallose samelewingsterreine teweeggebring. Die moderne wetenskap is voorts gebore in 'n intellektuele klimaat wat slegs in die Christelike wêreld voorgekom het. Hoewel hierdie onmiskenbare tekens van die Christendom verteenwoordig, moet steeds in gedagte gehou word dat, vanweë die inwerking van die sondeval, geen gemeenskap ooit volkome Christelik sal wees nie, en dat Christene gevolglik 'n volgehoue roeping tot reformasie van die histories geworde tradisie het. Ook die geskiedenisonderwyser het in hierdie verband 'n besondere roeping.

• Die proses van kultuurvorming geskied in konflik tussen die bewakers van tradisie en die voorstanders van nuwe idees. In 'n primale, geslote kultuur is die mag van die tradisie bykans oppermagtig, soos reeds beweer is. In 'n geopende, gedifferensieerde kultuur is

die tradisie nie onaantasbaar nie, maar dit vervul nogtans die onmisbare rol om 'n genoegsame mate van kontinuïteit in die kulturele vooruitgang te handhaaf waarsonder die kultuurlewe nie moontlik sou wees nie. Die tradisie is 'n kulturele gemeenskapsbesit wat in 'n opeenvolging van geslagte verwerf is. Die vormingskrag van die tradisie is groot, want dit vergestalt die kultuurskatte deur eeue vergader. Tradisie bind die opeenvolgende geslagte aan mekaar. Omdat ons daarin opgevoed word, beheers dit ons grotendeels onbewus en sonder dat ons onsself van die innerlike waarde daarvan rekenskap gee. Historiese ontwikkeling vereis egter dat 'n kultuur nie tot tradisie sal verstar nie, maar verder sal ontplooi. Vernuwing en vooruitgang eis ook sy reg in die geskiedenis op. Historievorming vereis mag, en geskied nooit sonder stryd nie, omdat die vooruitstrewende wil van die geskiedenisvormer teen die mag van die tradisie stuit. Historievorming voltrek in 'n stryd tussen die behoudende en vooruitstrewende kultuurmagte. In die konflik met die tradisie moet die progressiewe idees van die geskiedvormers gevolglik ook getemper word van revolusionêre neigings en aangepas word by die norm van historiese kontinuïteit. Die vooruitstrewende wil van die historievormer moet by die lewenskragtige elemente van die tradisie aanpas. Die lewenskragtige in historiese sin is slegs daardie deel van die tradisie wat vir verdere ontwikkeling ooreenkomstig die norm van kultuurontsluiting, naamlik die differensiëring van die kultuur in eiegeaarde kultuurkringe, vatbaar is. Toegepas op die kultuurlewe behels die onderwyser se taak onder andere om die leerders te leer om dit wat mooi en goed is uit die verlede te herken en daarop die toekoms te bou.

Aktiwiteit 10

"Die norm van historiese kontinuïteit eis dat daar aansluiting gesoek sal word by die lewenskragtige elemente in die historiese tradisie." (Strauss, 1969:72). By watter elemente in u beskawings- en kultuurkonteks sou in kultuurbou aansluiting gesoek kon word met betrekking tot die volgende aspekte:

1) arbeid

2) opvoeding van kinders

3) onderwys

4) die versorging van bejaardes

Einde van aktiwiteit

Norme/kriteria by 'n beoordeling van die verledeNorme/kriteria by 'n beoordeling van die verledeNorme/kriteria by 'n beoordeling van die verledeNorme/kriteria by 'n beoordeling van die verlede

Die Christen-geskiedenisonderwyser sal graag wil weet hoe te werk gegaan behoort te word by 'n beoordeling van die verlede, want daar is baie stekelrige vraagstukke wat ook in die klas ter sprake kom. Sommige norme vloei logies voort uit 'n Christelike teorie oor beskawingsontwikkeling, maar daar is ook ander kriteria wat handig te pas kan kom en waaraan kortliks aandag geskenk behoort te word. Daar bestaan egter geen klinkklare resepte nie en 'n Christelike beoordeling van die verlede is eintlik 'n baie komplekse saak wat beide 'n uitmuntende kennis van die saak wat beoordeel word, sowel as die beoordelingskriteria wat aangelê behoort te word veronderstel. Wat vervolgens aangebied word, is gevolglik 'n onvolledige uiteensetting. Norme wat met 'n Christelike teorie van beskawingsontwikkeling saamhang, kom eerste aan die orde.

Eerstens is daar die norm van historiese kontinuïteit. Die mens kan die verlede nooit op 'n revolusionêre wyse summier ignoreer asof totaal met die historiese tradisie gebreek moet word in die strewe na verandering in die hede nie. Waar verandering so hanteer word, sal 'n reaksie intree waarin die beginsel van historiese kontinuïteit sy reg in die proses van beskawingsontwikkeling opeis. Dus kan as norm aangelê word in watter mate met betrekking tot 'n bepaalde verledegebeure/tydperk/stroming aansluiting gevind is by lewenskragtige elemente in die tradisie in die proses van kultuurbou/beskawingsontwikkeling. Dit geld ook as norm ten opsigte van ons kultuurbou vandag, waarby die geskiedenisonderwyser hom/haar sal afvra: hoe kan ons die historiese tradisie reformeer deur by die lewenskragtige elemente daarvan aansluiting te vind?

In die Evangelies sien ons hoe Christus met die godsdienstige tradisies van Sy tyd omgaan. Hy het nie net daarby aansluiting gevind in die verkondiging van Sy radikale boodskap nie, maar ook gebreek met die verslete, uitgediende en dooie elemente daarin. So het Hy wel as 'n gewoonte die sinagoge op die Sabbat besoek, maar nie gehuiwer om nuwe inhoud aan die onderhouding van die Sabbat te gee nie. Daardeur reformeer Hy die Joodse tradisie wat rondom die saak opgebou het. So moet ons as Christene ook in die lig van die Skrif reformerend met ons eie hedendaagse historiese tradisie omgaan, en aan leerders in ons klasse leer om dieselfde te doen deur aansluiting te soek by die lewenskragtige elemente daarin. Die tradisie mag self nooit tot norm verhef word nie, want dit is die neerslag van feilbare mensewerk. Strauss (1969: 71) vat die hele saak kernagtig saam: "Die tradisie beliggaam die kulturele gemeenskapsbesit van 'n gemeenskap soos wat dit verwerf is in die opeenvolgende geslagte deur die eeue. Steeds sal nuwe ontwikkelinge uit die bodem van die tradisie moet groei - sodoende dien die tradisie as't ware as die beskermer van die kontinuïteit van die historiese ontwikkelingsproses. Reaksionêre en revolusionêre optrede is on-histories omdat dit indruis teen die historiese norm van kontinuïteit."

Die tweede norm van kulturele differensiasie behels dat in die proses van beskawingsontwikkeling die kultuur in onderskeibare magsfere sal differensieer op so 'n wyse dat elke kultuuraspek (bv kuns, wetenskap, onderwys, kerk, staat, handel, bedryf, ensovoorts) na eie aard sal ontplooi. Op hierdie wyse word die moontlikhede wat God in die skepping geplaas het ontgin deurdat elke aspek na eie aard ontwikkel word. Dit gaan dus in die beoordeling volgens hierdie norm oor die vraag in welke mate in die verlede gebruik gemaak is van die geleenthede tot gedifferensieerde beskawingsontwikkeling. Dit het egter ook betrekking op ons eie kultuurbou in die hede. Daarom moet die Christen-

geskiedenisonderwyser hom/haar voortdurend afvra in welke mate daarin geslaag word om leerders te leer om in meervoud te leef. Leerders moet geleer word om op 'n gedifferensieerde wyse aan kultuurbou deel te neem en nie toegelaat word om eensydig te ontwikkel nie. Die geskiedenisklas bied hiervoor die ideale aanknopingspunt, omdat die verlede ook vanuit hierdie norm beoordeel word. Om in 'n gedifferensieerde , ontwikkelde beskawingsbestel te leef stel egter enorme eise vanweë die kompleksiteit daarvan. Dit blyk wanneer die norm van kulturele differensiasie in samehang met die norm van kulturele integrasie toegepas word.

Die norm van kulturele integrasie behels dat die ontsluitingsproses na 'n gedifferensieerde beskawingvorm op 'n harmonieuse wyse behoort te geskied en dat alle verdere beskawingsontwikkeling eweneens harmonieus sal geskied. Dit vereis dat geen werklikheidsaspek 'n ander sal oorwoeker in die ontsluitingsproses nie en dat geen verabsolutering van 'n bepaalde kultuuraspek ten koste van andere in die proses van kultuurbou sal plaasvind nie. Indien verabsoluterings in beskawingsontwikkeling wel plaasvind, sal reaksie as gevolg daarvan ontlok word en kan 'n beskawing selfs bedreig word indien die onverantwoorde magsuitbreiding van 'n bepaalde kultuuraspek nie aan bande gelê word nie. In die geskiedenis blyk die mens se onvermoë duidelik om hom van verabsoluterings en skeeftrekkings in beskawingsontwikkeling te weerhou, soos reeds beweer is (vgl al die verskillende -ismes, soos die humanisme, liberalisme, Marxisme, kommunisme, nasionaal-sosialisme, ensovoorts).

Harmonieuse kulturele ontwikkeling kan slegs gewaarborg word waar elke kultuuraspek na sy eie aard ontplooi en nie ten koste van ander kultuuraspekte nie. So kan byvoorbeeld die staatsabsolutisme (soos bv in kommunistiese lande) daartoe lei dat die staat sy funksie oorskry en op 'n onregmatige wyse oortree op die magsfeer van ander kultuurterreine, byvoorbeeld die onderwys, bedryf, kerk, ensovoorts en kan in die proses van kultuurbou enorme skade berokken word. Onewewigtige kultuurbou, waarin die regte gewig nie aan sake toegeken word nie, moet vermy word in die hede en behoort in die evaluering van die verlede uitgeken te kan word deur die toepassing van die norm van kulturele integrasie. Deur die toepassing van die norme van historiese kontinuïteit, differensiasie en integrasie behoort u as onderwyser daartoe in staat te wees om vooruitgang en agteruitgang in die historiese ontwikkelingsproses waar te neem en te beoordeel in terme van die Christelike teorie van beskawingsontwikkeling.

Om in verantwoordelikheid keuses te doen tussen wat wys en reg is teenoor die onverstandige en verkeerde is deel van die moontlikhede waarmee die mens geskep is. Hierdie vermoë kan ons ook toepas in ons beoordeling van menslike handelinge/kultuurbou in die geskiedenis. Swanstrom (1978: 81) is van oordeel dat ons Christelike lewens- en wêreldbeskouing gewis van toepassing is in die Christen se beoordeling van die verlede: "The majesty of God, our creation in his image, our responsibility to him in thought and action, our duty to abide by a moral code divinely established for human happiness, our recognition of the tragic consequences of disobedience to that law, God's offer of redemption and eternal life through Christ, the primacy of love toward God and our neighbor - such beliefs are clearly Christian and give Jesus' followers a uniquely Christian outlook. This outlook will naturally affect their value judgements about people, manners and movements in history." Christene het die voordeel van Godgegewe standaarde in die Skrif en kan gevolglik hul gewete in die lig hiervan oefen in hul beoordeling van die verlede. Nogtans mag ons nie dink dat ons daardeur van foute gevrywaar is in ons beoordeling van die verlede nie, want die evaluering van die verlede is 'n komplekse saak waarby ons eerstens die feite en konteks van die saak baie goed moet ken, en tweedens die Christelike raamwerk van waaruit ons beoordeel korrek moet beheers en toepas.

Aktiwiteit 11

Berei 'n les voor waaruit duidelik blyk dat u Christelike maatstawwe aangelê het in u beoordeling van 'n geskiedenistema of verledegebeure.

Einde van aktiwiteit

Die verskil tussen 'nDie verskil tussen 'nDie verskil tussen 'nDie verskil tussen 'n Christelike en 'n humanistiese perspektief op die geskiedenisChristelike en 'n humanistiese perspektief op die geskiedenisChristelike en 'n humanistiese perspektief op die geskiedenisChristelike en 'n humanistiese perspektief op die geskiedenis

In die hedendaagse wêreld is dit baie moeilik om ons denke gesuiwer te hou van humanistiese sienings. Vir die geskiedenisonderwyser wat hom/haar op 'n Christelike benadering tot geskiedenisonderrig toespits, sal dit gevolglik van nut wees om kennis te neem van die verskille tussen 'n Christelike en 'n humanistiese perspektief op die geskiedenis.

Aktiwiteit 12

Skryf kortliks (ongeveer drie bladsye) neer hoe die geskiedenisonderrig gelyk het wat u op skool en in u onderwysersopleiding ontvang het, en vertel hoe dit u onderrig van die vak beïnvloed het. Dui aan hoe dit verskil van 'n Christelike benadering tot die onderrig van geskiedenis.

Einde van aktiwiteit

Vervolgens word 'n aantal verskille tussen 'n Christelike en 'n humanistiese perspektief op die geskiedenis kortliks aangestip. U kan dit aanvul met die bevindinge in die bogenoemde aktiwiteit, want daarin het u moontlik op dieselfde tipe kontraste afgekom.

• 'n Agnostiese, ateïstiese en humanistiese geskiedskrywing vang aan met die fundamentele geloofsaanname dat God niks met die geskiedenis te doen het nie en sluit daardeur die mens af van enige sin en werklikheid buite-om die aardse. Hierteenoor word die soewereine God in die Christelike opvatting as Skepper en Onderhouer van alles wat is, gesien. God is dus ook die Skepper en Bepaler van die geskiedenis.

• In die humanistiese geskiedskrywing word baiekeer van die veronderstelling uitgegaan dat die mens inherent goed is, maar dat hy net die slagoffer van ongunstige omstandighede is. Daar is selfs in die verlede op stadiums geglo dat die mens daartoe in staat is om 'n aardse utopie te verwerklik. Dink maar aan die ideologiese uitgangspunte van byvoorbeeld die Marxisme en die kommunisme. In die Christelike perspektief word hierteenoor nie net uitgegaan van die perspektief dat die mens na die beeld van God geskape is en dat dít met die mens se historiese roeping verband hou nie, maar die sondeval word ook as 'n historiese krag erken wat in die geskiedenis deurwerk. Die waarde van die Bybelse mensbeeld vir Geskiedenisonderrig blyk daaruit dat die Skrif 'n baie realistiese perspektief oor die mens voorhou: "the Christian

also has the advantage of the Bible's profound and unvarnished portrait of human character - deeply sympathetic but without illusion. The Scriptures teach us that human beings are capable of the noblest virtue, but also of the vilest crimes," (Swanstrom,1978: 77).

• In 'n humanistiese beskouing word die sin en betekenis van die geskiedenis suiwer aards gesien. Dit is die noodwendige gevolg van die sikliese, prosesmatige/deterministiese en relatiwistiese aard van humanistiese geskiedbeskouinge. Die tradisionele klaskamergeskiedenis sluit hierby aan omdat die geskiedenis in die enger sin van verhale oor menslike gebeure gesien word, en niks meer nie. Die eenheid en kontinuïteit van die geskiedenis vanuit 'n Christelike perspektief laat egter geen ruimte vir doelloosheid, determinisme en toevalligheid nie. Vanuit 'n Christelike standpunt gee God in die geskiedenis uitvoering aan Sy omvattende, volmaakte en ewige raadsplan in terme waarvan elke gebeurtenis in die tyd en die voortgang van die tyd as sodanig sin en betekenis het.

• 'n Bybelse uitgangspunt bied genoegsame rigting dat elke mens oor so 'n geheeloorsig en interpretasie van die geskiedenis sal beskik dat hy/sy daartoe in staat sal wees om 'n behoorlike waardering van sy/haar plek in die geskiedenis te maak. Vanuit 'n Christelike standpunt kan die geskiedenisonderwyser gevolglik meewerk om leerders ten opsigte van hul roeping in die geskiedenis te oriënteer. Dit kan natuurlik nie vanuit 'n humanistiese standpunt gedoen word waar die verloop van die geskiedenis as 'n gedetermineerde proses gesien word of as 'n relatiwistiese opeenstapeling van gebeure nie. Buitendien is daar al soveel verskillende humanistiese interpretasies van die menslike geskiedenis gewees dat daaruit onmoontlik 'n samehangende beeld van die mens se historiese taak afgelei kan word.

• Teenoor die Christelike eenheidsperspektif op die geskiedenis

staan die verskillende -isme interpretasies daarvan, soos byvoorbeeld die kommunistiese, Marxistiese, evolusionistiese, nasionalistiese, modernistiese, postmodernistiese en ander humanistiese interpretasies. Uit die fragmentering van die humanistiese benadering in 'n verskeidenheid -isme uitgangspunte blyk dat daar telkens 'n bepaalde aspek van die werklikheid verabsoluteer word ten koste van ander in die interpretasie van die geskiedenis. So word die mensdom as 'n kollektiwistiese eenheid in 'n kommunistiese benadering verabsoluteer, terwyl die mens as individu in 'n liberalistiese interpretasie tot hoogste norm verhef word, en die volk as groep in die nasionaal-sosialisme as allesoorheersende maatstaf geld. Daarteenoor behoort die belang van elke werklikheidsaspek in die Godgeskape samehang van alle werklikheidsaspekte in 'n Christelike benadering erken en waardeer te word, en aan elk sy unieke plek binne dié samehang toegeken te word in die ondersoek en beoordeling van die verlede. Ook in ons kultuurbou in die hede.

• Waarheidsliewendheid is 'n morele imperatief in die omgang met die verlede. Dit geld nie net in die omgang met bepaalde verlede-gebeure nie, maar met almal, en het ook betrekking op die geheelperspektief en konteks van gebeure. Waar hedendaags baie aandag bestee word aan die herinterpretasie van die verlede, behoort ons te onthou dat 'n Christelike herinterpretasie van die verlede gebaseer moet wees op die juistheid van die feite,die geheelkonteks daarvan sowel as die suiwerheid van die Christelike perspektief daarop. Sodanige herinterpretasie staan veelal teenoor die humanistiese veelheid van interpretasies, of die vervanging van een -isme uitgangspunt met 'n ander. Die feite van die verlede word selfs soms "omgebuig" of oor- of onderbeklemtoon in 'n poging om by 'n bepaalde teoretise perspektief daarop te "pas". In 'n Christelike perspektief op die

geskiedenis word die ganse verlede en alle aspekte van die mens se betrokkenheid by die werklikheid as belangrik beskou, en behoort nie voorkeur aan bepaalde periodes of werklikheidsaspekte gegee te word vir die doeleindes van 'n "Christelike" inkleding van die verlede nie. Ook Christene het in die verlede fouteer, ook met betrekking tot die wyse waarop die verlede gesien is, want ook Christene ondergaan as sondaars die beïnvloeding van die tydsgees waarin hul leef. Daarom moet ons voortdurend bereid wees om te reformeer, ook wanneer nuwe feite oor die verlede aan die lig kom, of wanneer ons van tekorte in ons teoretiese interpretasie daarvan bewus word. Stel hierteenoor die doelbewuste misbruik van die geskiedenis vir propagandistiese en pragmatiese humanistiese doelstellings deur die mens. Een hiervan wat baie voorkom, is die aanwending van die geskiedenis om skoolkinders, die sogenaamde "kinders van die staat", op die korttermyn te beheer en te indoktrineer in diens van die doelstellings van die staat.

• In 'n Christelike geskiedbeskouing word die belang van religieuse grondmotiewe in die verloop van die geskiedenis erken en na waarde geskat, en nie afgeskaal soos dikwels in humanistiese interpretasies gebeur nie. Dit is daarom bykans onmoontlik om vanuit 'n Christelike standpunt 'n geldige interpretasie van ons vaderlandse geskiedenis oor die afgelope 350 jaar te gee sonder inagneming van die botsing tussen die primale Afrika, sekulêr-humanistiese en Christelike grondmotiewe. Dit is ook die basiese stryd in die voortgang van die geskiedenis waarom dit vandag gaan. Ons kultuurbou in die hede, nes in die verlede, kan tog op geen ander wyse as vanuit 'n bepaalde religieuse hartsingesteldheid geskied nie en daarom behels die voortgang van die geskiedenis vir Christene en ander mense ook niks anders as die stryd om beslag te gee aan 'n bepaalde religieuse wortelingesteldheid op alle terreine van die lewe nie. Indien ons die geskiedenis só sien, val baie dinge in plek wat ons

andersins nie sou verstaan nie. Dan spreek die verlede en ons toekomsverwagting as Christene ons ook hard en duidelik aan ten opsigte van ons roeping in die hede.

In ons uiteensetting tot dusver, veral in die vergelyking tussen 'n Christelike en 'n humanistiese perspektief op die geskiedenis, het reeds verskeie voordele van 'n Christelike perspektief aan die lig gekom. In die volgende paragraaf word verder ingegaan op die doel en waarde van 'n Christelike perspektief op die geskiedenis.

Die waarde en doel van 'n Christelike perspektief op die geskiedenisDie waarde en doel van 'n Christelike perspektief op die geskiedenisDie waarde en doel van 'n Christelike perspektief op die geskiedenisDie waarde en doel van 'n Christelike perspektief op die geskiedenis

Dikwels bevind geskiedenisonderwysers hul in 'n onbenydenswaardige situasie vanweë die opvatting dat Geskiedenis op skool 'n pynlike memorisering van waardelose name, datums en feite uit die verlede behels. Dit mag onder andere die gevolg daarvan wees dat geslagte onderwysers hul vak op 'n oninteressante wyse aangebied het wat weinig leerlinge tot 'n lewendige belangstelling daarin aangespoor het. Vanuit 'n Christelike perspektief is hierdie 'n baie ongelukkige toedrag van sake, aangesien 'n goeie historiese besef groot voordele vir Christene inhou. Daarom word u deur die volgende aktiwiteite aangespoor om uself vanuit 'n Christelike standpunt te oriënteer oor die waarde en doel van geskiedenisonderrig.

Aktiwiteit 13

Hieronder volg 'n lys van 15 redes vir die bestudering van die geskiedenis. Sommige is goeie redes en andere swak redes. Doen nou die volgende daarmee:

1) Rangskik die lys in u persoonlike voorkeurvolgorde.

2) Verdeel u klasse in groepe en laat hulle dieselfde doen.

3) U en die klasgroepe moet goed gemotiveerde redes vir die plasing van die eerste vyf redes op die ranglys verskaf.

4) Stel daarna vanuit 'n Christelike perspektief agt redes op waarom die bestudering van die geskiedenis waarde het.

5) Vergelyk dit met die tweede lys hieronder wat handel oor die gesindhede en vaardighede wat leerders kan verkry deur die bestudering van die geskiedenis vanuit 'n Christelike perspektief.

6) Vul die laasgenoemde lys aan met u en die klasgroepe se bevindinge.

Eerste lys: Vyftien redes vir die bestudering van die geskiedenis.

1) Die bestudering van die Geskiedenis is 'n noodsaaklike deel van ons kultuurerfenis.

2) Geskiedenis ontwikkel 'n wye reeks vaardighede soos begrip, analise, sintese en die vermoë tot ekstrapolasie.

3) In die Geskiedenis kom idees en begrippe ter sprake wat elke leerder moet verstaan, byvoorbeeld Marxisme, revolusie en imperialisme.

4) Die geskiedenis bevat uitstaande werke van letterkundige gehalte.

5) Geskiedenis berei leerlinge voor op wêreldburgerskap.

6) Geskiedenis dra by tot die gees en etos van die skool.

7) Die geskiedenis help ons die plaaslike omgewing se ontwikkeling verstaan.

8) Geskiedenis verskaf werk aan geskiedenisonderwysers en studente wat Geskiedenis op universiteit bestudeer het.

9) Geskiedenis is 'n unieke vakgebied waarin die verlede bevra word op 'n wyse waaraan elke leerder behoort deel te neem.

10) Kennis van die geskiedenis help mense om die lewe beter te hanteer.

11) Geskiedenisonderrig help leerders om hul taalgebruik te verbeter.

12) Die geskiedenisklas kweek empatie - die vermoë om te verstaan hoe andere dink en voel en hul rol in die samelewing sien.

13) Die geskiedenisklas maak van leerders lojale burgers.

14) Besoeke aan museums is 'n sinvolle vorm van vryetydsbesteding.

15) Kennis van die geskiedenis bind die samelewing.

Tweede lys: Gesindhede en vaardighede wat deur 'n bestudering van die geskiedenis gekweek kan word.

• "Through a study of history students will interpret with Christian perspective and respond with Christian values to the process of cultural formation, both past and present.

• Through a study of history students will appreciate the cultural heritage in which God has placed them.

• Through a study of history and cultural studies students will appreciate the sovereign mercy and working of God as revealed and demonstrated in his redemptive plan for history.

• Through a study of history students will be able to discern cause and effect in relation to the events of history and thereby become more skilled in avoiding the errors and failures of the past.

• Through a study of history students will see evidence of God's constancy and faithfulness and thus develop confidence in the midst of a rapidly changing world.

• Through a study of history students will develop a conviction of God's divine control of all things, and thus strengthen their confidence in the wisdom and goodness of God's unfolding plan for their personal lives.

• Through a study of history students will develop a proper toleration for those who have followed God with the light they had.

• Through a study of history students will develop patience and a willingness to let God execute justice as they observe that truth and righteousness do triumph and that error and unrighteousness are eventually destroyed.

• Through a study of history students will develop a more objective, less provincial view of human events, i.e. a broader framework of providential purpose in history.

• Through a study of history students will be encouraged to face the future with confidence, making right choices for personal living, knowing the ultimate destiny of history and the One in control of that destiny.

• Through a study of history students will be challenged to emulate God's character as revealed in history including his righteousness, justice and compassion toward man.

• Through a study of history students will be challenged to become responsible citizens of their nations and active in the affairs of society that God's kingdom of shalom, justice and righteousness might be established on earth."

(Hay 1997)

Einde van aktiwiteit

Aktiwiteit 14

Geskiedenisonderrig kan vanuit Christelike perspektief by tieners se behoefte aansluit om:

• die wêreld waarin hul leef te verstaan.

• 'n eie identiteit te vestig deur kennis van mense van verskillende tye en plekke.

• verandering en kontinuïteit in menslike aangeleenthede te verstaan.

• belangstellings vir vryetydsbesteding te vind.

• kritiese denke te ontwikkel.

• waarde-oordele oor menslike gebeure te kan maak

Dui aan hoe u hierby vanuit 'n Christelike perspektief by die leerplan van 'n bepaalde graadgroep sal aansluit in u onderrig.

Einde van aktiwiteit

Aktiwiteit 15

Beoordeel een van die leerplanne vir geskiedenis krities ten opsigte van die moontlikheid om dit vanuit 'n Christelike perspektief te onderrig. Stel moontlike veranderinge en aanpassings/aanvulling vanuit 'n Christelike perspektief voor wat u beoog om in u eie onderrig te implementeer.

Einde van aktiwiteit

Ten slotte spreek ons graag die hoop uit dat u eie aktiewe deelname aan u skoling vir Christelike vakonderrig in Geskiedenis vir u van groot nut was.

BRONNELYS

Dooyeweerd, H. 1963. Vernieuwing en bezinning om het reformatorisch grondmotief. Zutphen: J.B. van den Brink.

Dooyeweerd, H. 1968. In the twilight of Western thought. Nutley, NJ: Craig Press.

Dreckmeyr, T. 1997. Towards Christ-centred education. Pretoria: CcE Books.

Fowler, S. 1980. Issues in the philosophy of education. Potchefstroom: PU for CHE.

Fowler, S. 1987. Christian educational distinctives. Potchefstroom: PU for CHE.

Fowler, S. ed. 1990. Christian schooling: education for freedom. Potchefstroom: PU for CHE.

Hay, J. 1997. Raising up the foundations. A model, seminar and resources for developing a Biblically integrated school curriculum. Presented at Hatfield Christian School, Pretoria.

Nichol, J. 1984. Teaching history. A teaching skills workbook. Houndmills: Macmillan Education.

Ouweneel, W.J. 1997. Wijs met de wetenschap. Heerenveen: Barnabas.

Popma, K.J. 1945. Calvinistische geschiedenis-beschouwing. Franeker: T Wever.

Rushdoony,R.J. 1979. The Biblical philosophy of history. Phillipsburg, N.J.: Presbyterian and Reformed Publishing Company.

Stoker, H.G. 1941. Die stryd om die ordes. Pretoria: Calvyn Jubileum Boekefonds.

Stoker, P.H. & Gerber, J.M. red. 1997. Voed hulle op. Bloemfontein: VCHO.

Strauss, D.F.M. 1969. Wysbegeerte en vakwetenskap. Bloemfontein: Sacum.

Strauss, D.F.M. 1998. Die postmodernisme - metodologiese oorwegings. Tydskrif vir Christelike Wetenskap (spesiale uitgawe): 13-33.

Swanstrom, R. 1978. History in the making. An introduction to the study of the past. Downers Grove, Ill: Intervarsity Press.

Van Niekerk, E.J. 1998. Die relevansie van 'n Christelike tydsbeskouing vir die onderrig van Geskiedenis op skool. Tydskrif vir Christelike Wetenskap, 34(3&4): 19-33.

Van Til, H.R. 1972. The Calvinist concept of culture. Philadelphia, Penn: The Presbyterian and Reformed Publishing Company.